Rubriek: Komaan, Suster, bly by of bly agter!

Argieffoto: Unsplash

Skrywer onbekend

Januarie 2020 het ek ingetrippel soos ’n Arabiese skouperd, my arms wawyd oop vir die 365 splinternuwe dae wat voorlê.

Daar was gerugte oor ’n misterieuse virus wat einde Desember 2019 in China uitgebreek het, ja, maar ek steur my nie veel daaraan nie, want ek bly mos in Suid-Afrika. Veilig. Totdat die Ding per vliegtuig in ons land arriveer.

Teen Maart lyk ek soos ’n mot wat teen ’n voorruit vasgevlieg het en toe ek om my kyk, sien ek rye mense met trollies vol toiletpapier op pad till toe. En drank.

“Good evening, my fellow South Africans. It is a week since we declared the coronavirus pandemic a national disaster…” Ek voel of ’n weerligstraal my slaan. Plat. Teen die grond. Winduit. “May God protect our people. Nkosi Sikelel’ iAfrika. God seën Suid-Afrika.”

My hele huis is tjoepstil ná die tyd…

Van pure senuwees het ek daai aand begin bak. Brode, koeke en sommer beskuit ook. Tot die honde het brood met botter op gekry. Ek het in ’n voedselverskaffer ontaard. As almal se maag vol is, dan voel almal beter.

Toe begin ek google oor die nuwe onsigbare vyand en ek koop sanitiser en ek begin spuit. Al wat ’n kind en ’n skoen is, word gespuit, tot die plastiek om die toiletrolle en die vlieë, want dis al wat ek in my hand het.

Eers loop ons almal met die wit maskers wat die verwers gewoonlik op ’n bouperseel dra. Wat weet ons? Maar niemand kry behoorlik asem nie en almal skel op mekaar van pure asemnood. Só skaam ek my nie en ek gaan soek maskers wat die dokters dra.

Snags lê ek en stoei met my testament. En ek probeer die verskil tussen isolasie en kwarantyn verstaan. Soggens sluk my kinders sink, vitamien C en Airmune met naargroen smoothies.

Ek rek ’n rand tot hy wil skeur en ek onderhandel en kanselleer om te oorleef.

En hier teen Julie toe gly die mot teen die ruit af – gedaan ge-Covid. Moeg gebak, moeg gemasker, moeg gegoogle en 10 kg swaarder. Ek soek tussen alles deur na ’n “nuwe normaal” en elke dag probeer ek my lyf inpas in elke nuwe draai wat ek moet vat. En ek kom agter dat die ou mensdom van ons verskriklik aanpasbaar is – jy bly by of jy bly agter!

En saans, as my huis donker en stil is, dan onthou ek wie ek is en waar ek vandaan kom. Ek onthou dat my voor-oumas hul lang rompe moes optrek tot bokant die knie om die wa deur die drif kry. Dat hulle op ’n paar kole ’n trop kinders moes kosgee. En dat hulle dwarsdeur die Groot Griep, pokke, polio, droogtes en oorloë is, anderkant uit.

Hul hande was vol eelte, want jy oorleef en klaar! Van luiheid en bangbroekigheid was daar nie ’n teken nie. Net die wil om jouself en jou mense bo te hou.

Dus, as jy nog op ’n rusbank lê en wonder oor ’n virus en wat hy alles gaan kom vat, wil ek jou nou sê: Gaan was jou masker, drink jou gesondheid-smoothie, trek jou skirt hoog op en kom help trek, Suster! Januarie 2021 is hier!

Voorspoed!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.