Life Esidimeni, een van SA se grootste menseregteskendings

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die staat het versuim om die kwesbaarste lede van die samelewing te beskerm en het ʼn aktiewe rol in 144 psigiatriese pasiënte se dood gespeel.

Vir baie mense voel dit asof die Life Esidimeni-tragedie al só lank gelede gebeur het, maar vir die geliefdes van hierdie slagoffers is dit nou tyd dat geregtigheid moet seëvier. In 2016 het die Gautengse Departement van Gesondheid ongeveer 1 400 psigiatriese pasiënte van Life Esidimeni na verskeie nieregeringsorganisasies geskuif, ten einde onder meer geld te spaar. Dít ten spyte van bewyse dat verskeie fasiliteite ongeskik vir menslike verblyf was, asook waarskuwings van kenners dat die pasiënte nié geskuif moes word nié.

Dit was onlangs my plig, as woordvoerder van Helpende Hand, om te sit en luister na verhale van verdriet en dan ook hul stem in die media te wees. Met die eerste mediavergadering verlede week, word ál 144 slagoffers se name hardop gelees. Die voorsitter wat hierdie name moet voorlees, moet elke nou en dan ʼn traan van haar wang afvee, diep asemhaal en weer aangaan. Die rou en die seer is nog lewend tussen ons ná afloop van een van die ergste menseregteskendings wat ons nog gesien het.  Soos wat elke naam gelees word, verskyn daar foto’s van die slagoffers op my rekenaarskerm. Foto’s van kinders, mammas, pappas, oumas, oupas, broers en susters wat aan die hand van die staat tydens hierdie haglike omstandighede gesterf het.

Onnodig dood: 144 gesigte, 144 name, 144 mense. ʼn Mens kan nie net anderkant toe kyk as dit by hierdie saak kom nie. Hierdie mense kon nie vir hulleself praat nie – óns moet nou hulle stem wees. Ons land is tans in ’n donker tyd, en juis tydens hierdie donker tye moet ons opstaan vir die mense wat nie vir hulself kan opstaan nie. Ses jaar later sal ons steeds aanhou om vir hierdie gesinne se seer te veg. Die staat moet na hierdie families se hartseer en na hulle vrae luister. Dit is nou tyd dat die persone wat hiervoor verantwoordelik was, die nodige straf dra.

Gedurende die arbitrasie is al hierdie hartseer voorgelê. Die volgende deel van die proses is waar daar deurtastende ondersoeke gedoen sal word om te verseker dat die mense wat hierdie mense se dood veroorsaak het vir hulle dade verantwoordelik gehou word.

Solidariteit Helpende Hand en AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan tans vir Sandra de Villiers in die geregtelike doodsondersoek (GDO) van haar broer, Jaco Stols, se dood in 2016 tydens die Life Esidimeni-tragedie by. Advokaat Phyllis Vorster, aanklaer by die privaatvervolgingseenheid, is ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag aangestel om De Villiers en drie ander pasiënte namens Helpende Hand tydens die GDO by te staan. Die ondersoek het Maandag begin en word in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor.

Stols het in die fasiliteit waarheen hy geskuif is totaal verhonger. Hy is eers – op aandrang van De Villiers – gehospitaliseer toe hy al 39 kg geweeg het. Dit was toe reeds te laat om hom te red. Staatsamptenare het nie eens die nodige toestemming van Stols se naasbestaandes gekry om hom te skuif nie, en De Villiers is aanvanklik ook nie toegelaat om hom by die nuwe fasiliteit te besoek nie.

Nóg ʼn slagoffer is Frans Dekker. Die South African Depression and Anxiety Group (SADAG) het op hul gedenkwebwerf vir die pasiënte sy verhaal gedeel en dit kan nie anders as om ʼn mens se hart te breek nie.

Mag hierdie mense se stemme gehoor word. Mag Jaco en Frans se stemme gehoor word, al is hulle nie meer hier nie. Geregtigheid móét geskied. Jy kan ons in hierdie saak ondersteun. SMS die woord “geregtigheid” na 45763 (ʼn SMS kos R2) en Helpende Hand sal jou skakel vir ’n donasies om te help om die regskostes te dek.

