KSA moet Proteas se ‘geldjagters’ nou vasvat

Argieffoto

Argieffoto

Hoekom sal jy net in Suid-Afrika krieket speel as jy elders soveel as tien keer meer as die gemiddelde Protea-toetsspeler kan verdien? En as niemand boonop ʼn stokkie daarvoor steek nie?

Dit is relevante vrae met die land se voorste spelers, wat nóú eers bymekaar kom, ʼn raps voor die reeks van twee toetse teen Nieu-Seeland, wat op 19 Augustus begin.

Hulle het ʼn maandlange ‘ruskans’ gehad, na die driehoekige fiasko in Wes-Indië, wat egter deur sommige spelers gebruik is om hul beursies verder vol te stop.

Gaan die Proteas, sonder enige vierdaagse krieket as voorbereiding, reg wees vir die reeks teen die Swart Pette, wat jaarliks verbeter? Nee, hulle gaan bloot net weer in die nette oefen en dalk verder op die wêreld se ranglys val. Suid-Afrika het van eerste tot sesde op die lys in toetskrieket getuimel.

Die voorste spelers het hul geskeduleerde ruskans vir verdere (groot) geld ingeruil. ʼn Hele paar van die spelers het onmiddellik na die driehoekige reeks, wat ʼn maand gelede geëindig het, sommer in die Wes-Indiese Eilande agtergebly om in die CPL (Carribean Premier League) T20-krieket te speel.

Dis nie asof ons voorste spelers nie reeds genoeg nasionale verpligtinge het nie.

Baie krieket is juis die verskoning van die nasionale afrigter, Russel Domingo, waarom sy span só op die onderskeie wêreldranglyste geval het.

Hy het dalk ʼn punt beet. Geen speler kan na hierdie oordosis krieket skerp en lus vir die spel wees nie:

♦ Vier toetse verlede jaar in November en Desember.
♦ Die taai toetsreeks, ook vier toetse, teen Engeland in Desember en daarna die eendaagse wedstryde teen Engeland voor die T20s.
♦ Die Australiese toer na Suid-Afrika in Maart, ter voorbereiding van die T20- Wêreldbekertoernooi. Die twee spanne is feitlik saam weg soontoe.

♦ Toe die Wêreldbekertoernooi.

♦ Feitlik die hele April en Mei: die IPL.

♦ En toe in Maart die fiasko-reeks tussen die tuisspan en Australië in die Karibiese Eilande.

♦ Toe volg die ‘rusmaand’ en heelparty van die land se bestes bly sommer agter en gebruik hul aftyd om nog geld te maak.

En geld maak hulle wél – veral die heel bestes, soos AB de Villiers, wat volgens die webwerf http://www.totalsportek.com/ sowat R35 miljoen per jaar uit sy kontrak met KSA en die IPL maak en ʼn verdere R20 miljoen uit borgskappe.

Hoekom tree Krieket Suid-Afrika (KSA) nie op nie? Jy kan mos nie sommer so onbeperk en onbepaald rondkuier en geld verdien ten koste van die span waarvoor jy speel nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Veritas ·

Ontslaan al die dooie hout by CSA en betaal die spelers beter. Sodra ‘n speler sy Protea kleure verwerf het, is sy ambisie daarmee heen. Dan speel hy vir geld. Niks verkeerd daarmee nie. Hoekom sal bv. A.B de Villiers R3milj by CSA verdien as hy 10x meer kan kry?

Bosveld g ·

Wim daar word klaar deur sekere uitsaaiers verwys na Ab , Amla ens as veterane ! Ek sou presies doen wat hulle doen. Die probleem met die en ander kodes is dat bestuur en afrigting eenogig en ook eksklusief dink op grond van ras en voorafbepaalde agendas. As die sport suiwer op meriete bestuur word sal elke borg speler en administrateur meer geld insit en verdien.

Thanks ·

Danksy ons swak rand gaan dit maar moeilik wees om die manne vas te vat. Hulle kan dalk hul tasse pak . Dit gaan KSA nie veel in die sak bring om nog goeie spelers te veloor nie.

Rupert Ashford ·

Is dit nou dieselfde span waar meeste spelers gemaak voel word dat hulle nie regtig welkom is nie maar hoogstens verdra word? Huil my ‘n rivier soos die Ingelsman sou se…

Dave ·

Hier kom nog n Bafa bafa van 1 ste tot 6 de in een jaar dit wil gedoen wees dankie transformasie en anc se vernietiging van die ekonomie.

Bekkie ·

Hoe fiks is dié klomp wat gerus het in hulle af tyd? Dit is juis omdat manne soos AB homself druk en oefen en fiks bly, dat hy die beste speler in die wêreld is. Dink jy regtig AB is ‘n geld-vraat, krieket is sy lewe en sy passie. Hy werk baie baie hard, verdien baie geld daarmee stry niemand nie. Dit is duidelik dat jy hom nie ken nie, maar as jy hom sou ken sal jy weet hy is ‘n plat op die aarde jong man met ‘n sagte hart en oop hand wat help waar hulp nodig is. Hy blêr dit net nie uit nie en soek nie sensasie nie.

johann cb ·

Ek hoop die afrigter, hulpafrigter en alle “personeel” wat hulle sny van die koek kry uit al die rondrits, word ook aangespreek. Die hele lot is lankal besig om lekker op die soustrein te ry. Vat vas KSA!

HB ·

Die manne moet skep as dit reen, met die voorgestelde kwotas wie weet of daar nog plek vir hulle in die span is – daaroor maak n plan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.