Kom ons gesels oor beleggingsfondse

geld-finansies-spaar-begroting-belegging-deur-stevepb-op-pixabay

(Foto: Stevepb/pixabay)

Die meeste van die middelklas se spaargeld is vasgevang in twee plekke: hulle primêre woning, en hulle pensioen- of aftreefonds. Dit is juis hierdie stand van sake wat my so kwaad maak as kommentators vir almal vertel skuif alles oorsee – hoe presies moet ek dit met my huis doen?

Maar hoe werk daai effektetrustfondse? En hoe verskil dit van byvoorbeeld aandeelhouding, eiendom koop en so aan? Hoe veilig is my geld? En wie bestuur dit?

Nou goed, van die tegniese punte hier kan ʼn losskrum, of selfs krieket se meer obskure reëls na aan-aan laat lyk.

Ek gaan nie (en kan in elk geval nie) alle fasette van hierdie dinge hier aanraak nie.

Tog hoop ek, as jy hierdie klaar gelees het, dat jy meer van ʼn idee het hoe hierdie tipe fondse, wat in die oorgrote meerderheid van die gevalle die ruggraat van “gewone” mense se beleggings vorm, funksioneer.

Hierdie is net basiese inligting soos altyd.

Systap: Die GEPF

Net een ding voor ons in die vleis inklim. Die Staatsdiens Pensioenfonds (GEPF), en ander soortgelyke fondse, is sy eie ding. Hoe hulle belê en hoe hulle uitbetaal is ʼn skrywe vir ʼn ander dag.

Hulle is merendeels direkte beleggers, in aandele byvoorbeeld, maar het ook ander oogmerke as net opbrengs, waarop ons nie in detail vandag ingaan nie. Die GEPF funksioneer ook wesenlik anders as dit by uitbetalings kom op aftrede.

Wat is ʼn effektetrust?

(Foto: Carlos Muza/Unsplash)

Effektetrusts, of kollektiewe beleggingskemas, werk basies so: ʼn fonds, kom ons sê Gebalanseerde Fonds A, het ʼn sekere mandaat. Vir ons voorbeeld gaan ons sê inflasie plus nog 4% groei oor sê nou maar vyf jaar.

Ek, en jy, en jou neef Pieter-Johan, en tannie Baby af in die straat belê almal ons gelde by hierdie fonds. Hulle vat dan ons almal se gelde, en die ander wat daarin belê, en gaan belê op hulle beurt weer daai geld in lyn met hulle mandaat.

My R100 en jou R100 en so meer word dan saamgepoel om goed soos aandele, en staatseffekte en so aan te koop. Vir ons R100 kry ons dalk 10 eenhede in die fonds. Dit is hoekom ek meen die Engelse term, unit trust, of selfs die Amerikaanse term, mutual fund, is ʼn beter beskrywing.

Vyf jaar van nou af, hopelik, het die onderliggende waarde van my eenhede gegroei – aandele het dividende gelewer, of is teen ʼn wins verkoop, so aan. Dan is jou 10 eenhede nie meer R100 werd nie, maar sê nou maar R125.

So groei jou belegging dan.

Nou: verskillende fondse het verskillende mandate. Sommige is uiters behoudend en konserwatief, ander belê net in kontant en soortgelyke instrumente – dink aan geldmarkfondse. Of dalk is langtermynkapitaalgroei die doelwit. Die mandaat en doelwit sal bepaal hoe en waar beleggers se fondse belê word.

Die meeste “gewone” mense, pensioenfondse en so meer belê via hierdie tipe effektetrusts. Nie almal van ons het byvoorbeeld die kennis of kontant om eiendom te koop en te verhuur nie, of om staatseffekte te koop nie.

As ons almal ons gelde saamgooi, kan ons daar uitkom.

Dit sou nie onjuis wees om te sê dat effektetrusts die boustene is van die meeste beleggings nie, hetsy jy direk daarin gaan belê, of via iets soos ʼn uitkeerpolis of pensioenfonds.

Wat is die voor- en nadele daarvan?

(Argieffoto)

Die grootste voordeel, myns insiens, is dat dit jou toelaat om in ʼn verskeidenheid finansiële instrumente te belê, sonder dat jy die gelde nodig het om 100 Naspers-aandele te kan koop.

Dis ook baie likied. Afhangende van in watter tipe produk dit is, kan dit tot so min as vier of vyf werksdae neem om die gelde te onttrek (dit geld uiteraard nie goed soos aftreegeld nie). Dis vinnig genoeg vir nood, en lank genoeg om te verhoed dat jy jou avokado’s by die supermark daarmee finansier.

