Martelmars na ʼn nuwe motorlisensie

flip-buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Die skril geskel van my selfoonwekker red my net betyds van die groot Krokodil wat grynslaggend op my afpyl. Ek skrik natgesweet wakker en slaan wild om my rond. “Pasop, jy sal jou koffie raakslaan!” roep my vrou verbaas langs my bed uit.

Ek gaan sit regop en probeer tot verhaal kom terwyl ek dorstig na die koffie gryp. Dán tref die werklikheid my. Vandag is die dag, my eie persoonlike D-dag. Ek val agteroor teen die kussing. “Ek dink volgende week sal beter wees,” probeer ek floutjies ʼn uitstelplan maak.

“Nee, vandág is die dag,” sê Vroulief sag maar ferm. “Jy kan dit nie weer uitstel nie.” Ek sug en wonder of die Krokodil my nie maar liewer maar eerste moes … “Hier’s Pa se oefenklere,” sê my jongste wat onverwags ingekom het. “Maar Pa mag vanoggend net ontspanningsoefeninge doen, glad nie kragoefeninge nie. Netnou gebeur daar ʼn lelike ding.” Ek sug weer. Ek het nie eens krag om op te kom nie, wat nog van oefen.

Ek maak uiteindelik klaar en strompel aan kombuis toe. “Maak seker jy het al jou papiere,” sê my vrou vir die soveelste keer. Net toe lui die telefoon. “Dis oom Piet, Pa, hy wil net totsiens sê voor pa moet gaan.” Sy spreek die “gaan” uit asof ek nie weer gaan terugkom nie.

“Dis weer neef Piet Politiek met sy doemprofesieë,” sê my vrou ergerlik. “Sê vir hom Pa kan nie nou praat nie.” Maar neef Piet laat hom nie sommer afskud nie. “Hy sê Pa moet onthou ons voorouers het die Drakensberg kaalvoet geklim,” kom die boodskap van die foon af. “Dis nonsens,” sê my vrou. “Dit was die vrouens, die mans het gerieflik op hul perde gery.” Ek het nie nou lus om oor die geskiedenis te redekawel nie. Ek moet eers hierdie dag se lydensweg stap.

Maar my jongste is ʼn kampioenboodskapper. “Oom Piet sê Pa moet onthou hoe dapper het Koki teen Raka geveg,” hoor ek dofweg deur my kloppende hoofpyn. “Gmff,” sê my vrou parmantig. “Koki het gesneuwel.” “Presies,” sê ek. “En nou wil jy my ook nog hier uitstuur in die Leeukuil in.”

Die uur is nou daar

Ek maak die motorhuis se deur oop. Al my bure staan voor die deur en kyk my swyend aan. Die stilte hang swaar in die lug. ʼn Blaar rol lui oor die pad. Die mans skud om die beurt my hand, spreek ʼn bemoedigende woord of twee, klop my op die skouer. Dan neem ʼn oud-weermagman die leiding. “In Angola het ons voor ʼn operasie …” begin hy en skuif ʼn paar klippies rond met die voet. Die mans kom staan belangstellend in ʼn kringetjie nader om te kyk, die koppe skeef van belangstelling. “Flip gaan nie oorlog maak nie,” breek Vroulief die gevegsplan op. “Hy moet nóú ry.” Sy gee my karsleutels aan. Ek vat dit swaar. Die uur is nou daar. Ek kyk smekend na die mans, maar hulle kyk af toe hul vrouens kwaai vir hulle kyk.

“Wat gaan nou hier aan?” vra ʼn vreemdeling in Jerusalem wat nou net uitasem by ons groepie aangesluit het. “Flip moet sy karlisensie gaan hernu – by die poskantoor!” fluister iemand. ʼn Geskokte stilte daal neer. In die verte huil ʼn kind treurig. ʼn Dikkoppie krys hartseer. Almal is sprakeloos. “Die arme man,” sê die nuweling. “’n Staatskantoor! Weet hy wat op hom wag?”

