Let op geestesgesondheid vóór jy emigreer – kenner

Geskryf deur Charl Fourie

Die Dickason-gesin. (Foto: Facebook)

Suid-Afrikaners van oor die hele wêreld het met skok, medelye en verslaentheid gereageer ná die gesinstragedie wat hom verlede week in Timaru, Nieu-Seeland, afgespeel het.

Die tweejarige tweeling, Karla en Maya Dickason, en hul sesjarige sussie, Leané, is Donderdag dood in hul huis aangetref. Hul ma het intussen in die hof verskyn op aanklag van hul moord.

’n Nieu-Seelandse regter het beslis dat ’n verslag oor Lauren se geestesgesondheid opgestel moet word. Ongelukkig sal ons tot Lauren se volgende hofverskyning op 5 Oktober moet wag om vas te stel wat tot die hartseer gebeure gelei het.

Die tragedie het opnuut die aandag op die sielkundige aspek van emigrasie gevestig. Niemand sal my ooit oortuig dat emigrasie maklik is nie. Ek weet, want ek het dit ook gedoen.

Ek woon in Australië en daar kleef nie dieselfde stigma aan geestesgesondheid soos jare gelede toe ek nog in Suid-Afrika gewoon het nie.

Ek weet dat geestesgesondheidskwessies nie in Nieu-Seeland, die VSA, Brittanje en Europa gestigmatiseer word nie. Niemand in hierdie lande sal anders na jou kyk indien jy ’n sielkundige besoek nie.

My hoofdoel met hierdie skrywe is om jou te help om gebeurlikheidsplanne gereed te hê wanneer jy in jou nuwe land aankom. Dit gaan jou geestesgesondheid uitdaag. Daar sal goeie en slegte verrassings in jou nuwe land wees.

Moeilike aanpassing

Die Dickason-sussies is Donderdag dood in hul huis in Nieu-Seeland aangetref. (Foto: Facebook)

Emigrante ondervind dikwels uitdagings om in ’n nuwe land aan te pas. Hulle moet ’n gevoel van afskeid van Suid-Afrika, hul vriende en familie te bowe kom en terselfdertyd in ’n volkome nuwe omgewing aanpas. Dit kan mense insluit wat heeltemal anders as jy is, algehele vreemdelinge met nuwe gewoontes, verskillende klimaatstoestande, kos, radiostasies, aksente, geure en so kan die lys aanhou.

Verder moet hulle dikwels in ’n tweede of derde taal kommunikeer. Baie mense moet ook gedeeltes van hul professionele kwalifikasies oordoen en onder begin ná ’n suksesvolle loopbaan in Suid-Afrika. Dit gaan dikwels ook met ’n finansiële terugslag gepaard.

Dit is moeilik om ’n ekspat te vind wat nie ten minste ’n paar verhale oor traumatiese gebeurtenisse kan vertel, wat met hulle of hul gesinne gebeur het en wat ’n uitwerking op die emosionele kant van emigrasie gehad het nie.

Dit verg beplanning

emigrasie

Foto ter illustrasie. (Foto: Johannes Rapprich/Pexels.com)

Om vir emigrasie te beplan, is geen maklike taak nie. Jy moet ’n land, staat, dorp of voorstad kies, ’n werk kry, talle dokumente voltooi, reëlings tref rakende visums, verblyf, vervoer, finansies, siekefondse en troeteldiere, en boonop voorberei vir die IELTS (International English Language Testing System), om maar net ’n paar te noem.

Min Suid-Afrikaners beplan hoe hulle hul geestesgesondheid gaan beskerm wanneer hulle in ’n nuwe land aankom.

Ek wil argumenteer dat dit ’n mens se vertrekpunt moet wees wanneer jy met die emigrasieproses begin. Jy en jou gesin sal ’n veerkragtige en positiewe ingesteldheid moet hê om die proses deur te sien.

Verstaan jou en jou gesin se geestesgesondheid-uitdagings voor julle vertrek. Kry professionele hulp en behandeling indien nodig. As jou immigrasie-agent bekommerd is dat jou geestesgesondheid jou kanse kan belemmer om aan die vereistes vir ’n visum te voldoen, bespreek dit met hom of haar. Die meeste lande is net besorg oor omstandighede wat hul openbare gesondheid bedreig en noemenswaardige koste vir gesondheidsorg en gemeenskapsdienste tot gevolg kan hê, of wat druk op die dienste kan plaas waaraan daar ’n tekort is.

Wanneer julle aankom, is dit belangrik om gesond te eet, te oefen en so gou moontlik ’n goeie slaappatroon te vestig.

Kry ’n ondersteuningsbasis

Maak seker jy identifiseer potensiële vriende en sosiale ondersteuningsnetwerke lank voor jy Suid-Afrika verlaat. Sosiale media soos Facebook kan ’n goeie begin wees om nuwe verbintenisse te vorm. Ekspats sal weet waardeur jy gaan en jy sal verstom staan oor hul bereidwilligheid om jou en jou gesin by te staan.

