Kleintyd was seerkrytyd

Argieffoto (Foto: sasint, Pixabay)

Hoe ouer ʼn mens raak, hoe meer dink jy terug en verlang na vervloë dae toe sorgelose kaalvoeters die wêreld plat gespeel het. Daardie dae toe ons met ons hele lywe kon spéél en nie net met duime wat dag en nag knoppies druk nie!

Een van ons grootste lewensvreugdes is dat ons baie kleinkinders spelende woelwaters is wat vol lewenslus kan speel tot hulle gô uit is. En vanaand as oupa stories vertel of ouma stories lees, dop hulle een vir een om op ons skote. Ja, ʼn spelende kind is ʼn gelukkige kind, maar so al spelend kry hulle dikwels seer. Die bloed loop, dis bloukolle en swelsels en snaaks, as jy begin oud word, is kleintyd se seerkry iets wat jy amper met so ʼn soort van heimwee in herinnering oproep. So ‘n heerlike stuk nostalgie waarin ‘n mens jou verkneukel. Ek wonder of dit net ek is wat so voel.

Ek sukkel om aan die skryf te raak want dis asof jy nie weet waar om te begin nie. Wat meer is, is dat die herinnering daaraan so ʼn soort bekoring inhou en jy sit net en onthou. Jy kom net nie by skryf uit nie. Dis lank gelede se pyne en seerkry en ʼn mens sou dink dat jy dit vir altyd sou wou vergeet maar, nee, dis tog nie so nie. Dit bly onlosmaaklik deel van die lewe wat jou destyds dalk laat huil het, maar vandag kan ʼn mens agteroor sit, die oë toemaak en glimlaggend, skaterlaggend terugdink aan toeka se dae se seerkry.

Voordat ek aan hierdie storie begin skryf het, vra ek vir een van my amper lewenslange vriende of hy sy kleintyd se seerkry kan onthou. Terwyl hy glimlaggend, kopskuddend deur sy tande fluit, hoor ek: “Bobbie,” (dis soos ons mekaar al orie vyftig jaar noem), “laat ek jou wys!” en toe wys hy my die littekens aan sy bene. Hy vertel hoe hy en sy broers op hulle fietse reisies gejaag het. Hy sê: “Man, jy weet mos hoe’t ons gejaag! Jy lê mos laag sodat die wind jou nie terughou nie! Jy kyk nie doer ver nie, jy weet mos die pad is oop! “Ja!” seg ek in afwagting. “Man, die draadhek wat altyd oop was, was daai dag toe! Ek weet nou nog nie of ek oor die hek of deur die hek getrek het nie, maar ek weet die doringdraad het my goed bygekom! Maar kyk, hier lê die merke!” en hy vryf half trots, liefderik oor die littekens.

Ek wonder of jy ook nog onthou … Al die verskillende seerkrye.

Waar anders kan ʼn mens begin as by die kere toe ons om ʼn wye verskeidenheid redes bitter hard geval het. Ek praat nie van die valle toe ons as babas met ons eerste treetjies gewaggel het en toe neergeslaan het nie. Net ma’s onthou dit. Ek praat van die valle wat diep, onuitwisbaar in jou herinneringe ingraveer is.

Ek onthou die kere toe ek vorentoe geval het en die gruis en klippertjies my handpalmvelle geskeur en laat opkrul het, en die gruis dan onder die velle uitgekrap moes word … Daar was die elmboë, onderarms, knieë en selfs neuse en voorkoppe wat deurgeloop het … Soms net skaafmerke maar baie kere diep en die bloed wat geloop het en dan kom dit by die skoonmaakslag. En asof daardie pyn nie erg genoeg was nie, kom Ma met die Turlington of Friar’s Balsam en dan brand hulle vir jou dat jy jou bietjie vir bietjie wou natmaak!

Ag, en dan was daar die kere toe ons uit bome uitgeval het, van dakke en goed afgeval en soms deur goed geval het en ander kere weer op goed te lande gekom het. Ek onthou so goed toe ek op die asbesdak geklim het om vir ʼn meisie wat vir my baie mooi was, perskes te pluk. Toe ek so vat-vat aan die perske, toe breek ʼn stuk van die dakplaat af en ek dons dwarsdeur die perskeboom grond toe sonder ʼn enkele perske en my broek wat amper van my bas afgeskeur het.