“Sjuut,” sê iemand. “Moet dit nie nóg erger maak nie.” “Aggenee,” sê die dokter simpatiek. “Ek dog hy moet net vir ʼn operasie gaan.” “Sal ons nie vinnig ʼn paar kinders kan reël om vir hom ietsie bemoedigends te sing nie?” vra ʼn gesoute onderwysman. “Moenie verspot wees nie,” raas sy vrou. “Jy hoor sy vrou sê hy moet nou gaan.” “Pak gou vir hom ʼn padkosmandjie,” sê die rekenmeester met ʼn hik toe sy vrou hom elmboog.

Ek verstaan skielik die vrouens se kaalvoet oor die berge beter. Ek klim waardig in my kar en trek stadig weg. ʼn Paar manne klap onseker hande.

Staatskantoor

By die poskantoor sien ek die ellelange ry van ver af kronkel. Maar hulle beskut hul kliënte teen hul eie ondoeltreffendheid. ʼn Lang afdakkie is gebou sodat die voorstes in die koelte kan staan. ʼn Paar tree voor my sien ek hoe ʼn jong man en meisie vir die eerste keer ontmoet en skaam groet. Die ry skuifel skilpad-stadig vorentoe. Ek begin met die mense voor en agter my gesels. Dit raak gesellig. “Dis sedert ‘hulle’ oorgeneem het wat dinge so lank vat,” sê die ou voor my. “Kyk oor jou skouer,” sê ek vir hom. Hy kyk om en sien die KFC. “Wat moet ek kyk?” vra hy. Gelukkig baklei niemand vandag daar nie. “Kyk hoe vinnig beweeg die rye daar,” sê ek. “Daar is nie eens ʼn afdakkie vir rye nodig nie.” “Dis dieselfde mense wat hier én daar werk,” sê ek. “Die verskil is hierdie is ʼn staatskantoor, en daardie is privaat.”

Die ry staan nou al lank stil. Voor my hou die jong man en meisie van nou-nou al handjies. As dinge so aangaan, raak hulle nog in die ry verloof, dink ek. Uiteindelik is ek voor in die tou. Daar is vyf doodstil toonbanke, en net een wat besig is, naamlik die lisensietou. “Ek kom net my lisensie hernu,” sê ek senuagtig, self verbaas dat dit my beurt is. “Jy moet kontant betaal,” sê die vrou agter die toonbank. “Ons vat nie kaarte nie.” En dan: “Next!” Ek voel of ek wil flou word. Alles weer van nuuts af oor! Gelukkig is daar nie ʼn ry by die kitsbank nie, dis mos privaat. Ek trek die geld en gaan staan weer agter in die ry. My bene pyn en my rug is seer, en my kop voel ook nie baie lekker nie. Toe ek uiteindelik betraand met die lisensie in die hand staan, lyk hy vir my pragtig. Dit voel soos toe ek ná jare se werk graad gekry het.

Ek ry huis toe, oortuig dat almal langs die pad my nuwe lisensie bewonder. Net toe ek by die straat indraai, sien ek my vrou en jongste op die sypaadjie staan. Oortuig hulle is die voorhoede van die verwelkomingskomitee, ry ek trots in. Ek hop flink uit die kar, en wil net triomfantelik die lisensie wys, toe sê my vrou: “Jy moet asseblief ons jongste môre na Binnelandse Sake toe vat, dis tyd vir ʼn ID-kaart.” My bene swik swak onder my.

Daardie aand jaag die Krokodil my heelnag rond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Susan ·

Nee wat Flip, glad nie meer so erg nie! Inteendeel, alles is nou weer deeskedae gestreamline! Maar, ek het nou lekker gelag! Dankie, goeie begin vir ‘n Maandag môre!

Jacques ·

Susan, as jy nie omgee nie, deel asb met my waar jy woonagtig is. Ek is bereid om n duisend myl te ry vir “gestreamline de” binnnelandse sake en lisensie kantoor… ek moet juis n besoek aan buide die instansies maak.