Maak vriende met gesinne wat kinders het wat min of meer so oud soos joune is. Weer eens, probeer dit doen voordat jy die land verlaat en laat jou kinders ook aanlyn met potensiële vriende kontak maak. Probeer ook om vriende te maak met mense wat aan dieselfde kultuur en gemeenskap as jy gaan behoort. Hierdie kwessies is baie belangrik om by jou nuwe omgewing in te skakel.

Verder kan jy so gou moontlik ná jou aankoms in die nuwe land aansluit by ’n klub, ’n kerk of gemeenskapsgroep. Hierdie groepe kan uitstekende emosionele ondersteuning bied. Probeer ook om so gou moontlik ’n mediese ondersteuningspan ná jou aankoms te identifiseer. Maak seker jy identifiseer ook geestesgesondheidspraktisyns.

Maak ook seker dat jy weet wat die hulplyn-nommer in jou nuwe land is en stel dit aan jou kinders beskikbaar as hulle oud genoeg is. Lig diegene wat in die nuwe land na jou kinders gaan omsien of met hulle gaan werk in dat julle emigrante is en dat hulle ook ’n wakende oog oor die kinders se geestesgesondheid moet hou.

Medikasie

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Indien jy voorgeskrewe medikasie vir jou geestestoestand gebruik wat wettig deur ’n geregistreerde dokter of mediese praktisyn voorgeskryf is, moet jy dit saamneem wanneer jy na die nuwe land verhuis. Vra jou immigrasie-agent se raad en hulp hiermee sodat jy die wette rakende die administrasie van terapeutiese middels in die betrokke land kan verstaan.

Die meeste lande sal jou toelaat om ’n voorraad voorgeskrewe medikasie vir tot drie maande die land in te bring. Dra altyd die voorskrif van jou dokter by jou wat uitstippel hoe die medikasie gebruik moet word. Gaan maak ook seker op die webwerf van die departement van binnelandse sake van jou nuwe land watter lys van medikasie by die grens verklaar moet word. Alle medikasie wat moontlik tot misbruik kan lei, moet verklaar word. Maak seker by jou immigrasie-prokureur indien jy onseker is.

Onthou, jy is nooit alleen nie en kan uitreik om hulp te kry. Jy sal aangenaam verras wees oor hoeveel liefde en omgee daar rondom jou in jou nuwe land is.

  • Charl Fourie is ‘n kliniese sielkundige verbonde aan Windsor Allied Health in Tasmanië, Australië. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
AardSwerwer

Ons het ses jaar gelede verhuis na die VSA en ek stem 100% saam met die artikel. Die uitdagings wat ons ervaar het was meer as wat ons ooit kon droom (of eerder nagmerries oor kon hê). Hier is my raad indien emigrasie jou voorland is: Beplan om die eerste week of maand af te vat. Doen iets lekkers – sien dit as jou wittebrood tydperk met jou nuwe omgewing. Sluit so gou moontlik by n goeie kerk of ander groep aan wat vir jou ondersteuning kan gee. Berei jouself en jou familie voor vir n rowwe paar jaar. Jou… Lees meer »

Pieter

As ons werk kan kry in SA , en die polisie hulle werk doen om ons veilig te ou, sal ons nie immigreer nie.
Dis BBEEE se skuld dat die meeste mense geen keuse het nie, as om n beter heenkome in n ander land te gaan soek nie. Natuurlik gaan jou geestesgesondheid daaronder lei, om familie, en vriende agter te laat. Ruk hierdie regering reg, met al sy onregverdigge wetgewing!

Johann Basson

Baie goeie opbouende artikel. Groot dank daarvoor Charl.
Om te emigreer is nie kinderspeletjies nie. Om in Suid-Afrika te bly is inderdaad beslis nie kinderspeletjies nie. Kom ons respekteer mekaar se lewenssieninge, lewensbenaderinge en besluite: of jy emigreer en of jy in Suid-Afrika bly woon.

Wielspore

Net soos verskeie Suid Afrikaners het ons ook vriende en familie afgestaan aan emigrasie. Opmerklik het die gesinne wat gou besluit het om trek net so gou terug gekom het. Die ander het weer lank gespaar en goed beplan en hulle is gelukkig in die buiteland en kom kuier nog in SA. Volg gerus die raad soos in die berig veskaf word, Charl Fourie weet waarvan hy praat.

koos10

Familie van my het ook hulle goed gevat en getrek. Die vrou en kinders wou nie, maar die man het hulle oortuig deur ‘n kombinasie van brein spoelling en dreigemente. Hulle was bitter wel af in SA. Hulle verkoop alles en gaan, sonder om te wag dat die geld vir alles in hulle sakke is. Wel hulle het hul besigheid verloor in SA, en hulle beoogde besigheid oorsee het niks van gekom nie. Hulle kinders moet nou werk om hulle aan die lewe te hou. Hulle kan nie eers bekosting om te kom kuier nie. Jy moet werklik alle voordele… Lees meer »