Kersfees in Schipluiden

Die Dorpskerk in Schipluiden.

Kerstyd. Vir die meeste is dit die tyd van luilekker piekniek hou langs die water onder ’n wilgeboom, van swem in die see of in die dam, van lê in die warm son, van braaivleis hou, van skaapboud en gebakte aartappels.

Nie hier waar ek my tyd deurbring nie. Vir dié wat nie weet nie, ek woon op die uiterste suidwestelike rand van die pragtige Nederlandse stadjie Delft. Net oorkant die gholfbaan, so 3 km van my huis af, is die skilderagtige dorpie Schipluiden, waar ons kerk staan. Dis waar ek ouderling is. En dis oor Kerstyd in Schipluiden dat ek vandag wil gesels.

Schipluiden is ’n dorpie van net minder as 4 000 siele. Daar is twee kerke, ’n Protestantse en ’n Rooms-Katolieke kerk, en op Sondae is dit in dié relatief konserwatiewe dorp die plekke om te wees.

Die oudste deel van die Dorpskerk (sien foto), waar die Protestante aanbid, dateer uit die 13de eeu, maar het sy huidige vorm in omstreeks 1500 bereik. Binne die kerk sien jy op die vloer die grafstene van gelowiges wat in die verbye eeue oorlede is.

Dit was natuurlik oorspronklik Katoliek, maar die eerste Gereformeerde predikant het die kansel in 1572 bestyg.

Dis ’n pragtige kerk, ryker versier as die meeste ander ou Protestantse kerke. Dit is omdat die beroemdste inwoner van Schipluiden – Otto van Egmond, die Heer van Keenenburg en regterhand van Willem van Oranje – baie geld bestee het om die kerk te verfraai. Dis ’n absolute juweel, en die atmosfeer in dié antieke gebou is eintlik onbeskryflik – jy moet self ’n erediens daar bywoon om dit te kan verstaan.

Dit wil nie sê dat die Schipluidenaars oordrewe konserwatief is nie. Van die dorp word gesê dat dit die plek is waar die Katolieke Protestants en die Protestante Katoliek is. Daar is ’n hartlike samewerking tussen die twee kerke.

Tot 2010 was daar trouens twéé reformatoriese kerke, ’n Hervormde en ’n Gereformeerde kerk. Toe het die mense besluit dis sommer nonsens, en die twee gemeentes het saamgesmelt. Omdat die Gereformeerde kerkgebou eers uit die jare vyftig dateer en geen besondere argitektoniese waarde het nie, is besluit om die pragtige Dorpskerk te behou en die ander te verkoop.

Maar goed, ek wil oor Kerstyd in Schipluiden skryf. Onthou, dis winter; dis k-k-koud. Dit word soggens eers ná agtuur lig, en teen vyfuur smiddags is dit al weer byna pikdonker.

Die dorpenaars (soos trouens elders in die land ook) omskep die plek dan in ’n see van liggies. Deesdae kan jy stringe elektriese liggies koop wat met batterye werk, wat jy dan voor in die straat oor die bome of struike drapeer, op die bruggie oor die kanaal wat dwarsdeur die dorp stroom, in byna elke voorvenster van byna elke huis of winkel. Ongelooflik mooi.

Dis ’n tyd van geselligheid en vrolikheid. Ons het laas Saterdagaand ’n Kersmark op die pleintjie voor die Dorpskerk gehou, waar ’n klomp kraampies was wat allerlei dinge verkoop het, en die lug is verwarm deur verskeie kokers met brandende hout.

Ons het ’n Kerswandeling vir alle kinders (tussen twee en 92) georganiseer. Hulle moes tussen verskeie punte op die dorp loop, waar bejaarde kinders soos ek dan aspekte van die Kersverhaal opgevoer het.

Ek het die rol van ’n skrifgeleerde gespeel wat deur koning Herodes geraadpleeg is oor waar die koningskind dan gebore is. Ek het ’n “boekrol” gehad waaruit ek dan voorgelees het, maar een dogtertjie het my uitgevang – “daar is niks op jou boekrol geskryf nie!” het sy gekraai.

En toe Herodes aan die kinders vra hulle moet hom kom vertel as hulle die kindjie Jesus gevind het, sogenaamd dat hy ook eer aan Hom kan gaan bewys, het ’n ander dogterjie met Downsindroom spontaan woedend teen hom uitgevaar: “Jy is ’n slegte man! Jy wil Jesus doodmaak!” Dit was min of meer die toppunt van die aand.

Toe ons eindelik klaar was, was ek sowat ’n blok ys. Maar toe het ons almal in die kerk bymekaar gekom vir ’n heerlike glasie glühwein en ’n kommetjie warm Hollandse ertjiesoep, terwyl die gemeente se dogters in wit klere en vlerke op die rug ’n engelekoor voorgestel en voor ’n taamlike vol kerk pragtige Kersliedjies gesing het. Só is opnuut beklemtoon dat die kerk ’n sentrale rol in die dorpslewe speel.

