Kaptein en die muishond

Argieffoto

Iewers ná die winter van ‘75 stuur die Weermag ʼn klompie van ons na die Bosveld. Ek kan nie meer alles so presies onthou nie maar ek weet ons was in Dendron en All Days en Thabazimbi – so al teen die grens af. Ons bly so twee-twee by boere op hulle plase en bou verhoudings en maak mense hoop. Ek dink dit was die gestoeltes se bedoelentheid.

In ieder geval beland ek en Oij op ʼn plaas daar in Ellisras se omgewing – het nou nog die foto’s van Oij in ʼn hoogsit. Dis lekker en die oom en antie is gaaf en ons troepies geniet die “civvie” lewe van bosveldboere. Vroeg opstaan en koffie drink en dan die bosse in om na een of ander windpomp of drinkkrip te gaan kyk. Een aand vra die oom hier teen negeuur se kant of ons manne lus is vir springhaas-jag. Miskien het Oij iets daarvan geweet maar ek kom uit die Olifantsrivier se vallei en ons eet rosyntjies en drink wyn. In ieder geval, so klim ons in volle “browns”-uniforms in die oom se Datsun-bakkie en vaar die vlaktes in. Dis nou ek en Oij en ʼn hele span plaasmanne en nog ander troepies van die omliggende plase.

Ek glo vandag is dit onheilig maar dit was lekker. Ons hol deur bosse en val in erdvarkgate en elke nou en dan tuimel-rol ene omdat die omgewing vol van springhaas gate is. Maar die springhase sneuwel so een na die ander onder die geval van knopkieries en die harde punte van ons army-stewels. Later is daar ʼn hele hoop springhase op die agterkant van die bakkie – toe kry ons die stink-muishond. Ek glo die oom was onnutsig want net daar skreeu hy ons moet die muishond bydam en ek merk op hy draai die Datsun se ruite toe. Ons lot omsingel die muishond en toe Ta sien hier kom nou moeilikheid, los hy so ʼn rookwolk wat ons almal oorrompel en ons struikel hygend daar weg.

Toe ons daai nag tuiskom stink ek en Oij so dat ons nie kan slaap nie. Ons skrop ons klere later met Dettol en neem man-man twee of drie stortbaddens maar stink, stink ons. Na ʼn paar dae gaat dit darem beter.

Ons is weer terug na Voortrekkerhoogte en ʼn paar maande gaan rustig verby totdat ons eendag ʼn groot parade het by die lugmagbasis in Voortrekkerhoogte. Micky Mouse is die dag weer op sy pas as parade sersant-majoor en hy vat geen twak van ʼn troep nie. Ons oop-orde mars mooi en die bevelvoerder, ek verbeel my dit was kol. Antonie Roux, tesame met Mickey Mouse vat die linies ry vir ry. Saam met hulle kom “Kaptein”. So ʼn groot bruin hond van ongekende herkoms maar netjies aan ʼn leiband en mooi gehoorsaam want hy is die gelukbringer van die basis, kompleet met sy hanteerder.

Kaptein kom mooi in gelid met die kolonel totdat hulle so vyf treë van my af kom, toe kry hy spoed. Hy begin rem aan sy leiband en die arme korporaal wat hom begelei moet net vasstaan of Kaptein pluk hom van sy voete af. Tot by my kom Kaptein en toe begin beruik hy my stewels en broekspype van onder af boontoe. Toe gaat hy weer af ondertoe en sonder omhaal begin rol hy op my stewels. Ek staan natuurlik verstar op aandag en Micky Mouse kom aangestorm. Ek strek my volle 1,87 m vol uit en staar strak voor my uit met ʼn uitdrukkinglose tuur. Micky Mouse bekyk my van hoek tot kant maar merk geen onraad nie. Hy beloer my stewels, maar hulle is glinsterswart. Toe begin die geruk en gepluk om Kaptein daar weg te kry. Eindelik ten laaste is die span vort en ek kon so ietwat ontspan.

Was heel dankbaar dat Micky Mouse se reuksin nie wat wonders is nie, maar ek en Kaptein ken die waarheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Oudste ·

Lag ek my diafragma so stil dat my generaal dink ek kry ‘n toeval. Sien so voor my geestesoog vir Micky Mouse op jou afstorm. Gewoonlik het die waarheid geen af geurtjie nie, maar hier deel net jy en Kaptein daardie waarheid. Dankie vir jou verhale.

Oud Korporaal ·

Lag ek my amper ‘n vraagteken. Baie goeie storie.

JAN ·

Oe wat ń vreugde. Koos is geboek vir nog baie ‘ware verhale’.
Ons het dit soooo nodig! Xx

Ella ·

Ai ek kry skoon heimwee. My man was deel van daardie tye. Het selde oor sy wedervarings gepraat, so dankie Koos nou weet ek ook.

JAN ·

Pa vertel van die maer outjie met die grootste
nuwe boetste wie die haas in die kar se ligte wou doodskop. ‘Wag wag manne gee my ‘n kans !!”
Toe skop hy mis en slaan agteroor bollemaikiesie tot op sy agterkop en skeur sy hamstringe – blou van sy kuite tot kruis.

JAN ·

vergewe moederator.
Jakkal jag met honde is baie soos in die UK.
Maar die boer se beste hond is toevallig op die groot dag op heat.
Later na ‘n paar KWV’s reken die ou met die vêrkyker so ewe droog : ” Die jakkals lê nou derde!”

Adele ·

Dis so lekker om my dag so te begin by die werk. Kan my dit net alles voorstel. Baie dankie vir die lekker lag!!

Wally ·

Een aand in 1974 op die artillerie-skietbaan in Potch spring die bombardier uit die (nog bewegende) Landrover om ‘n springhaas met sy stewel by te kom. Maar ongelukkig vir hom sien hy toe nie die krater waar die lugmag ‘n bom laat val het nie…volgende wat ons hoor is ‘n benoude: “Help”. Daar uit die gat.

Ons het lekker gelag.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.