Kerke in die bokskryt

Foto: Bogdan Yukhymchuk/Unsplash

Deur David Muller

Ek hou nie daarvan om met mense te stry of baklei nie. Ek hou van vrede. Wanneer dit egter noodsaaklik is om my stem so bietjie dik te maak, wil ek dit in Afrikaans doen. Ek kan nie in Engels kwaad wees nie. Die waarheid is, my taal laat my veilig voel. Dit maak my mens. As ek buite die gemak van my eie taal móét beweeg, gebeur dit buite wie ek regtig is. Of kan wees. Of wíl wees.

Behalwe dat ek myself in Afrikaans uitdruk, doen ek dit ook op ʼn spesifieke manier – die Afrikaner manier. Dit is my kultuur. In ons land beleef ons ʼn skatkis vol kulturele diversiteit. Hierdie diversiteit is iets wat Suid-Afrika, op ʼn positiewe wyse, van baie ander lande onderskei. Dit is ook waar dat hierdie diversiteit ʼn paar uitdagings aan die burgers van Suid-Afrika bied.

Die interessante is dat ons op ʼn natuurlike, amper onwetende manier, weerstand bied teen hierdie soort uitdagings. Ons doen dit deur ʼn proses wat ek noem “versoortiging” – die groepering van, en uitsluiting deur ons dam se eie ganse. Ons trek laer. ʼn Afrikaanse laer vir wit Afrikaners. ʼn Afrikaanse laer vir bruin Afrikaners. ʼn Xhosa-laer van Xhosas. So kan ons aangaan.

Hierdie laers word gekonstitueer deur twee bepalers: taal en kultuur. Maar daar is ʼn derde bepaler, naamlik godsdiens.

Hierdie bepaler skep ongelukkig, selfs tussen die ganse van dieselfde dam, baie probleme, seer en frustrasie. Die hartseer realiteit is dat godsdiens oor die algemeen op hierdie stadium begin modder trap – wêreldwyd. Vir baie lank was die gonswoord “postkerklikheid”, maar ek vermoed ons trek nou al by “post-Christelikheid”.

Daar is soveel polemiek in die kerk, dat duisende mense in Suid-Afrika in die afgelope paar jaar die kerk verlaat het. Sosiale media en boekwinkels is vol skrywes van mense wat hul seer, frustrasie en agterdog oor die kerk deel. Dit is ontstellend om die minste te sê. Tog sit ek nie op die kantlyn nie. Ook ék het my frustrasies en bekommernisse oor die kerk.

Hierdie bekommernis dryf mens tot kritiese vrae en denke oor geloof, godsdiens en die kerk. Een van my grootste vrae is: Hoekom het die kerk ʼn bokskryt geword? Hoekom is dit so dat diegene in die bokskryt dieselfde taal praat en dieselfde kultuur het? Is hulle nie juis veronderstel om saam te staan en ook hier laer te trek nie?

Ek herinner myself aan geloofservarings wat ek al gehad het tussen mense wat nie soos ek is nie… ganse van ʼn ander dam. Dit was ervarings van eensgesindheid ten spyte van diversiteit. Ek het al in Bangladesj ʼn lof- en aanbiddingsgeleentheid bygewoon waar ek nie kop of stert kon uitmaak van wat gesing word nie, maar dit het nie saak gemaak nie – ons het almal saamgestem. In Worcester het ek ʼn soortgelyke byeenkoms by YWAM (Youth With A Mission) bygewoon. Daar was vreemde mense van vreemde lande, wat op vreemde maniere gepraat het, maar die eenheid was onmisbaar. Om die waarheid te sê, dit was goddelik.

David Muller. Foto: Verskaf.

Hoekom ervaar ʼn mens juis die gevoel van eenheid in diversiteit? Is dit nie dalk noemenswaardig dat die kerk se wortels, met die uitstorting van die Gees, in diversiteit lê nie?

Hoe sou ons land, gesinne, kerke en ons anders gewees het as godsdiens en geloof nie as ʼn meganisme van laertrek soos taal en kultuur ingespan word nie?

My vermoede is dat kerke aanhoudend sal verklein en al hoe meer oorlewend sal begin funksioneer indien kerke nie uit die laer van eenderse ganse klim, diversiteit soek en dit omarm nie.

Geloof of godsdiens kan nie langer soos taal en kultuur gebruik word om laer te trek nie, tensy dit aanvaarbaar is dat die kerk (as gevolg daarvan) in die bokskryt boer.

  • David Muller is ’n teoloog, sanger, skrywer en fotograaf. Baie het hom leer ken as die “singende dominee”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

38 Kommentare

jongste oudste gewildste
Db

Eintlik sê hierdie man niks

Frans C

Die wetenskap het die kerk ingehaal en verbygesteek tov die ontstaan van die heelal en alles wat daarin is.Dit is om die rede dat ‘n jong seun tydens my tydperk as Sondagskoolonderwyser een Sondag gesê het dat hy liewer saam met sy pa (‘n diaken) sou gaan golf speel as om te luister,na ‘n 6 dae skepping en 6000 jaar oue aarde,wat lynreg bots met dit wat hy op skool leer. Daar is talle voormalige Christene wat dieselfde paaidjie geloop het.Toe die Katolieke kerk in 2004 ‘n verklaring uitgereik het onder ‘adam-eve-and-evolution’ het die suster kerke van dit weggeskram asof… Lees meer »

Nico K

Ek dink nie Kerke in die bokskryt is ‘n nuwe ding nie. As jy jou geskiedenis lees was daar nog altyd groot bakleiery tussen Kerke. En ek dink nie as hulle uit hulle kultuur uitklim gaan dit noodwendig verander nie. Min van die bakleiery tussen Afrikaanse Kerke die afgelope 150 jaar het iets te doen met diversiteit. Ek dink elkeen glo bloot hy is reg. (Wat logies is. Mens gaan nie baklei as jy nie glo jy is reg nie.) Die probleem is die Bybel is dik elke ou lees iets anders daarin. En om mee af te sluit. Ek… Lees meer »

Annamarie Olivier

Hoe neem ‘n koerant ‘n besluit om ‘n artikel te plaas?
As dit skok, menings afdruk, of sommer om ‘n gaatjie te vul.
Hierdie is ‘n gaatjie vuller niks meer of minder. David hou aan sing skryf pas jou nie

Wessel

Die stryd in die kerke, is tussen Lig en duisternis, tussen hoofsaaklik, Wedergebore kinders van God, en naam christene wat nog nie ‘n ontmoeting met God gehad het nie. Ongelukkig is baie van die naam christene in kerklike strukture. ‘n Mens verstaan dan dat die Bybel nie meer as die Oppergesag erken word, wanneer sekere vraagstukke hanteer word nie.