Maak inheems tuin

Deur Karen Viljoen

(Foto: Karen Viljoen)

Wat het melktert, koeksisters, kraanvoëlblom en spekbome in gemeen? Behalwe dat dit lekker klink, is dit ook alles iets wat eie aan Suid-Afrika is. Inheems is ʼn mooi word wat beteken dat iets eie is aan die land of gebied waarin dit voorkom. Ons kan ook sê dat dit natuurlik in die gebied voorkom. Net soos ons inheemse diere en voëls in Suid-Afrika kry, het ons ook die pragtigste inheemse plante.

Die beste keuse wat jy in jou tuin kan maak is om soveel as moontlik inheemse plante te plant. Hier is ʼn paar redes hoekom die natuur, en jou sak, daarby sal baat:

Plante inheems aan Suid-Afrika is:

  • Droogtebestand, gehard en kan dus met baie minder water klaarkom. Sodra hulle gevestig is, kan hulle basies hulleself onderhou aangesien hulle al oor jare aangepas het vir die spesifieke area se klimaat.
  • Skuilplek en kos vir baie diere, voëls en insekte en bevorder die biodiversiteit van die omgewing wat ʼn gesonde ekosisteem verseker.
  • Goedkoper om aan te koop en optimaal te laat groei aangesien hulle minder bykomende voedingstowwe nodig het.
  • Vinnige groeiers
  • Minder geneig om as indringerplante bekend te staan.
  • Gerat om lugbesoedeling te verminder.

Dit maak dus baie sin om moeite te doen om inheems te plant, dit maak die lewe lekkerder en makliker en jy sal sommer trots voel as jy besef dat jy verantwoordelik leef.

Daarmee sê ek nie dat alle uitheemse plante ʼn nee-nee is nie. Ons moet net ons fokus verskuif en inheemse alternatiewe soek. Oorweeg die volgende:

Die inheemse Vanwykshoutboom in stede van die uitheemse Jakarandaboom. (Foto verskaf)

Plant eerder inheemse Katjiepiering (“Gardenia thunbergia”) as die uitheemse Katjiepiering (“Gardenia jasminoides”). (Foto verskaf)

Plant eerder die Speldekussing (Leucospermum-spesies) as die Bottelborsel (Polistemoon-spesies) aan. (Foto verskaf)

Sou die plantname jou moedeloos maak, kan jy gerus by jou plaaslike kwekery ʼn draai maak en vra om die inheemse plante te sien. Verskeie kwekerye het aparte afdelings vir “trots Suid-Afrikaanse” plante.

Inheemse bolplante vertoon pragtige blomme en het ook die voordeel van die vermeerdering van die bolle. Kort voor lank kan jy jou tuin vol plant met die addisionele bolle.

Dink aan:

Crocosmias (Foto: Karen Viljoen)

Wildeknoffel (Foto verskaf)

Watsonia (Foto: Karen Viljoen)

Inheemse grasse wat geplant word in ʼn mengsel van ander inheemse plante soos byvoorbeeld Vuurpyle, kan ʼn mooi vertoning lewer.

Hou in gedagte dat sommige bolplante in die winter dormant raak en die loof en blomme verdwyn. Dit sal egter weer in die lente uitloop en dit is dus ʼn slim besluit om dit te kombineer met plante wat mooi lyk in die winter.

ʼn Inheemse tuin mag ook meer deurmekaar geplant word, probeer om die natuur na te boots en bring selfs ʼn paar mooi rotse en stompe in.

Daar is ook ʼn groot verskeidenheid eetbare inheemse plante, voorbeelde is spekbome se blare wat ʼn lekker surigheid in ʼn slaai kan skep. Rooibostee is ʼn produk eg aan Suid-Afrika en word geoes van ʼn fynbosspesie. Noem-Noem en Kei-appel het heerlike vrugte wat uitstekende vitamiene C-eienskappe het. Dit is ook geskik vir ʼn lekker, plaaslike konfyt.

Probeer gerus om trots inheemse te plant. Só verseker jy ʼn beter omgewing vir die nageslag wat ewigheidswaarde het. Ons het ʼn verantwoordelikheid om om te sien na ons natuur, dit sorg vir ʼn beter wêreld. Aangesien inheems beteken iets eie aan sy omgewing moet ons ook onthou om geestelik inheems te leef, eie aan die voorbeeld wat die Here vir ons stel en van ons verwag.

Geniet jou inheemse tuin en let op na al die nuwe voëls en insekte wat dit saam met jou gaan geniet.

  • Karen Viljoen is landskapargitek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.