Henry 59 ·

Rustenburg by die mall het my lisensie so 10 minute gevat. Het voor die tyd die vorm van die internet afgelaai ingevul en geteken, gebel en uitgevind of hulle kaart vat en toe eers poskantoor toe gegaan. Binnelandse sake was n groot riller………………………………..

Disselboom ·

Die stuk is oulik geskryf, maar tog ‘n teleurstelling: en die opskrif “Martelmars…” is nie in goeie smaak gegewe die plaasaanvalle,en ander aanvalle nie, en hoe juis ook weer in die afgelope week met boere en ander mense deurgeloop het met warm strykysters, geslaan is en wat nog.

BadPrit ·

Toe nou maar, kalmeer die ambuie, die lewe is morbied genoeg, ons kan almal doen met n giggil nou en dan. Dit is behoorlik marteling waneer my skoonma kom kuier, dit ook nou onsmaaklik?

Leonard van der Dussen ·

Stem saam met Disselboom – mens kan die artikel op sy eie geniet as iets eie aan ons samelewing, maar op die oomblik is daar ernstiger en groter probleme as ons burokratiese frustrasies. Dis in slegte smaak om na “marteling” te verwys vir so iets, terwyl daar wreedhede in ons land gebeur, insluitende met weerlose oumense.

Tjopper ·

A-nee-a Leonard en Disselboom. Miskien moet hulle dalk ophou kla. Hierdie stuk is uitstekend neergepen en verteenwoordig dit een van ons alledaagse frustrasies…en ek is een wat my kan vereenselwig met hierdie tendens van patetiese diens in die staats sektor. Hier by ons is dit net so erg en frustrerend om ‘n morotlisensie uit te neem, dan praat en nog nie eers van, toe my seun vir sy leerling en bestuurders lisensie gegaan het nie…. Iets om van op te gooi. Die mees truerigste, en onbeskofde mense wat dink jy skuld hulle iets…..seker die dat sekere van hulle bestuur asof hulle hulle lisensies in ‘n “lucky packet” gekry het…..

Dawie ·

Flip, duidelik gebruik jy die verkeerde poskantoor. Hier in Boksburg wag jy nie langer as 5 minute nie. SARS Boksburg is ‘n perd van ‘n ander kleur. Hier het ek 5 ure gewag om gehelp te word. En dan roep hulle jou nie eers volgens die nommer wat hulle jou gee nie. Terloops die probleem met SARS is ook nog nie afgehandel nie.

Anoniem ·

Daar is elke dag soveel bedroewende nuus wat op ons afstorm. Dankie vir jou poging om ons op hierdie Maandag oggend te laat glimlag.

Helen ·

Ek het ook nou lekker gelag. Die spyker is oppie kop geslat! Ek dink ook die voorbereiding en senuwees is erger as die toustanery. Ek probeer ook maar altyd geselsies aanknoop, dit maak die wag bietjie minder pynlik.

Marisa ·

Skitterend geskryf. Die ou suurpruime wat nie meer goeie Afrikaanse stories kan waardeer nie – ek hoop Krokodil vreet julle vannag in julle slaap op!

Pieter Ellis ·

Nou ja Flip, daar sien jy nou hoe uiteenlopend die kommentare kan wees, Van dankie lekker gelag tot ou suurpruim se martel kommentaar en jou vreeslike onsensitiewe aanslag.

Dankie in elk geval vir jou polities onsensitiewe aanslag, ek het die skrywe geniet.

Philip ·

Uitstekend geskryf! ek het my so in die storie ingeleef en so meegevoer geraak dat ek self bitter trots op my laaste suksesvolle lisensie-uitstappie voel! Maar helaas, die lang skaduwee van die volgende lisensie-uitstappie begin reeds soos orkaan Katrina bokant my kop broei!!