Ek onthou nog die skoppe, stampe en verstuitings! Die kneusings en blou knoppe ná stampe! Daai maermerrie met ʼn knop soos ʼn jong renosterhorinkie of die knop soos ʼn halwe ghoen, iewers op jou kop. My ou knoptoon herinner my aan die dag toe die melkkoei hom afgetrap het en vandag is hy een van my twee jigbroeiplekke. Waar’s die dae toe jy jou toonkoppe se velle laat af- of omdop het as jy ʼn klip of ding raakgeskop het. By die huis het moederlief die vel met ʼn sker afgeknip en met Friars Balsam gedokter en met ʼn oulakenstrokie verbind. En die mirrisyne het die witte waks uit jou uitgebrand! En dan was daar die keelafgesnyde kleintoontjie as ʼn stoelpoot of boomwortel in die pad was en jy dan van pyn rondgedans het

En daar was die pynigings van dorings van alle soorte. Die ou papierdorinkies was niks, want jou dik voetsole was bestand teen hulle, maar ek onthou die brandpyn van duwweltjies. As jy met net een voet in die goed beland, was daar uitkoms, maar behoede jou as jy met beide voete in die duwweltjienes beland het. ʼn Mens moes maar uithou tot jy weer op ʼn plek kon kom waar jy op jou sitvlak kon sit en dorings uittrek. Oe, en die skaapduwweltjie was nog erger! Amper net so erg was dit om met haak-en-steek deurmekaar te raak want as jy een doring loshaak, het twee ander jou bygekom. Sekelbosdorings stuur vandag nog rillings deur my lyf! Behalwe dat die goed vasgesuig het, het die storie geloop dat die doring “loop”, later jou are binnedring en dan was dit reguit hart toe! Ag, en dan was daar die pyniging om dorings uit te haal – eintlik uit te grawe! Dun naalde, stopnaalde en skerpbektangetjies was die “gereedskap” en dit het gesorg vir bittere pyniging en as jy wegruk, ruk jy in die naald in. Waar die voetsole te dik was om die doring by te kom, is die sool lagie vir lagie met ʼn Minora-skeermeslem dunner gekerf, totdat die doring bereik kon word. En as die doring bly sit, is ʼn Sunlightseep-en-suiker-trekpleister opgeplak wat dan sou help dat die doring uitsweer.

As my pa met beeste gewerk het, het hy altyd ʼn sweep by hom gehad. Om ʼn sweep te laat klap, was my grootste begeerte. Pa het my gewys en ek moes oefen, maar min het ek geweet met watse pyn dit gepaard sou gaan. ʼn Voorslag het mos ʼn nare gewoonte om jou by te kom, sonder dat jy dit verwag. Jy dag nog dat jy hom gaan hoor klap en dan raps hy jou op die kuit, binneboud, tussen jou blaaie of agter die oor. Maar die dag as jy dit regkry, is die pyn vergete en jy laat klap hom oor en oor in die lug of op die grond en jy kraai van lekkerkry.

Om deur doringdraadheinings te klim was ʼn ander pyniging – veral as die drade styf gespan was. Jy klim deur omdat die hek te ver is en dan byt die dorings mos. As die boonste doring jou rug bykom, ruk jy weg en dan gryp die onderste doring jou aan die binneboud. Ná pynlike ontsnapping, stap jy beteuterd huis toe met verdere pyniging in die vooruitsig omdat jou hemp vasgehaak en ʼn winkelhaakskeur die gevolg was. Geskeurde of vernielde klere was ‘n onaanvaarbare teëspoed.

Fietse en kaskarre het talle duidelike, onuitwisbare littekens nagelaat. Dit het begin toe jy leer ry het en dit het aangegaan totdat jy jou eie ryvermoëns hopeloos oorskat het. Ag en dan was daar die tone tussen die vurk en die speke, kettings wat afgegly het, voorwiele wat in die sand vasgesteek het en gevolglike valle van alle soorte. My pyn der pyne het so gebeur. My ouboet het sy nommer 28 Ralleigh huis toe gebring en gesê ek kan hom ry as ek groot genoeg is. Ek kon nie wag nie en het die fiets onder deur begin ry. Dit was so ʼn skuins ryery want die een been was deur die driehoekraam. Die dag het aangebreek toe ek die fiets bo-oor wou ry en ek het dit reggekry maar toe breek die ketting en toe’s dit ysbeen op raamwerk! Gelukkig geen verdere skade nie, maar die pyn!! Sommer my hele lyf het gepyn! Ek is sommer lus en huil van voor af.

