Kenmerke van slagoffers – die persoon en die gemeenskap

(Foto: pixabay)

Ons ken almal so ’n gesin. Soms is ons deel van dáárdie gesin. Soms is ons selfs daardie persoon.

Om ’n slagoffer in ’n verhouding of gesin te wees, is emosioneel, fisiek en geestelik uitputtend. Ons begin om die slagofferrol in te neem net om te oorleef en so word ons hele lewe daarvolgens gerig. Ons voel as’t ware dat ons in ’n tronk is, toegespin in ’n web met geen heenkome of uitkoms nie. Ons hele bestaan en denke word rondom hierdie identiteit wat ons aangeneem het of dalk op ons afgedwing is, gevorm.

Volgens A2B Transformation het ’n slagoffer bepaalde kenmerke ten opsigte van emosionele belewenisse. ’n Paar hiervan is, onder meer, baie gekompliseerde emosies, senuweeagtigheid, angstigheid, pessimisme, depressie en dikwels ook suspisies.

’n Slagoffer verkwalik dikwels ander vir die omstandighede en toon min egokragte om self uit die vernietigende omstandighede te ontsnap. Dit kan selfs lyk of die persoon die rol van martelaar in geneem het.

’n Slagoffer neem dikwels een van die volgende drie karakters aan, wat die slagofferdriehoek genoem word – die Jannie Jammergat, die Kritikus en die Redder.

Die Jannie (of Sannie) Jammergat-slagoffer tree dikwels kinderlik pateties op en die voortdurende ellende van die persoon moet deur almal erken word. Die persoon voel altyd onbevoeg, maar is tog baie selfgerig en egogesentreerd. Hierdie persoon se selfbejammering is dikwels so emosioneel uitdagend dat mense die persoon begin vermy.

Die Kritikus-slagoffer se rol is dikwels verwarrend. Die persoon lyk in beheer van omstandighede, maar probeer sy ware gevoelens agter die skerm van kritisering, verwyt, verkleinering van ander, weg te steek. Die persoon kom as onvriendelik voor, en is geneig om mense te kwes. Hierdie persoon kan dikwels as hard en ongenaakbaar beskryf word, maar is eintlik onseker van hom-/haarself.

Die Redder-slagoffer, word dikwels beskryf as die persoon met ’n “hart vir ander”. Hierdie persoon doen dikwels iets vir ander om self beter te voel. Dit is gewoonlik die persoon wat almal “wil red”. Dis die “vredemaker” ten spyte van sy eie behoeftes en doelwitte in die lewe. Hierdie persoon doen dikwels al hierdie goeie dade om konstante waardering van ander te verkry en kan as ’n aandag-soeker beskryf word.

Dr. Elsha Hermann. (Foto: Verskaf.)

Slagoffer-eienskappe in die gemeenskap

Ons almal kies ’n bepaalde gemeenskap waarin ons leef en werk. Hierdie gemeenskap toon sekere eienskappe wat jou as mens definieer en waarbinne jy jouself kan uitleef.

Is jou gemeenskap dalk ’n gemeenskap wat slagoffereienskappe toon?

Leef jy in ’n gemeenskap van voortdurende “ellende en selfbejammering” toon? ’n Gemeenskap wat net gerig is op sy eie probleme en krisisse, maar wat nooit bevoeg voel om hierdie probleme en krisisse op te los nie?

Of leef jy in ’n gemeenskap wat die “al ewige kritikus” is van omstandighede, dienste en leefruimtes? Wat altyd blameer, wat ander gemeenskappe en mense beoordeel, eise stel en verkleineer. Wat verwaand is en haat versprei. Wat onverdraagsaam is teenoor ander gemeenskappe, wat behoorlik nie die lig op ander gemeenskappe laat skyn nie. Leef jy in ’n gemeenskap wat neersien op ander gemeenskappe?

Of is jy die gemeenskap wat as “redder” van almal wil optree. Het jou gemeenskap die “hart vir ander”, maar ontneem daardeur die mag van ander gemeenskappe/mense om self te dink en te doen? Doen jou gemeenskap dinge om erkenning en konstante waardering van “ander” te kry? Ons kan hierdie soort gemeenskappe ook die vredemakers of “goeie” polisiemanne noem – tot nadeel hulself.

In watter soort gemeenskap leef jy? En wil jy toelaat dat jou gemeenskap dinge uit ’n slagoffermentaliteit doen? Om nie ’n slagoffergemeenskap te wees nie, moet ons die volgende kan erken: ons gemeenskappe het baie trauma ervaar, maar ons kan nie in die trauma bly leef nie. Ons moet dit die hoof bied en die toekoms tegemoet gaan; ons gemeenskappe mag vir hulself dink en self doen; ons mag omgee, maar ons mag nie afhanklik maak nie; ons mag kritiseer, maar ons moet ook positiewe antwoorde bied.

Dit mag in ons gemeenskappe goed gaan en ons mag ’n volhoubare, positiewe en suksesvolle toekoms hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.