Janine du Plessis ·

Skitterend geskryf en goeie sin vir humor. Hier in Mosselbaai is nie sulke rye nie, maar dis natuurlik DA-beheer. Ons het laasweek 4 ure by SARS in George gesit om ‘n 5 minute se vorm af te handel! Volgende keer vat ek my moonboot en krukke saam. Hierdie mense kry almal voorkeur en die meerderheid weet nie eens hoe ‘n mens met krukke loop – as jy régtig beseer is nie!!

Ben ·

Goed geskryf Flip! Verlede week was dit my beurt hier in Nelspruit. Eerstens moet ek sê, ek het vir die eerste keer in baie jare sowaar ‘n lisensiehernuwing per pos in my posbus gekry – ja regtig, ek jok nie! Die Poskantoor op Nelspruit doen egter nie motorlisensiehernuwings nie – jy moét munisipale verkeersdepartement toe. Maak toe so om 09:30 Woensdagoggend en sowaar, tussen al die siele wat buite rondhang en vele motors buite geparkeer, kry ek ‘n oop plek vir my Mercedes tussen twee koeltebome! Ek is oud en dit pas my perfek. Binne by die toonbank (jy moet eers daar aanmeld, want hulle neem nie meer telefoonoproepe vir jare al meer nie) sê die dame ek het die nodige drie dokumente en wys my die gang af na die wagkamer “Counter 4, 5 and 6!” Hulle het ‘n kaartjienommer masjien en TV-skerm met nommers in die wagsaal gehad, maar dit het jare tevore ingegee en was nooit herstel of vervang nie. By toonbank 4, 5 en 6 is daar sowat 100-stoele (wat skreeu vir OMO en ‘n kragwasser) waar mens moet sit op die vêrste ent langs die laaste liggaam wat voor jou wag en soos die die drie toonbanke mense roep, moet jy opstaan en soos diè voor jou een vir een vorentoe aankronkel totdat jy eventueel voor kom. Net een stoel was voor my gevul en my kontantkaart was aanneembaar. Dus was ek na net 15-minute terug by my motor. Vir Nelspruit, dus ‘n blink oggend

Henry ·

Dankie Flip. Al hoe ‘n siel die Nuwe Wonderlike Suid Afrika se realiteite kan verwerk, is met ‘n goeie skeut, geduld, humor, gelatenheid, verlatenheid en wat ookal.
Ek’s jammer vir die arme Jannie en Sannie Martelaars* wat liewer aan’t teem gaan wanneer ‘n bietjie begrip en ‘n glimlag die beter keuse is. Snik!

*self gesensor

Heinrich ·

Baie dankie vir hierdie artikel Flip; mensdom ek kon lanklaas so goed identifiseer met ‘n artikel! Ek het al so gewens dat ek ‘n enkele plek het waar mens hierdie inligting kon bekom. Een van die kêrels by die lisensie afdeling het reguit vir my gesê dat goeie maniere nie in sy werksbeskrywing staan nie.
Is dit nie moontlik om ‘n bladsy op julle webtuiste vir ons te maak met ‘n lys van wat om saam te vat (bv kontant en nie kaarte nie), en wat om te doen wanneer ons gaan vir lisensie / paspoort ens? Groot asseblief; dit sal so baie frustrasies spaar!

Nakkie ·

Vir voertuiglisensie sien ek nog kans, al is die ry by die poskantoor lank. Maar bestuurslisensie….hulle gee jou vyf jaar tussenin, want dis hoe lank dit jou neem om weer jou moed bymekaar te skraap vir daardie droewige gedraal.

Jan ·

Ek stem! Bestuurslisensie, kind se ID kaart en vuurwapenlisensie is erger. Puik artikel, egter!

Anto ·

Nee wat – motorlisensie is vinnig hier op die platteland. As jy meer as motor het – kombineer die betalery dat dit dieselfde maand is. Bestuurslisensie is ‘n ander storie. Hier kry mens darem ‘n nommer as jy inkom. Getal mense per dag is 60. So as jy nr 55 is, dan weet jy, jy kan maar loop en eers laaaaater terug kom, amper teen die einde van die dag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.