Daar was nog ʼn ander soort pyn. Seuns het mos nie oral gewas waar en wat hulle moes was nie. In en agter die ore en onder die ken. Die elmboë, die knieë en die hakskene. Badkamer- en toiletdeure mog nie gesluit word nie. Dan het oorle Ma onverwags ingekom en die waslap of vadoekplantsponse seep gesmeer en jou begin skrop. Nee, nie sagkens nie, maar met mening. Dit was hoes en proes en smag na asem! Dis seep in die oë, neus, mond en ore. Jy snak na jou asem, bang jy versuip of so-iets en die gesoebat en beloftes om voortaan deeglik te was, val op dowe ore. En as ma klaar is met jou, was dit: “Skrop nou waar ek nie geskrop het nie en sorg dat die vloer droog is!” Beteuterd en dankbaar dat ek dit oorleef het, het ek daar gestaan – so skoon en rein en pienk soos ʼn skoon dagoud varkie.

Ek onthou die speletjiepyne. Die Bok-bok-staan-styf! Hoeveel vingers op jou lyf? En dan die bullebak wat jou met die knieë bykom as hy op jou rug land. Of as ons Kennetjie gespeel het en die kennetjie tref jou nadat die verdediger hom perfek geslaan en hy jou dan soos ʼn koeël getref het. En hoe hard kon ʼn mens nou val as ʼn donkie jou afgegooi en jou tussen die graspolle grond laat vreet het! Ag en dan was daar nog die perdrystories! My kleinseun vra nou die dag of hy vir my iets kon sing. “Ja, seg ek,” en toe sing hy: “Oupa het ʼn vark gery, afgeval en seergekry, opgeklim en weer gery!” Ja! So was dit!

Onthou jy nog?! Sing saam! Sal ons die pyne ooit vergeet, my vriend! Die goeie oue tyd! Die goeie oue tyd, my vriend, die goeie oue tyd! Sal ons die pyne ooit vergeet! Die goeie oue tyd!

Vandag is dit anders. Ek wonder wat die nuwe generasie oor sestig, sewentig jaar gaan onthou. Seker maar net hoe hulle duime krampe gekry het ná ure se passiewe besigwees met slimfone, iPads en tablette. Maar, en daarin verheug ek my, ek sien nog af en toe kinders wat speel en baljaar dat die biesies bewe! Hulle gaan iets hê om te onthou!

Ek dag dit was my laaste paragraaf, maar toe vra ek my buurman of hy iets van kleintyd se seerkry kan onthou en toe hoor ek: “Man wat praat jy!” en hy wys my ʼn litteken op sy kuit, amper so groot soos sy duim. “Die verdomde hans Boerbokram het my speel-speel hier bygekom toe ek hom wou ry en toe ruk hy ʼn stuk vleis hier uit my kuit uit! En jy weet daar was nie dokters nie! Oorle Ma het die spul met lappe toegedraai en met plaasmirrisyne gesond gedokter, maar hier sit hy nog,” en hy vryf oor die wit vlek. Die volgende een vertel weer hoe hulle op 44 gelling dromme gery en geval het. Ai, en dan gaan dit oor kleilat en steltereisies en ons wil ons doodlag oor al die val en weer opstaan.

Ek wens ek kon jou stories ook hoor! En ek wonder of die vrouens ook stories het om te vertel. Destyds het die seuns mos nie geweet wat met die meisiekinders aangaan nie. Laat hoor van jou! Een ou mater sê vir my daar sal genoeg stories wees om ‘n lekkerlagboek te skryf. En dan vertel hy my van die dag toe hy en sy hart se punt gaan perdry het en die perde oploop gesit het en hoe meer hy vertel, hoe lekkerder het ons gelag.

Ja, ek wens ek kon jou stories hoor – al die goed wat jy ewe skielik nou kan onthou!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

HB ·

Ek het dit nou terdee geniet om hierdie storie te lees. Jy speel so lekker met die Afrikaanse woorde…..en ja, hierdie het ook “genotvolle” kleintyd seerkry herinneringe weer wakker gemaak. Die kinders van vandag weet nie wat hulle mis nie, ons bloukolle en knoppe en nerf-af knieë en al die littekens is lekker onthou seerkry.

