Ja, Pretoria kan Kaapstad se standaard behaal

Deur Cilliers Brink

(Foto verskaf deur die DA)

Baie mense vra my waarom Pretoria nog nie Kaapstad is nie. Ons het mos ʼn DA-burgemeester. Trouens, ons het al ʼn paar DA-burgemeesters gehad. Dis dalk die eerste belangrike verskil tussen Kaapstad en Pretoria. Anders as in Kaapstad, is die ANC in Pretoria nooit vervang deur ʼn sterk meerderheidsparty nie.

Hier in Pretoria, soos in elke metro buite Kaapstad, moet ons deur koalisies regeer. Tot onlangs het ons koalisie, toe nog bestaande uit die DA, die VF-Plus, die ACDP, en Cope nie eens ʼn meerderheid in die stadsraad gehad nie. Ons moes met die ANC of die EFF onderhandel om begrotings deur te voer, en senior amptenare aan te stel, te ondersoek, en te ontslaan.

In die Wes-Kaap is die ANC-buffel gedood. In Gauteng het ons hom nog net gekwes. En hy gaffel ons nog steeds. Ná dekades se kaderontplooiing het ingeboude netwerke van korrupsie in die Tshwane-metro ontstaan, iets wat Helen Zille in 2006 in Kaapstad in die kiem kon smoor. Anders as die netwerke van ander politieke partye, sluit die ANC se kadernetwerk natuurlik amptenare en diensverskaffers (tenderpreneurs) in.

Die kadernetwerk word gerugsteun deur die Gautengse provinsiale regering onder premier Panyaza Lesufi. Dis hierdie provinsiale regering wat in 2020 die koalisiebeheerde stadsraad ontbind het. Vir sewe maande lank, in die middel van die Covid-19-grendelstaat, het die ANC die Tshwane-metro sonder verkiesingsmandaat regeer. Ons betaal nou nog af aan die R4,3 miljard-begroting wat in hierdie tyd opgehoop het.

Natuurlik het die DA en ander koalisiepartye foute gemaak. Die vraag is egter: Wat het ons daaruit geleer? En: Het ons die vermoë om iets te bou wat wesenlik anders is as die ANC? Dis my lewensdoel om hierdie vrae in die positiewe te beantwoord: ja, ons kan, en ja, dit sal anders wees as die ANC.

Ek is liewer vir Pretoria as die Kaap, iets wat ek besef het in my vier jaar as parlementslid. Maar Kaapstad is ongetwyfeld die goudstandaard van goeie regering. As ons ʼn plek nodig het om na te mik in terme van dienste en infrastruktuur, dan is dit Kaapstad. Pretoria kan wel die Kaapstadstandaard behaal, al is dit moeilik.

Ons moet twee goed doen. Die ANC-buffel in Gauteng moet, polities gesproke, gedood word. Dis nie genoeg om hom weer te kwes nie. Maar om die ANC te vervang is ook nie genoeg nie. Die koalisieregerings wat die ANC vervang moet ʼn duidelike idee hê van wat ons sal verander, en die waagmoed om hierdie veranderings deur te voer.

Hier in Pretoria het ons koalisie drie prioriteite. Eerstens moet ons waarde skep vir belastingbetalers se geld. Dit behels, onder andere, dat almal wat kan betaal moet betaal. Kredietbeheer word geleidelik uitgerol, van Waterkloof tot Mamelodi. Ons verkrygingsbeleid is hersien om strawwe rasgebaseerde eienaarskap vereistes uit te sluit.

Tweedens wil ons die stad so onafhanklik as moontlik van Eskom maak. Beurtkrag rig enorme skade aan ons kragnetwerk aan, om nie van die plaaslike ekonomie te praat nie. Daarom het ons reeds stappe gedoen om kragstasies in Rooiwal en Pretoria-Wes so vinnig moontlik in private hande te kry. Werk word ook gedoen om krag by inwoners aan te koop.

Derdens poog ons om die maksimum produktiwiteit uit ons kontrakteurs en werksmag kry om dienslewering te verbeter. In 2023 het dit ons genoop om nie salarisverhogings te betaal nie. Dit het ʼn gewelddadige staking ontketen. Maar dit was ook ʼn kultuurveranderende oomblik.

Maar in regering tel organisasie en bestuur net soveel as beleid. Sewe van ons agt nuwe topbestuurders is van buite die stad gewerf, insluitend ʼn nuwe hoof van metropolisie, en die stadskas. Die nuwe besems gaan nie oornag alles skoonvee nie, maar ons is darem nie meer uitgelewer aan die genade van ʼn kaderklas nie.

Hierdie is die punt. Die ANC sou nooit hierdie besluite geneem het nie. Dit skaaf teen die party se ideologiese grein. En juis daarom is daar hoop. Ons doen dinge anders. Ons sien die wêreld op ʼn ander manier. Ons werk hard, nie vir ons eie beursies nie, maar om ʼn toekoms te bou hier in Pretoria wat eendag selfs die Kaapstad-standaard kan oortref.

  • Cilliers Brink is burgermeester van Pretoria.

Hierdie is ‘n betaalde promosieartikel deur die Demokratiese Alliansie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.