Jou broer is nommer 97

Magdelena de Lange (links) saam met haar kleinseun Shane met ‘n foto waar sy dans saam met haar oorlede broer Frans Dekker. (Foto: LifeEsidimeni.org/SADAG)

Frans Dekker het as ʼn motorwerktuigkundige gewerk. Hy was ʼn lewenslustige mens wat daarvan gehou het om partytjie te hou. Een aand is hy in ʼn ernstige motorongeluk beseer, wat hom met permanente breinskade gelaat het. Volgens sy suster Magdalena kon hy nie meer behoorlik loop, praat, óf eet nie.

Ná die tragedie het Magdalena gesukkel om ʼn fasiliteit op te spoor om na Frans om te sien. In 2003 het sy uiteindelik vir hom plek by Life Esidimeni in Randfontein gekry. Magdalena sê dat sy Frans aan die begin van sy verblyf by Life Esidimeni gereeld besoek het, maar sy het toe na Noordwes verhuis. Sy en haar man is uitmekaar en sy het ʼn werk in dié provinsie gekry. Magdalena meen dat sy, ten spyte van haar situasie, een maal ʼn week vir Frans gebel het om uit te vind hoe dit met hom gaan, en dat sy ook so gereeld as moontlik vir hom gaan kuier het.

Een dag in 2015 wou sy vir Frans gaan kuier. Sy het hamburgers en malvalekkers saamgevat, maar een van die wagte wou haar nie inlaat nie.

Hy het gesê dat daar niemand daar was nie.

Magdalena het haar vervies en op die wag geskreeu en gesê dat haar boetie daar bly.

Daarna het Magdalena drie weke lank na Frans gesoek. Sy was buite haarself van bekommernis omdat sy na haar werk in Noordwes moes terugkeer. Dit het ontelbare oproepe gevat om hom op te spoor.

Uiteindelik het sy hom by die niewinsgewende organisasie (NWO), Tshepong, opgespoor. Hy was in ʼn haglike toestand, en wat haar die meeste ontstel het, was die feit dat niemand oënskynlik in besit van sy mediese rekords was nie.

Hy kon nie die appel bykom nie.

Die verpleegster het vir my gesê dat hy nie wil eet nie. Die verpleegster het gesê dat hulle ʼn appel langs sy bed neergesit het, maar dat hy nie daaraan wil raak nie.

Magdalena het toe die verpleegster ingelig dat Frans nie self kan eet nie; hy kan niks met sy hande optel nie en moet gevoer word.

Twee weke later is Frans in die hospitaal opgeneem. Magdalena wou bitter graag van Noordwes af teruggaan om hom te gaan besoek, maar sy het nie geld vir vervoer gehad nie. ʼn Vriendelike dokter het haar wel die geleentheid gegun om met hom op sy selfoon te praat.

“Ek wil huis toe gaan,” het Frans vir sy suster gesê. “Ek is lief vir jou.”

“Ek is lief vir jou ook,” het sy geantwoord. 

Dit was die laaste keer wat hulle gesels het.

Magdalena sê dit voel of haar hele wêreld ineengestort het.

Toe Magdalena haar boetie se liggaam moes gaan uitken, het die verpleegster vir haar gesê dat haar boetie “nommer 97” is. Magdalena het nie verstaan wat sy bedoel nie. Dit was die eerste keer wat sy van die Life Esidimeni-tragedie te hore gekom het. Frans was die 97ste persoon wat gesterf het.

Tot vandag toe het Magdalena geen idee hóé Frans oorlede is nie. Hy is begrawe sonder dat enigiemand haar ingelig het, en sy kan nêrens sy graf opspoor nie.

Magdalena sê sy kan nie verstaan hoe hulle so iets aan iemand kon doen wat nie eens kon praat nie, wat nie eens om hulp kon vra nie. Sy sê dat die mense wat die besluit geneem het om die pasiënte te skuif eenvoudig net met hulle lewens aangaan, terwyl hare in duie gestort het. Frans het ʼn verskriklike lyding voor sy dood deurgemaak, en hulle het hom sommer net begrawe.

Sy sê haar wens is dat sy net graag ʼn blom op sy graf wil gaan neerlê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Een van die ontelbare slagvelde wat die gevaarlike ANC tornado in sy voortdurende pad van verwoesting nalaat!!!