Korttermynversekering: leer hierdie lesse

versekering-motors-huis-lewens

Foto: Kalhh/Pixabay.com

Die ombudsman vir korttermynversekering het gedurende 2018 altesaam 9 779 klagtes ontvang en 9 474 opgelos ter waarde van R87 250 982 volgens sy jaarverslag wat onlangs uitgereik is. Uit hierdie klagtes het 4 716 oor voertuigversekering gehandel en 2 037 oor huiseienaarsversekering. Ina Opperman het gaan kyk wat die meeste klagtes veroorsaak het en watter lesse verbruikers daaruit kan leer om te verseker dat hul probleme met korttermynversekering voorkom kan word.

Niemand hou daarvan om vir versekering te betaal nie en as jy dan nog moet sukkel om jou eis uitbetaal te kry, belowe jy jouself dat jy klaar is met versekering. Maar ons het almal versekering teen onvoorsiene gebeurtenisse nodig en as jy versekering met genoeg inligting benader, kan jy die kans dat jy gaan kleitrap daarmee, grootliks uitskakel.

Motorversekering

Die meeste van die klagtes oor motorversekering (74%) het gehandel oor ongelukskade, net soos in 2017, met waarborge en meganiese probleme wat vir 9% van die klagtes verantwoordelik was en diefstal en kapings op 8%, wat ’n bietjie afgeneem het van 9% in 2017.

Die grootste oorsaak van die klagtes was die bedrae wat versekeraars aangebied het om eise te skik. Klagtes het gehandel oor aspekte soos hoe die waarde van die voertuig bereken is, afskryfwaardes, onversekerde krediettekorte en bykomstighede, bybetalings en die gebruik van die pryse vir alternatiewe of gebruikte onderdele wanneer die herstelkoste bereken word.

Die tweede grootste oorsaak was die afwys van eise omdat verbruikers nie al die feite geopenbaar het nie of wanvoorstellings tydens die verkoop van die polis. Hierdie soort klagtes het met 22% afgeneem vergeleke met 2017.

Klagtes oor eise wat afgewys is omdat die bestuurder onder die invloed was, het ook afgeneem met 15%. Volgens die ombudsman kan dit toegeskryf word aan verskeie faktore, soos toenemende bewustheid en verantwoordelikheid vir die gevare en gevolge van bestuur onder die invloed, sowel as stappe van versekeraars, soos die diens om verbruikers huis toe te neem en die sterk benadering van die ombudsman inneem oor die versekeraar se bewyslas wanneer die weiering van eise verdedig word.

Klagtes oor eise wat afgewys is omdat verbruikers nie stappe gedoen het om versigtig te wees en verlies te verhoed nie, het egter met 48% toegeneem vergeleke met 2017.

Altesaam 18% van die klagtes oor motorversekering is in die verbruikers se guns beslis en R53 641 058 is uitbetaal aan verbruikers nadat die ombudsman hul klagtes ondersoek het.

Wat kan ons hieruit leer?

  • Verskaf inligting wat waar en volledig is wanneer jy om voertuigversekering aansoek doen of dit bywerk, sowel as wanneer jy eis;
  • Maak seker dat die versekeraar die verkoopsproses hanteer soos vereis deur die bedryf se gedragskode; en
  • Bestuur onder die invloed bly ’n probleem vir versekeraars. Moenie drink en bestuur nie en maak gebruik van die diens om jou huis toe te neem as jy te veel gedrink het. Eise kan afgewys word op grond van omstandigheidsgetuienis al is jou bloed nie getrek nie.

Huiseienaarsversekering

Meer natuurrampe het ook meer eise en klagtes oor huiseienaarsversekering meegebring, met 61% van die klagtes in 2017 wat gehandel het oor skade wat deur die natuur veroorsaak is. Die meeste klagtes het verband gehou met verliese wat verbruikers in storms gely het. Hierdie aantal klagtes het egter verlede jaar gedaal tot 58%.

Klagtes oor diefstal- en inbraakeise het egter toegeneem van 4% in 2017 tot 6% in 2018. Die meeste klagtes (48%) het gehandel oor die weiering van eise omdat die eiendom nie in ’n goeie toestande was nie weens slytasie, geen onderhoud, foutiewe planne, konstruksie, vakmanskap en boumateriaal, net soos in 2017.

Die volgende rede vir klagtes was hoe skikkingsbedrae bepaal is. Onderversekering was dikwels ’n probleem wanneer die eiendom verseker is vir minder as die eiendom se vervangingswaarde. In hierdie gevalle sal die versekeraar die eis net proporsioneel uitbetaal en die verbruiker is verantwoordelik vir die verskil.

Die ombudsman het 12% van die klagtes in die verbruiker se guns besleg en R12 369 548 is aan verbruikers uitbetaal.

Wat leer ons hieruit?

  • Dit is jou verantwoordelikheid as huiseienaar om te verseker die huis se struktuur word voldoende onderhou en voldoen aan bouregulasies.
  • Maak seker jou huis is verseker vir die korrekte bedrag. Die munisipale waarde, koopprys of die huisleningsbedrag is nie die korrekte bedrag nie. Jy moet ook die koste om te herbou, veranderings aan te bring, professionele tariewe van kundiges, sloping en verwydering van bourommel insluit, wat tot 20% van die koste kan beloop. Kry deskundige raad oor die bedrag waarvoor jy jou huis moet verseker.

Huisinhoudsversekering

Diefstal en inbrake was verantwoordelik vir 71% van die klagtes in hierdie kategorie, met 8% wat verband hou met natuurrampe, 6% met ongelukskade en 3% vir skade wat deur kragstuwings veroorsaak is.

Net soos in 2017, was die berekening van eisuitbetalings die hoofoorsaak vir klagtes oor huisinhoudversekering in 2018. Al was die weiering van eise gegrond op verbruikers se vermeende bedrieglike optrede, oneerlikheid of wanvoorstellings die tweede hoogste rede vir klagtes, was daar in 2018 31% minder van hierdie klagtes as in 2017.

Altesaam 15% van die klagtes in hierdie kategorie is ten gunste van verbruikers afgehandel en R3 288 605 is aan verbruikers uitbetaal.

Wat leer ons hieruit?

  • Wees absoluut eerlik wanneer jy aansoek doen om huisinhoudversekering en wanneer jy eis; en
  • Lees jou polisdokumente goed deur sodat jy doodseker is wat die bepalings van jou vereis en ook wat uitgesluit is.

Kla hier:

Besoek die ombudsman vir korttermynversekering se webwerf by www.osti.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

My geiser het uit muur geskeur en afgeval agv waterdrukking wat kort kort gestaak deur munisipaliteit en dan lug in pype veroorsaak wat pype ruk met aansluiting. Die assesor het bevind as normale slytasie en die eis afgekeur. Ek het op my koste nuwe laat aanbring, selfde muur, net baie laer, en versoek dat dieselfde persoon kom inspekteer en hy het dit goedgekeur. Ek het skriftelik versoek wat die vereistes is tov inspeksie/vervanging/slytasie van rollbolts en hul het my nie geantwoord nie.

Andreas ·

Ek was daar, ek weet, ek het 35 jaar in versekering gewerk. Ek het geglo ek kan verskil maak, het seker, maar hier en daar is ‘n enkele ou wat resultate en wins jaag en dit mag sy oë deurmekaar krap. Dan is daar ook enkele assessors wat té graag ‘besparing’ in hul verslae aan die versekeraar wil toon. Daardie ‘besparing’ het my by tye nogal gepla, en hoe hulle dit motiveer het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.