By die Kersmark was daar ook mans in Hollandse volksdrag en klompe met sulke lang horings waarop hulle geblaas (en, eerlik gesê, wanklanke voortgebring het). Dis blykbaar ’n ou tradisie wat herleef.

Hoe heerlik tog dat ’n mens jou volkstradisies kan handhaaf sonder dat politieke of ideologiese konnotasies, positief óf negatief, daaraan geheg word! Sondagoggend het almal nog in die kerk daaroor gepraat en saamgestem dat dit ’n yslike sukses was.

Die binnekant van die Dorpskerk.

Tydens die erediens is ons trouens verras met koorsang, onder meer van wyle Koos du Plessis se bekende lied “Somerkersfees”. En ná die lied het dominee Erika van die preekstoel gevra: “En was dit baaie mooi, Leopold?” Waarop ek met ’n duim na bo geantwoord het.

Dis sulke oomblikke dat jy verláng. Maar ek moet sê, die gemeenskap van Schipluiden het hierdie vreemdeling in hul arms gesluit, en ek is dankbaar dat hulle my weer my horison teruggegee het.

Op Kersaand sal die erediens om 22:00 wees. Buite is dit donker, dis yskoud, die wind huil moontlik om die hoeke van die kerk. Maar binne is dit letterlik en figuurlik warm, voor in die koor van die kerk staan ’n ryk versierde Kersboom, die koster het die kerse in die antieke kandelare wat aan die gewelf hang, aangesteek, die dorpsmense is eendragtig saam om te aanbid.

En ná die diens kom almal saam in die splinternuwe kerksaal, bekend as Het Baken, om oor ’n glasie glühwein of ’n koppie koffie te gesels.

Dis natuurlik te laat vir die kindertjies. Vir hulle word al om 17:00 ’n spesiale kinderdiens gehou.

En op Kersoggend is dit weer so. Die kerk peul uit van die mense; daar is nie plek vir ’n muis nie. Op só ’n oggend besef jy weer wat die waarde van ’n gemeenskap kan wees. Jy weet: jy is nie alleen nie; jy is nie eensaam nie; die liefde van God gaan soos ’n kleed oor die hele gemeente lê.

Dan wil ’n mens Koos du Plessis se woorde effens aanpas:

Welkom o stille nag van vrede,
Onder die noorderlig,
Wyl stemme uit die verlede
Oor sterrevelde ruis.

Kersfees kom, Kersfees kom –
Gee aan God die eer.
Skenk ons ’n helder Winterkersfees
In hierdie land, o Heer.

Geseënde Kersfees vir almal!

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Krummel ·

Dankie Leopold, baie, baie dankie. Ek het elke woord van hierdie artikeltjie ingedrink. Dit is asof ekself daar was. Sou so graag werklik in liggaam en gees daar wou wees. Waardeer dit, jy is so gelukkig om daardie atmosfeer te kan beleef!!!

Stephan de S ·

Dankie vir die mooi sielvolle beskrywing van jul gemeente-belewenis rondom Kersfees.
Sterkte vir die koue winter .

Kerkie ·

Leopold, baie dankie vir die artikel, ek kon die prentjie in my verbeelding sien, van dit wat rondom hierdie kerkie afspeel . Dit is so mooi geskryf ! Wens ek kon dit beleef. Soos Stephan hierbo skryf “dit is werklik ‘n sielvolle stukkie skryfwerk”. Vreemd, mens kan sommer in iemand se kommentaar beleef dat ‘n mens sielsgenote is.

Johann Jordaan ·

Leopold is daar plek vir my want in ons jongdae was dit altyd die beeld wat ons oor Kersfees gehad het. Lekker en geseende kersfees vir almal.

Paul ·

Dankie Dr Leopold, ek kon nooit dink dat jy my verlange na my eie, my vaderland, so sou aanwakker, daar uit Schipluiden nie. Dit voel asof ek daar in jou omgewing moet gaan woon om terug “huistoe” te verlang.

Paul ·

Graag wens ek jou Op Vlerke (my facebook) kersgroete en Nuwejaar voorspoed toe. Mag die arende jou vriendelik gesind in hierdie onstuimige tye wees.

Christiaan Jooste ·

Dankie vir hierdie bydrae Oom Leopold! My Liefste se oupa aan moederskant was ‘n kind van Delft en het aan die Tegniese Universiteit daar studeer. Hy het indie dertiger jare na SA geïmigreer. Ek self was eenkeer in Delft en my Liefste so bietjie meer. As die geleentheid hom DV weer voordoen om in daardie geweste te kom sal ek graag ‘n besoek aan Schipluiden se Dorpskerk wil bring.

marco polo ·

Dankie Leopold. Ook dankie vir al jou goed nagevorsde artikels deur die jare. By my het die eerste sneeu van die winter ook al geval en die wereld in n sprokiesland verander, maar ek sou veel eerder graag saam met die kinders en kleinkinders by Witsand gaan kamp het en bedags in die son op die strand gele het. Kersgroete vir almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.