Pixie ·

Hoe lekker lag ek nie nou nie. Ek moet noem my suster se seuns wat op n klein plattelandse “dorpie” groot word , beleef al die lekker van kind wees, van op dakke klim , bloukolle , skaaf en krap merke , en dan natuurlik die skelm duiwe skiet met n kettie. As ouma kom kuier dan kan sy al die broeke met gate regmaak soos net n ouma kan. Dit is die lekkerste as hulle vir ouma met n muis dan ook kan rond jaag in die huis. Geniet elke oomblik van kind wees.

Lena Jonk ·

Dit was nou so lekker om die ou kinderjare te herroep in die gedagtes. Kan dit nou nie so goed in die smaaklike woorde omsit soos jy nie. My twee broers het ook minder as 2jr uitmekaar verskil maar mensdom was hulle nie erg nie. Sondaemiddae was mos rustyd vir ouers, toe moes daar stilte wees. Die twee broers besluit dis die regte tyd om kalwers te gaan ry wat in die stal staan, so gedoen met nagevolge, maak kalwers vas met rieme om die nekke darem met so lengte dat hulle goed kon beweeg. Die staldeure was hout met houtkoeseine, boetie toe die manne opspring, spring die kalwers ook, dis net stof houtdeure en snot en spoeg en kalwers uit die hok. Pa het die gedreun en stof gesien ek lamgeskrik. Julle wil nie weet hoe daardie selfde rieme gewerk het op hulle agterkante nie. Die twee moes toe sommer op die Sondag staldeure regmaak en met erge moeite sorg dat kalwers terug is.

Boertjie ·

Sit ek nou en vryf in gedagte oor al die littekens wat ek jongtyd opgetel het. Van dak afval, fiets val, onhandige glips met ‘n byl, en so kan die lys aangaan. Kneukels met pers littekenmerke op as moersleutels gly, maar ons het oorleef. So op ‘n manier. En ons het geleef. Ek kry vandag se jeug jammer, dat hulle nie die waagmoed aan die dag kan lê van om met jou fiets te jaag, al weet jy voor jou heilige siel dat iewers vorentoe is los sand op die teerpad, en grond toe is ‘n uitgemaakte saak.

bloues ·

Kleintyd moes ons altyd saam met pa en ma gaan wanneer daar vir ‘n Oom en Tannie gekuier moet word. Meeste van die tyd was daar nie ander kinders nie. Ek onthou dat ons skaars gegroet het en dan buite toe gevlug het. Wanneer die Tannie tee of koffie aanbied het ons ge-nee dankie Tannie want buite was erens n watersak onder n boom. Drie gaatjies is gemaak vir ‘n wereldkampioen giffie toenooi, of ‘n teiken is gesoek wat dan met klipope gegooi is.
Wanneer die kans daar is sou ons voltjies in die vrugte laning loop skiet of bootjies met knipmesse uit houtbas gesny het as daar water was.

Die seer daarvan? As jy niks vermoedend na die volgende gat aandrentel kan jou broer mos heeltemal rigting verloor en n klip tref jou tussen die blaaie. Al ooit gevoel hoe knyp n windbuks daai sagte vleisies tussen duim en wysvinger omdat jy vir die vink kyk en nie kyk wat jy doen nie. Splinters wat in jou hande vassit na jy n stuk tak wou kerf.

Jip, en vandag se kinders sal die naaste TV soek, op die bank neerplak. Ek kry hul jammer. Baie jammer. Dis onregverdig teenoor hulle.
Hoor jy ouer?

Jannie Nell ·

Baie dankie. Lekker om al die stories te lees. Bring goeie ou herinneringe terug. Jammer die meeste van vandag se kinders gaan nie hierdie ondervindings opdoen nie. Lekker kinderdae.

Johan ·

Hoe stroom die beelde van herhinneringe nou terug. Op my oom se plaas was daar n baie mooi swart perd. Ons vang toe die Hingsie met behulp van n merrie. Saal die perd op en ry die helle plaas vol. Op n reguit pad besluit ek en my Broer om ressie te jaag en por die perd aan. Ek is lekker voor en voel die hings hardloop volsped. ek laat die teuls los hang oor die perd se nek. Die volgende oomblik besluit die perd om n skerp lings te vat. Nie teen staande stop n haak en steek bos my. Dae later en met baie pyn, min sit want my rug en sitvlak is vol doorings. Vertel my oom dis die perd te ou laai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.