Kerstyd vir Afrikaners in die diaspora

Deur prof. Kobus Kok

Kerstyd vir Afrikaners in die diaspora is mis-tyd. Ons dink terug aan warm Desembers. Aan ouma se kersfeeskoek, aan ma se skaapboud en pampoenkoekies, die reuk van die hardehout wat in ons hare en klere intrek. Die Kaapse rooiwyn, die yskoue bier en daardie heerlike middagslapie op ‘n warm Kersdag.

Hier is dit koud en nat en stil. Familie is ver. Jou hart is warm, maar so bietjie seer. Mens voel amper soos ’n ysbeer in Afrika. Iets in jou vel herinner jou in daardie brose momente van die lewe dat jy eintlik van ’n ander plek af kom. In die agtergrond speel Michael Buble se kersliedjies met ’n kaggel wat brand.

Skuins na vier raak dit donker. Vanuit die solder kyk ek uit oor die heuweltjies van Huldenberg se Brabantse Ardenne. Oral sien mens die warm geel kersliggies in die huise se vensters. Dit gaan aan en af, aan en af. Buite ruik dit na gebrande berkehout wat hier en daar uit ’n ou kaggel na jou toe aangerol kom soos ’n bekende vriend.

Die koue Kersfees hier kry sy eie ritme en sy eie mooi. In die donker skyn die warm lig wat jou herinner aan die Lig wat hierdie wêreld kom verlig het. Hier in die donker maak kersliggies sin. Dit getuig van die Lig wat nie deur die duisternis verdryf kon word nie. Dit herinner jou aan die mensdom se potensiaal om vrede en omgee te kan leef. Ons vind hier in die vreemde nuwe familie, en nuwe verhale wat die brug bou tussen ons Afrikaanse erfenis en ons nuwe Europese storie.

Hierdie jaar kom die Belgiese vriende saam by een van ons se huise. Met die kinders is ons meer as twintig mense. ’n Klein kolonie in Huldenberg. Soos dit tipies die gebruik is in Europa, bring almal “hapjes” om te eet. Dis soos ’n vingerete. Sommige meng Franse en Belgiese eetgewoontes met boeregewoontes. So ’n mengsel tussen knuppeldik aan koningskos, Nataniël en die Belg, Roger Van Damme se geregte. Die Afrikaners was nog altyd meesters daarmee om die beste van kulture om hulle mee te neem en op vars kreatiewe maniere te integreer tot ’n nuwe geheel.

Ons is meesters van hibriditeit. Selfs na die Boereoorlog het ons die beste dinge van die Engelse oorgeneem en ons eie gemaak. Dis hoekom ons so ’n rykdom het. Ons is oop-vir-die-lewe-mense. Op die tafel met peuselhappies is daar biltong en droëwors. Een van die dogters het die heerlikste Kerskoek op ouma se resep gebak. Voor die kaggel drink ons Suid-Afrikaanse rooiwyn. My vrou gooi die stomende stroopdik vla oor my kerskoek. In die agtergrond speel sagte kersmusiek en verenig ons saam om die vuur in ons hartstaal en hartskos.

Kerstyd is ’n simboliese heilige tyd. Dis ’n tyd van vrede, van broosheid, van oop wees vir die lewe. In die broosheid van Kersfees soek ons ons mense. Op ons mees brose momente gryp ons terug na ons wortels, na ons taal, na die resepte van ma en ouma. So dra ons nie net ons hartstaal nie, maar ook ons hartskos en stukkies van ons  erfenis oor aan ons derde-kultuur kinders. Dit is ’n term wat gebruik word om die tussen-in-kultuur te beskryf van mense wat deels hier en deels daar in die middel beweeg. Dis ook hoe die Jode oor die eeue heen kontinuiteit in hulle identiteit en verhaal behou het. Deur kos, rituele en taal.

Dis ook hoe ons as Afrikaners in die diaspora die mooiste van ons erfenis en menswees aan die volgende generasie oordra. En hoop dat hulle dit sal meeneem in die toekoms in hulle hibriede derde-kultuur identiteit. Minstens vir so lank ons leef, sal die speserye van lamsboud, biltong, kerskoeke, vla, kaneel en rooibos die kerslug in die vreemde met Afrikaanse geure vul.

  • Kobus Kok is professor in Nuwe Testamentiese Studies aan die Evangelische Theologische Faculteit Leuven in België en Buitengewone Professor aan die Universiteit van Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.