Maaik se Mouterbaaikdam

ou-hande-drankie

Argieffoto.

Ludwig Visser

In die Boesmanland is die weer áltyd ’n gespreksaak. Dis nou een onderwerp wat ’n mens selfs met ’n wildvreemdeling kan aanvoor sonder om gevaar te loop dat jy dalk op sy tone sal trap. Die man kan mos nou ’n Nat of ’n Sap wees, en as jy dit nie weet nie, grawe jy dalk in die verkeerde politiek rond, en dan neem hy dalk aanstoot. Maar nie oor die weer of water nie. Daaroor kan jy tydig en ontydig met álmal gesels, en niemand sal aanstoot neem nie, want die weer en water is vir ons almal lewensbelangrik, selfs belangriker as jou Natgeit of Sapgeit.

Ons klompie bure het die dag daar op Pofadder by die ramveiling, soos gewoonlik, om die etenstafel saamgetrek. Dit gaan mos maar so by so ’n veiling. Die bieëry is belangrik nadat ’n man al die ramme wat aangebied word, goed deurgekyk het, maar die kuier wat daarmee saamgaan, is net so belangrik. En was die braaihoender wat die vroue die dag daar vir ons voorgesit het, nie vir jou lekker nie. Hoender is mos ’n alte lekker afwisseling vir ons wat net gewoond is aan skaapvleis. Dis mos amper asof iemand vir jou poering gegee het as jy die dag lekker hoender kry.

Soos gesê, dit duur nie lank nie, toe gesels die manne weersake. Elkeen het sy eie tekens gesien dat daar droogte of mooi reëns kom. Dié een het die panne hoor dreun, daardie een het die rysmiere sien werk, ’n ander een het gesien die donkies staan elke môre teen sonop met hul koppe noord. Só het elkeen maar sy teken.

Oom Sopie, weet ons, is ’n ou Boesmanlander en as hy die weer hierdie of daardie kant toe sien kom het, is hy dikwels in die kol. Ons glo meer in hom as in die slim meneertjies wat oor die draadloos so die weer voorspel. Volgens hulle reën dit altyd net elders, nooit hier by ons nie. En elders staan op geen kaart nie.

“Ek het darem nog nie probleme nie,” sê oom Sopie. “My pompe trek nog goed water en die Mouterbaaikdam het ook nog nie opgedroog nie. Solank hý hou, weet ek daar is nog ondergrondse water.”

Ons ander ken ook die Mouterbaaikdam. Dis eintlik net so ’n breë holte onder ’n kalk-bakkrans daar op Duinpan, oom Sopie se plaas. En daar staan heeljaar water. Oom Sopie het al selfs eenkeer met ’n trekker en ’n kragkop daarvandaan water na sy ver krippe toe gepomp toe dit ’n droë jaar was en hy het sy skaapgoed mooi deurgehaal, terwyl ons ander maar swaargekry het. Ons moes selfs van die springbokke kop afsny wat ons in die veld kry lê het om die arme goed ’n ellendige dorsdood te spaar.

“Oom Sopie, wat is die storie van dié dam?” vra een van die bure se knape wat ook al groot genoeg is om saam met sy pa te boer, maar nog nie oud genoeg is om al Boesmanland se stories te ken nie. “Ek bedoel, hoekom nou die Mouterbaaikdam? Hier in ons wêreld is mos nie mouterbaaiks nie? Waar kom die dam aan die naam?”

“Nou loop grawe jy mos diep,” sê oom Sopie en vat ’n hoenderboud met sy groot duim en wysvinger vas sodat hy hom behoorlik skóón kan afeet. “Ek het ook maar die storie gehoor, want dit was my pa wat mos destyds vir Duinpan gekoop het, en ek was toe nog sommer ’n penkop.

“Ewen’twil, die vorige baas van Duinpan was glo ene Maaik Oreborsel. Hy was goed gedoop Migael, soos dit in die Bybel staan, maar toe het sy vrou die Ingelse vorm van die naam gekies en uiteindelik was hy glo net Maaik.”

Die Oreborsel, het ons ander geweet, is eintlik Oberholster, maar wat maak dit nou saak, oom Sopie het dit as Oreborsel gehoor, en so sal dit bly.

“Dié Maaik was glo soldaat in die vorige oorlog, glo selfs in Egipte en in die Noorde geveg. En toe hulle nou ná die oorlog terugkom, het Jannie Smuts se gowwerment besluit om die manne bietjie te beloon vir hul se gebakleiery teen die Dytsers en Moesselinie en om hulle weer bietjie te help om aan die gang te kom. My pa het my altyd vertel … veral die manne wat geboer het, het van die militêre voertuie en mesiene gekry wat ná die oorlog oorgebly het, en wat hulle op die plaas kon gebruik, soos lorries en bakkies en sulke goeters.”

Hierdie keer is dit ’n vlerk wat onder onder oom Sopie se groot vingers deurloop, maar met dié speel hy sommer gou klaar, want aan ’n hoendervlerk is daar mos nou nie juis ’n mondvol vleis nie.

“Oreborsel het toe ook aansoek gedoen vir een van dié oorloggoeters, en hy kry toe ’n mouterbaaik, so ’n gróte, nogal ’n haliedywelsin.”

Oom Sopie lag so ’n droë laggie. “En volgens wat ek later gehoor wat met hom en die mouterbaaik gebeur het, was die ding behóórlik ’n haliedywelsin.”

Toe die hoender klaar is, is daar nog die bakkie sagopoeding, en ons weet almal hoe lief oom Sopie vir ’n soetdingetjie is, daarom waag niemand om hom aan te jaag om voort te gaan met die storie oor Maaik en die mouterbaaik nie.

