‘Koop nou, betaal later’, ’n nuwe manier om te koop

inkopies-aankope-sakke-vrou

(Argieffoto: Gonghuimin468/Pixabay)

Die nuwe manier van koop, naamlik koop nou en betaal later, klink dalk soos ou nuus, maar dit is beslis nuut. Jy koop nou en betaal later soos met ander vorme van krediet, maar die verskil is dat jy nie rente betaal nie. Dit het baie gewild geraak sedert dit in 2019 in Suid-Afrika bekend gestel is soos verbruikers hul begrotings moes aanpas weens die finansiële skade wat die pandemie veroorsaak het. Ina Opperman verduidelik hoe dit werk en wie dit aanbied.

Koop nou en betaal later is ook nie dieselfde as bêrekoop nie, aangesien verbruikers nie hoef te wag tot die hele bedrag afbetaal is voordat hulle die goedere ontvang nie. Marknavorsing wys ook dat die gebruik van hierdie manier van koop in Suid-Afrika met 31% toegeneem het sedert verlede jaar, terwyl 73% van verbruikers op soek is na finansiering reg aan die begin wanneer hulle besluit om iets te koop.

Hierdie manier om vir goedere te betaal sal na verwagting met 66,9% per jaar groei tot US$294,1 miljoen (tans sowat R4,4 miljard) teen die einde van vanjaar. Aanlyn winkels trek ook voordeel hieruit, met baie wat opmerk dat die waarde van aanlyn bestellings styg, dat mense meer koop en aansienlike inkomstegroei wanneer hulle verbruikers toelaat om op hierdie manier te koop.

Hierdie nuwe manier van koop sal na verwagting help om die e-handelsektor te laat groei soos meer handelaars en verbruikers dit begin gebruik.

Dis hoe dit werk

Die proses om nou te koop en later te betaal is glad nie ingewikkeld nie. Wanneer jy wil betaal, kies jy net die opsie vir die verskaffer van hierdie betaalmetode, tik jou ID en kaartbesonderhede in en betaal ʼn klein bedrag as deposito.

Verskaffers van die koop‑nou‑en‑betaal‑later‑diens sal jou dan per e-pos in kennis stel wanneer jy die volgende paaiemente moet betaal. Maar oppas: sommige verskaffers hef ʼn bedrag vir laat betalings.

Waar kan ek koop nou, betaal later‑diensverskaffers opspoor?

ʼn Hele aantal maatskappye, gewoonlik fintech‑entrepreneurs, bied die diens aan om nou te koop en later te betaal, soos Payflex, PayJustNow, MoreTyme, Mobicred en LayUp. Terwyl Mobicred en LayUp nie eintlik koop nou, betaal later‑diensverskaffers is nie, word hulle ingesluit omdat daar heelwat ooreenkomste met die ander dienste is.

Die voordele van koop nou, betaal later vir verbruikers

  • Jy kan by duisende winkels koop
  • Jy betaal net ʼn klein deel van die prys wanneer jy iets koop
  • Jy betaal nie rente nie
  • Jy word ingelig wanneer jou paaiemente betaal moet word
  • Jy kan vir paaiemente begroot
  • Daar is geen verskuilde koste nie
  • Jy betaal net ʼn heffing in sommige gevalle indien jy ʼn geskeduleerde paaiement misloop
  • Dit is ʼn gerieflike, gedissiplineerde manier om te betaal vir wat jy koop
  • Heffings vir agterstallige betalings is laer as die rente op kredietkaarte
  • Jy het nie altyd ʼn goeie kredietgeskiedenis nodig om vir ʼn kleiner bedrag te kwalifiseer nie
  • Transaksies word vinnig goedgekeur.

Die voordele van koop nou, betaal later vir handelaars

  • Handelaars hoef nie te betaal om die diens te bied nie
  • Lae transaksiegeld word vir suksesvolle bestellings gehef
  • Handelaars kan hul klantebasis vergroot
  • Hierdie stelsel van betaal verseker dat verbruikers terugkeer om meer te koop
  • Meer en vinniger koopbesluite
  • Hoër gemiddelde bestellingswaarde
  • Verbruikers koop meer en groter goedere, wat beduidend meer inkomste verseker
  • Handelaars word ten volle betaal wanneer die verbruikers iets koop
  • Beter kontantvloei
  • Laer risiko vir bedrog.

Wat bied maatskappye wat die diens verskaf

Payflex vereis dat verbruikers vier gelyke paaiemente oor ses weke betaal, gewoonlik elke twee weke. Die maatskappy werk saam met meer as 1 100 aanlyn winkels en sal binnekort ook in fisieke winkels beskikbaar wees. Indien jy laat betaal, moet jy R65 betaal vir elke week wat jy laat is, maar nie meer as R195 nie. Transaksiegeld word met elke handelaar wat aansluit, onderhandel.

PayJustNow vereis dat jy drie gelyke paaiemente betaal oor drie maande en is beskikbaar in 980 aanlyn winkels en meer as 1 000 fisieke winkels. Jy betaal nie rente nie, maar indien jou betaling laat is, betaal jy R125 elke keer wat jou betaling geprosesseer word, tot 25% van die oorspronklike bedrag. Handelaarsgeld is gewoonlik 5%, afhangend van hoe dit betaal word, op watter platform jou winkel is en die geskatte waarde van die transaksie.

MoreTyme kan net gebruik word deur verbruikers wat by TymeBank bank. Jy moet 50% betaal wanneer jy iets koop en daarna drie rentevrye paaiemente oor twee maande. Dit is beskikbaar by 350 handelaars en meer sluit voortdurend aan. Indien jy laat betaal, kos dit jou R65. Die handelaarsgeld is vertroulik.

Twee ander maatskappye bied soortgelyke dienste, maar word nie geklassifiseer as koop nou, betaal later nie:

Mobicred is ʼn 100%‑wentelkredietfasiliteit wat jou toelaat om ʼn minimum van 10% van die balans op ʼn keer te betaal. Hier betaal jy egter rente van 17,5% om by meer as 3 000 winkels te koop, maar jy betaal nie ʼn heffing vir laat betalings nie. Handelaarskommissie begin by 3,5%, maar groot winkels betaal minder.

LayUp is ʼn digitale bêrekoopmaatskappy en nie ʼn koop nou, betaal later‑maatskappy nie. Jy het 24 maande om te betaal en jy betaal nie rente by die 200 winkels waar LayUp beskikbaar is nie. Die maatskappy vra ook nie heffings vir laat betalings nie en handelaarsgeld beloop 5%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wielspore ·

As jy dit nie nou kan bekostig nie, dan koop jy dit later as jy dit kan bekostig.

Barney ·

Net ‘n ander woord vir op skuld koop. Plaas word mense eerder aangemoedig om binne hulle vermoëns te leef en bietjie te spaar as hulle kan

Norries ·

Ek koop al meer as 20 jaar op die manier deur Pretorium Trust, en kry n 50% bonus korting op my aankope in maand 11.

Tino ·

Klink soos ‘n bubble wat gaan bars omrede die meerderheid verbruikers nie die nodige dissplinne of vernuf kan toepas nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.