Lindie Strydom: Dringende deernis

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Ons gemeenskap in Centurion is geruk ná die moord op ʼn huiswerker in Doringkloof Dinsdagoggend. Riani Sieberhagen is die jong vrou wat soos elke ander oggend in haar woonbuurt gaan draf het, die geskree van die vrou gehoor, haar daar gekry het en ná Riani ʼn paar voordeurklokkies gelui het en die karre probeer stop het, is die vrou in haar arms dood.

Ek wonder so by myself wat ek vir iemand sou gesê het wat besig is om dood te gaan. Die polisie skat sy was in haar 40’s, so miskien sou ek uitgevra het oor haar man en kinders, haar mense. Ek het onlangs in ʼn fliek gesien waar iemand op ʼn ongelukstoneel vir die sterwende man vra of hy vir Jesus ken. Sou ek daaraan gedink het? Hoekom leef ek nie in elk geval elke oomblik van elke dag met ʼn dringendheid om vir alle mense wat eintlik maar op ʼn manier besig is om dood te gaan, te vertel van Jesus nie? En nie net om op die nippertjie iemand se ewigheid te verander soos die man langs Jesus op die kruis nie, maar dat iemand hier en nou reeds God se liefde, genade, en vrede wat alle verstand te bowe elke dag kan ken en geborge voel in hulle verhouding met God.

Ek kom toe af op ʼn blog wat Riani geskryf het wat vertel hoe die Here haar voorberei het vir daardie oggend. Tydens ʼn onlangse worship-aand by haar kerk, het sy ervaar dat die Here haar met soveel compassion vir verlore mense vul. Sy sê sy het nog nooit soos daardie aand só gehuil vir mense wat nie die Here ken nie. Sy het die gewigtigheid van ons Matt. 28-opdrag gevoel en wou net uitgaan om vir die wêreld te gaan vertel van God se liefde.

Sy het begin bid vir spesifieke name wat die Here op haar hart druk, begin uitreik na ou vergete vriende, vroeër opgestaan om te bid en sy het woord ontvang dat die Here haar deernis met mense wil gebruik.

En toe is sy die een wat Dinsdagoggend daar moes wees… Riani het by die vrou gesit en gewag dat die paramedici kom. Sy het nog gelewe, maar het nie gereageer nie. Riani het vir haar gebid en sy het ook haarself ná die tyd gevra hoekom sy nie vir die vrou van Jesus vertel het of haar na die Here probeer lei het nie, maar dis asof God haar gerusstel het – Hy was daar…

Riani was besig met haar daaglikse roetine, dit wat sy maar elke dag doen, maar die groeiende begeerte in haar hart en haar gebed vir mense wat sy dalk nog nie eers ken nie, het haar op ʼn ander manier bewus en gereed gemaak vir daardie ontmoeting.

Mag ons dit nooit as normaal aanvaar dat nog ʼn gesin se lewe net eenvoudig moet aangaan sonder die ma en vrou van die huis nie en mag die Here asseblief ons perfekte en netjiese roetines onderbreek dat ons met ʼn dringende deernis by mense sal uitkom wat besig is om te leef, te oorleef en ook dood te gaan sonder Jesus.

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Blommie ·

Pragtige woorde Lindi. Ja ons moet almal vir almal bid. So jammer vir die dame se gesin en familie. Ek dra hulle aan ons Vader op in gebed

cathy ·

so jammer vir die vrou, dankie Riani dat jy met deernis haar ondersteun het in haar laaste oomblikke, so hartseer vir haar familie

Hettie ·

Dankie Lindie, en Riani, en Dankie Heilige Gees vir die dringende klop en skoene van gereedheid!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.