Verbruikersake: Kyk na jou beursie op Swart Vrydag

aankope-aanlyn-internet

Foto: Negative Space/Pexels.com

Swart Vrydag is nog meer as ’n week ver, maar ons word reeds gebombardeer met spesiale aanbiedings van winkels. Verbruikers begin ook al klaar planne maak om volgende Donderdagaand buite groot winkels te gaan uitkamp om die volgende oggend eerste in die ry te staan vir die Swart Vrydag-winskopies. Swart Vrydag vind al jare lank plaas in die VSA op die laaste Vrydag van November om gereed te maak vir die Kersinkopietyd en het oorgespoel na Suid-Afrika, waar dit ’n belangrike deel van winkels se bemarkingstrategie uitmaak. Ina Opperman verduidelik hoe jy die beste uit Swart Vrydag kan kry en waarvoor jy moet ligloop. 

Swart Vrydag word nou al ’n paar jaar in Suid-Afrika gehou en verbruikers maak al van die begin van die maand af reg om hulle oor te gee aan uitbundige inkopies asof Kersfees en Januarie met sy 100 dae nie nog om die draai wag nie.

Jy kan goeie winskopies op Swart Vrydag raakloop, maar die bemarkingsveldtog rondom hierdie dag kan jou ook impulsief laat geld bestee wat jy nie het nie of wat jy eintlik vir dinge soos skoolgeld en ander noodsaaklikhede moes gebruik.

Ons kyk ook elke jaar geskok toe hoe mense mekaar sommer met die vuis bydam omdat iemand die laaste produk teen ’n spesiale prys in ’n trollie gelaai het. Baie verbruikers sê ook sommer reguit hulle gaan nie vuis slaan oor waspoeier nie.

Dit is ’n goeie idee om vooraf te beplan wat jy wil koop en seker te maak jy kan dit wat jy koop, wel bekostig.

Wat het jy nodig?

Jy kan jou beplanning begin deur eerstens ’n lysie te maak van wat jy nodig het, soos ’n nuwe bed omdat die een wat jy het, ingesak het, of ’n nuwe televisiestel omdat jy nog een het wat uit die vorige eeu kom.

Jy kan natuurlik ook jou Kersinkopies op Swart Vrydag afhandel en ’n paar rand spaar. Of jy kan skoolgoed koop vir 2020 of kos vir Kersfees. Of miskien wil jy jouself ’n bietjie bederf.

Wanneer jy jou lysie gemaak het, stel vas wat die gewone pryse daarvoor is sodat jy op Swart Vrydag die winskopiepryse kan vergelyk met wat die produkte gewoonlik kos en kyk of dit werklik so ’n goeie aanbod is. Wat jy ook al wil koop, maak seker jy kan dit bekostig deur ’n begroting op te stel.

Begroot vir Swart Vrydag-inkopies

Wanneer jy jou begroting vir Swart Vrydag opstel, kyk heel eerste hoeveel geld jy het om te bestee. Probeer om nie jou bonus wat in Desember betaal word, nou al te gebruik deur op krediet te koop nie, aangesien die rente wat jy gaan betaal die bedrag wat jy spaar, maklik kan uitwis. Indien jy wel vooraf jou bonus gaan gebruik, sorg dat jy die selfdissipline het om jou bonus dan direk in jou kredietkaart betaal.

Vergelyk dan jou lysie met die normale pryse met die bedrag wat jy beskikbaar het om seker te maak wat jy kan bekostig. Hou ook ’n oog op advertensies vir Swart Vrydag om te kyk waar jy werklik sal spaar.

Oppas vir koop op krediet

Dit is beter om nie op Swart Vrydag op krediet te koop nie, aangesien die koste van krediet die besparings heel moontlik sal kanselleer. Dit is ook makliker om impulsief op krediet te koop. As jy weet dat jy maklik impulsief koop wanneer jy die woord “winskopies” sien, los jou kredietkaart by die huis en sorg dat net die bedrag wat jy kan bekostig, daarin beskikbaar is.

Wenke vir Swart Vrydag

Hou hierdie wenke in gedagte vir Swart Vrydag-inkopies:

  • Maak ’n lysie van wat jy wil koop en kyk wat die normale pryse is.
  • Stel ’n begroting op wat jy kan bekostig en hou daarby.
  • Moenie geld bestee wat jy nie het nie.
  • Moenie op krediet koop nie, want die koste van krediet kanselleer die besparing uit.
  • Moenie impulsief koop nie.
  • Maak ’n lysie van wat jy wil koop en hou daarby.
  • Onthou jy het nog geld nodig vir Kersfees en die begin van 2020.
  • Vergelyk pryse voordat jy koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

5 Kommentare

piper ·

ek stel nie belang nie. daardie dag gaan ek winkelsentrums verby hou

susan ·

Amerika se snert wat na SA oorgewaai het en elke mens wat sy/haar so rek oor almal en alles in SA selfs die bokke wat gewen. Trap in die strik.

soltykat ·

Nee wat ek gaan liewers ook die winkelsentrum vermy vir daai hele naweek. Ek sidder al klaar oor die verkeer op die 29ste.

Judge Dredd ·

……Julle ouens hierbo mag net positiewe kommentare plaas asseblief……

Swart Vrydag is glad nie so sleg – om mense te vertrap, slaan, motors stamp, vloekwoorde rondvlieg, ure in betaal toue staan, onnodige krediet aangaan als vir daai R20 afslag is wonderlike oefening vir liggaam,siel en verstand.

Ek hoop nog meer mense wil deelneem aan hierdie jaar se swart vrydag winskopies, dit maak my koop ervaring by winkels vir die daaropvolgende 3 maande soveel beter.

Penellope Jones ·

Nee wat, Donderdag sal kry wat ek nodig het kry en bly Vrydag rustig by die huis.
Sien nie kans vir die lang toue ens nie. . . . . .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.