Dit maak dit ook baie eenvoudiger, want jy hoef nie ʼn kenner te wees in die aandele- of effektemark of wat ook al nie. Jy delegeer basies dit uit na iemand anders – soos wat jy ʼn loodgieter kry om jou verstopte dreinpyp te kom skoonmaak.

Effektetrusts is ook, afhangende van die tipe fonds en so meer, redelik goedkoop, veral as jy dit nie in iets soos ʼn uitkeerpolis sit nie.

Dit is wel nog steeds kompleks, want daar is letterlik duisende fondse daarbuite, by verskriklik baie maatskappye. En dis net ter plaatse. Die beleggingsfonds self is ook net een deel van die som – die produk waarin dit geskink word, is net so belangrik.

Terwyl jou risiko merendeels minder is met hierdie tipe fondse, is dit ook so dat jou opbrengs nie altyd gaan byhou met direkte beleggings nie. Dink so daaraan – as jy ʼn huis koop en verhuur, dra jy al die risiko dat dit ʼn tikfabriek gaan word, maar bring ook al die inkomste na jou toe.

Effektetrustfondse is nie direk nie – jy is vir alle praktiese doeleindes ʼn indirekte of sub-aandeelhouer, wat jou help beskerm teen die risiko’s. Maar dit beteken ook dat jy nie al die wins skep nie.

Hoe kies ek een? Of meer?

Hoe lank is ʼn stukkie tou? Wat ek meen is, hier is baie ratte wat draai. Hoe lank is jou termyn? Langer termyne kan meer risiko bekostig.

Hoeveel kan jy wegsit? Is dit maandeliks of eenmalig? Groter bedrae baat baie keer by diversifikasie van meer as een fonds, waar kleiner bedrae minder voordeel uit so iets trek.

Hoeveel opbrengs het jy oor die tyd nodig? Wat is jou eie risiko-aptyt? Hoe meer opbrengs jy benodig (en onthou, die meeste beleggings word nie gewaarborg nie), hoe meer risiko moet jy neem. Jou eie risiko-aptyt verwys na hoe gemaklik jy is met risiko. Dis waarskynlik minder belangrik as waar jy wil of moet uitkom. Jy kan dalk ʼn uiters konserwatiewe belegger wees, maar as jy vir aftrede spaar en jy begin op 25 in konserwatiewe fondse spaar, gaan jy lang, laaaaaaang trane huil kom 65.

Kyk na maatskappye ook. Van die fondsbestuurders bestaan al dekades, met bewese rekords. Nou, historiese prestasie kan nie net so beskou word as wat in die toekoms gaan gebeur nie, maar ʼn fonds wat al vir 20 jaar met ʼn uitnemende rekord bestaan, en miljarde onder bestuur het, gaan anders na jou geld kyk as jou vriend Wolf de Jager wat gister begin het met beleggings en nou ʼn fonds uit sy garage bestuur.

Vind uit of die maatskappye geregistreer is by die relevante reguleerders – dit bied darem ʼn mate van beskerming.

Alle geregistreerde effektetrustfondse het ook openbaarmakingsdokumente wat inligting bevat soos waarin hulle belê (minstens hulle top tien grootste beleggings), wat hulle mandaat en kostes is, wat hulle historiese prestasie is, en so meer.

Laaste woord

Leon-Ben Lamprecht (Foto verskaf)

Hierdie is inderdaad net oorsigtelik. Ons het nie eens geraak aan kostes, belasting, ongekorreleerde fondse, platforms, internasionale fonds en so meer nie.

Die dinge is kompleks, en ek stel baie sterk voor jy gaan praat met iemand wat holisties na jou spesifieke situasie gaan kyk en daarop advies skoei.

Hierdie is net kennis om jou te bemagtig. Onthou, te min kennis maak jou dalk te selfversekerd, oor jy nie weet wat jy nie weet nie.

Dis in elk geval altyd ʼn goeie idee om finansiële besluite, indien moontlik, weg te hou van emosies. Want daai twee is omtrent sulke goeie bedmaats soos pilchards en kondensmelk op geroosterde rogbrood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Ek is een van diegene wat alles, selfs my pensioenfonds wat ek laat uitbetaal het toe ek n pakket gevat het (behalwe my huis….logies) landuit gevat het. Dit was jare gelede teen R10.XX teenoor die dollar. Ek sal nooit emigreer nie, maar my geld het laaaankal geëmigreer.

OW ·

Die meeste mense sal ook nie verstaan wat in hierdie skrywe beskryf word nie,so ingewikkeld kan finansies raak.My indervinding is, gaan na een of twee erkende en bekende finansiële maatskappye en kry daar ‘n CFP “certified financial planner wat ‘n amptenaar is en nie vir homself werk nie,wat jou die verskillende opsies en beleggings verduidelik.Wedersydse vertroue is baie belangrike in hierdie verband.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.