Kêrel-mense

Argieffoto (Foto: Alexas_Fotos/Pixabay)

Hier in die Noordweste praat die mens mos van meisie-mense en kêrel-mense. Nou het ek en Nico groot geword in ʼn kêrel-mens-wêreld.

Mamma het vyf broers en hulle was nie mak nie. Spesifiek oom Drikus met sy gehawende Land Rovers en wolfhonde en wilde stories van diamante en kreef en mooi meisie-mense.

Dan was dit pappa en oupa Kosie en groot trekkers en lorries en bulldozers. Die enigste meisie-mens wat regtig ʼn rol gespeel het, was mamma. En sy kon self ʼn barshou slaat. So jaag sy eendag oor die stopstraat vas in die spietkop wat ewige rustig die strate van Vredendal patrolleer met sy blou motorkar. Die arme spietkop sit nog heel verward daar agter die stuur toe is mamma op hom omdat hy so onoplettend is want hy moes mos gesien het sy gaan nie stop by daai stopstraat nie. Ná groot verskonings is hy skoorvoetend daar weg met sy gekweste blou kar en al.

Maar toe loop trou ek doer in die ver land van Natal en die kleinspan kom aan – ʼn hele vier meisie-mense met net een kêreltjie-mens tussenin. Later van jare toe bly Mamma en Nonnie by ons met die Duitser en die vier ooilammers en nog ʼn Nomusa ook. Toe is dit twee teen ag en ons moes maar swyg.

Toe word ek ʼn meisie-mens-pa. My hare word gekam en gekrul en in plaas van die blou overalls en kakieklere moet ek nou Woolworths se sawwe goeters dra. Maar dis lekker om soveel meisie-mense in jou lewe te hê. Laat lê die Duitser die dag links dan loop eet ek by Oumie sommer so lekker eier bo-op die kaiings. En as dit hoe is, dan bak Nonnie vir my ʼn lekker klapperkoek met warm heuning bo-oor of Monika kap daar ʼn lekker pot aanmekaar. So raak ek die meisie-mens-lewe gerus en ek blom van saligheid.

Nou is die span alger getroud en die skoonseuns staan op aandag en braai die vis en vleis en die meisie-mense bederf my want “pa is al oud en sy hande raak seer en bowendien het hy nog ʼn rug ook en hy kan nie meer so goed sien nie” – salig.

Hier oor Krismis kom Duitse swaer vir ons kuier teen die Weskus. Sy bedryf is nou net mooi anders as myne. Hy vat vir hom ʼn “boerin” en sy gooi vir hom vier kêrel-kinders en net een meisie-mensie. Dié is ook getroud met ʼn kêrel doer uit Switserland en die span trek op na die Weskus. Dis sulke lekker groot ramme. Man-man staat hulle bokant die sesvoet en ʼn halwe hoender is sommer ʼn voorkossie. Boerin skoonsus moet net bontstaan en die BMW hol na die Weskus Mall dag vir dag. Maar wat my eintlik laat grinnik het, is die kêrel-kinders se maniere met mekaar.

Daar word nie gekielie en gekam nie; daar word gestoei en geroei en elke nou en dan sommer ʼn vuishou ook uitgedeel. Duitse swaer soek later na ʼn seekoeisambok om die span op hok te hou, maar woel sal hulle woel en geen geskrou of gepleit kry hulle mak nie.

En die bulle praat motorkar. Die Switser kêrel weet te vertel dat sy Italjaanse motor alger se gat kan skop dan vat sy een swaer hom aan en gooi hom plat met die nuwe BMW se spesifikasie. Net daar kap anner swaerie briek en vertel hulle van die nuutste Chevy Camaro of Ford Mustang Shelby – ure aaneen.

En ons braai vleis en geniet die Krismis en praat tot ounag en ek lewe weer in ʼn kêrel-mens se wêreld. Dis lekker.

Ek weet ek is uit die oude doos en ek weet dis polities verkeerd om so te praat, veral in uitgeleerdes se omtes. In my voorjare het hulle mos al gesing van “Boys wil be girls and girls will be boys” en toe sommer bygevoeg: “It’s a mixed-up world”. Maar eintlik dink ek hulle moes gesing het: “it’s a messed-up world”.

My meisie-mens-wêreld is teenaan my hart. Maar ek hou ook van swaer se kêrel-mens-wêreld. Ieder het sy plek en laat mens grinnik van lekkerkry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Steffi ·

Ag pappa skryf mooi. Kan nie wag om oor ‘n maand vir pa nog ‘n wilde meisie-mens by die mengsel te voeg nie ❤️

Nico Greeff ·

Ek is met daai Duitser se suster getroud streng en korrek, sy het 2 dogters en 2 seuns gegooi, 11 kleinkinders later, vrugbaar, slim en sporttief , Nico

Stephan de S ·

Ek lees te lekker aan al julle Greeff en Duitser stories. Moet asb nie ophou nie. Afrikaners en Duitsers is mos familie-mense…..dis onse mense!Ek kan so duidelik die prentjie sien van Nico se Duitser (of Duister soos my pa sou sê)wat hom streng “reghou”.

Bloues ·

Lekker gelees dankie Koos.
Volpunte vir die foto saam met hierdie artikel.
Puik

Hollander ·

Ek het nou lekker gelees aan jou voelgoed-storie. Moenie ophou skryf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.