“Ewen’twil, daar kom die mouterbaaik toe op die plaas aan. Dit het met die trein tot op Bitterfontein gekom en daar het Maaik hom op sy bakkie gaan haal. My pa het vertel dit was ’n hele konsternasie die dag toe Maaik daar op die plaas stilhou en die mouterbaaik aflaai. Al die bure en hul kjenners en al die plaaswerkers en hulle se kjenners was daar. Maaik se vrou moes kanne en kanne koffie maak en skuinskoek uitdeel.

“Maaik was skoon gaande oor sy oorlogsding, maar dit was ook ál, want hy het nie die vaagste benul gehad hoe ’n mens so ’n ding ry nie. Hy het geweet jy sit in die saal en jy hou hom aan daardie paar Afrikanerbeeshorings vas om hom in die pad te hou nadat jy so hier geskop en daar getrek het om die mesien te laat vat, maar dis ook al.

“Hy maak toe so. Hy trek aan alles, skop hier en trap daar, en skielik het die ding glo hier onder sy sitvlak gebrul. Maaik het aan nog so ’n paar goed gedraai en getrek en die haliedywelsin het nog harder gebrul. Die kjênners het huilend laat spaander, die werfhoenders het glo so ver gevlug dat die muskeljaatkatte hulle die volgende dag almal gevang en opgevreet het.

“En toe Maaik nog weer aan ’n ding trek, toe vlieg die haliedywelsin hier onder hom weg dat die klippers so met ’n boog trek. En Maaik klou vir dood aan daai Afrikanerhorings. My pa vertel hy het die ding nogal regop gehou, maar hy het oor daai plaaswerf gestorm soos ’n jong tollie wat ’n vuurwarm doringhoutkool onder sy stert vasgeknyp het.”

Teen daardie tyd was ons ander natuurlik al net so nuuskierig soos die man wat die eerste die vraag gevra het, en ons kon nie wag om te hoor wat met Maaik en sy haliedywelsin geword het nie, maar niemand jaag vir oom Sopie aan nie.

“Oreborsel storm toe voort,” vertel oom Sopie. “Maar toe hy sien hy hou reguit koers na daardie hoë kalk-bakkrans toe en hy weet nie hoe om die mouterbaaik weer tot stilstand te bring nie, toe gooi hy sy lyf net voor die krans so skuinsweg en met dié swenk die mouterbaaik ook skuins weg en kortom, net voor dit die krans tref. En hier kom Maaik weer terug in die rigting van die huis. En weer spat die kjênners en die honde. Die ding dreun hier onder Maaik en so in die verbygaan skreeu hy vir die tannie: ‘Foun daar ’n mekenniek en vra hom hoe maak ’n mens die dooi ding dood!’ Maar die tannie hoor niks bo die lawaai nie. Anderkant die huis swenk Maaik toe maar weer, en hier kom hy weer by die huis verby. En hy skree weer: ‘Foun die mekenniek!’, maar weer hoor niemand enigiets nie. Hulle dink almal die man juig maar net omdat hy so lekker jaag.

“En dis weer reguit bakkrans toe, en weer is Maaik benoud, want hy sien al hoe loop die haliedywelsin hom te pletter daar teen die krans. En weer swenk hy en weer bring hy die mouterbaaik se kop om in die ander koers. Weer by die huis verby, weer hoor die tannie hom nie, en dan weer terug krans toe.

“En so gaan dit amper die hele dag lank aan, want Maaik het nie geweet die ding se tenk is vol petrol nie. Dis op en af oor die werf en elke keer is dit net so op ’n nippertjie en hy swenk voor die bakkrans om.”

“En die dam, oom Sopie?” Die jong boertjie kan nie meer sy nuuskierigheid en sy lag bedwing nie, net soos Maaik nie die haliedywelsin kon bedwing nie.

“Nee, kyk, daar was mos altyd so ’n klam kol daar onderkant die krans, en almal het altyd gedink daar moet ’n ondergrondse watertjie wees, maar niemand het ooit daar gaan boor nie, want dit was bietjie op ’n ongeleë plek. Maar so met al Maaik se skerp swenke voor die krans, het hy later skoon ’n holte daar uitgery. En soos die holte dieper geword het, so het dit al hoe natter geword. Want sien, daar was eintlik ’n standhoudende fontein  waarvan die jonger manne soos Maaik nooit notisie geneem het nie.

“Eers so teen die laatmiddag, toe die mouterbaaik se pêtril gedaan is en die ding self vrek en loop staan, val Maaik Oreborsel sommer net so uit die saal toe die baaik omkantel. Daar moes hulle hom glo gaan lawe en huis toe help. Hy kon die volgende oggend eers gaan kyk waar hy so elke slag op ’n nerf na teen die bakkrans vasgejaag het, en net daar sien hy dit was toe glad nie als verniet, dié jaery, want daar is die fontein toe oop en dis heel lekker water wat daar uitloop, glad nie erg brak nie.”

Later, verduidelik oom Sopie, nadat sy pa Duinpan gekoop het, het hy die fontein behoorlik laat oopskrop en vandag nog gebruik hulle van daardie water wat Maaik en sy haliedywelsin so oopgery het.

Die verroeste oorblyfsels van die mouterbaaik lê nog steeds daar op die plaas in ’n ou skuur. Oreborsel het dit nooit weer op die haliedywelsin gewaag nie. Maar oom Sopie oorweeg dit nog steeds om die mesien se oorblyfsels as ’n soort monument daar langs die Mouterbaaikdam op te sit. As eerbetoon vir die oudsoldaat wat nie net teen die Dytsers en Moesselinie gebaklei het nie, maar selfs die aarde se water oopgeveg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.