Leopold Scholtz – my rolmodel

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. (Foto: Reint Dykema)

Dit is nou sowat ses maande sedert die merkwaardige dr. Leopold Scholtz in Nederland sy stryd teen kanker verloor het. Hy is in ʼn versorgingsoord oorlede, juis toe ek self as kankerlyer maande lank buite weste in ʼn versorgingsoord was. Een van my eerste vrae aan my vrou Joan na ek uit “zombieland”, soos ek my tydelike kontakverlies met die werklikheid noem, ontslaan is was of sy weet hoe dit met Leopold Scholtz gaan. Ek moes toe die treurige nuus aanhoor dat hy al ongeveer drie maande tevore oorlede is.

Ek het Leopold as my rolmodel beskou, en ook as die doyen van Afrikaanse kommentators.

Die nuus het my in meer as een opsig getref. Van die dokters was stomverbaas dat ek nie self dood is nie. Maar meer as dit. Ek en Leopold het periodiek met e-pos met mekaar gekommunikeer. Toe ek hom later meedeel dat ek self kanker het, het hy laat weet dat hy ook kanker onder lede het. Hierna het ons soms in ons korrespondensie mekaar moed ingepraat.

Laat ek dit dadelik duidelik maak; ten spyte van die verskeie raakpunte tussen my en sy werk, het ek my nooit as naastenby in sy liga beskou nie. Ons was byvoorbeeld beide by geleenthede paneellede op RSG se program, Kommentaar, maar nooit gelyk nie. Ons het beide talle rubrieke geskryf, maar vir totaal onafhanklike platforms van mekaar. Ons het beide in ons werk na mekaar se werk verwys. Hoewel ek hom altyd as rolmodel beskou het, het ek seker nie altyd baie mooi in sy “klasse” opgelet nie. Trouens, hy het ook by geleenthede die kuberpen opgeneem om my met feite en afleidings baie beleef reg te help – iets wat ek besonder waardeer het.

Wat is dit wat ek van hom nagestreef het?

Op 3 Desember 2020 beskryf Susan Maré op Maroela Media my soos volg: “Jy sal ver gaan om ʼn meer veelsydige joernalis te ontmoet. Hy kon met groot gesag oor feitlik elke onderwerp onder die son skryf – van die son en die sterrekunde, tot die samestelling van vetplante, godsdiens en politiek. Hy het deeglik navorsing gedoen… Wat ek die meeste van Herman bewonder, is sy nugterheid… Hy het altyd sy gesonde verstand laat seëvier. Dat hy desondanks alles (die stryd teen kanker) met sy werk voortgegaan het, sê baie vir die krag van sy karakter, asook vir die sterkte van sy geloof in God.”

By geleentheid skryf Leopold: “As daar een ding is waaraan ek ʼn hekel het, is dit politieke korrektheid”. Hy bespreek sy siening van politieke korrektheid hierna taamlik breedvoerig, maar maak dit duidelik dat politieke korrektheid van sowel links as regs vir hom onaanvaarbaar is.

Leopold stel, deels tong in die kies, sy eie uitgangspunte onder andere soos volg: “Ek is nie links nie en ook nie regs nie. Ek is dwars. Terselfdertyd sien ek myself as ʼn konserwatiewe liberaal, of as dit beter klink – ʼn liberale konserwatief. Bowendien is ek militant gematig.”

Ek onthou hoe lesers van Die Burger Leopold, veral in die begin, as Cape Lib verwyt het, en later weer as neokonserwatief. Toe ek dit aan hom noem, het hy my ʼn baie soortgelyke antwoord gegee as die een hierbo.

Kortom, hy het hom nie ideologies in ʼn hoekie laat vasverf nie en elke situasie op sy eie meriete beoordeel. Hy was ʼn uitgesproke Christen, en het tydens sy en sy vrou Ingrid se latere verblyf in Nederland dikwels oor sy hartverwarmende ervarings in die Protestantse kerk in Schipluiden, waar hy, aldus sy broer, ook geliefde hoof-ouderling was.

Hoewel hy nie die sluier oor sy partypolitieke affiniteit in Suid-Afrika gelig het nie, het ek die gevoel gekry hy sou nie oorweeg om vir die ACDP te stem nie. Ek weer het ʼn ruk lank as mediaman en navorser vir die ACDP gewerk voor ek ontnugter daar weg is. Leopold het wel aangedui dat sou hy in Duitsland kon stem, sou hy waarskynlik vir die CDU stem. By geleentheid het hy baie komplimente en kritiek van lesers gekry toe hy Roelf Meyer en sy span se onderhandelings in Kemptonpark as die derde span se reserwes beskryf het.

Leopold het so ʼn passie vir Afrikaans gehad dat hy alle bande met die Universiteit Stellenbosch, waar hy ʼn buitengewone professor was, verbreek het toe die universiteit met sy verengelsingsbeleid begin het. Hy was egter geen liggewig met tale nie. Toe ek by geleentheid vir hom vra of ek insiggewende artikels in Frans kon aanstuur, het hy laat weet dis nie ʼn probleem nie. Ek weet ook dat hy Duits goed magtig was.

Terwyl ek my stryd teen kanker voortsit en verswak en meestal tot ʼn rolstoel beperk is, sal ek nie meer die wêreld aan die brand kan skryf nie, al dwing die ink in my bloed my terug na die toetsbord.

Ja, dit het my getref dat Leopold tot baie na aan die einde nog met insig en gesag geskryf het, en dood in ʼn rolstoel aangetref is. Sy bydraes oor Rusland, waaroor hy onlangs een van sy talle boeke geskryf het, sou in die konteks van Rusland se oorlog teen Oekraïne baie waardevol kon wees.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

wim ·

Leopold Scholtz het kort na die val van die ou Sowjet Unie as deel van ‘n groep Suid Afrikaanse joernaliste as gaste van hulle Russiese kollegas besoek. Na ‘n paar dae in Ryazan, suid van Moskou saam met een van sy Ruski kollegas het ek hom gevra hoe hy dit ondervind het. Sy kort kommentaar wat my bybly was: “Kapitalisme wat mal geword het”. Ongelukkig het daardie boodskap nooit tot Suid Afrika deurgesyfer nie. Baie van ons landsgenote is nog vas gevang in die kommunis onder die bed mite

Heinrich ·

Ai Herman, ek het altyd so uitgesien na jou skrywes; MIS JOU! Mag ek die Here se seën oor jou afbid gedurende hierdie moeilike tyd.

Treurwilger ·

Lekker om Herman Toerien weer te lees!
Sy skryfwerk word nie vergeet, al is sy “kuberpen” nie meer so woelig nie.

Wyle dr. Scholtz se bydraes oor die Russiese inval sou interessant, en ook voorspelbaar wees, nimmer afgewyk van die hoofstroom.

Grassie ·

Herman – aangenaam verras om weer van jou te hoor. Ek hoop jy kan nog af en toe genoeg energie bymekaarskraap om die pen op te neem. Ek het die afgelope tyd dikwels, wanneer ek die ellende en agteruitgaang van ons land aanskou, gewens ek kon hoor wat Herman Toerien daaroor te sê het. Ek wens jou sterkte en beterskap toe.

Goldy ·

Herman, dis so lekker om weer van jou te hoor, het net eergister gewonder hoe dit gaan. Daars nie sprake van liggewig nie, vir my is jy weer die grootste joernalis en rolmodel (al is ek nie ‘n joernalis nie).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.