Martelmars na ʼn nuwe motorlisensie

flip-buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Die skril geskel van my selfoonwekker red my net betyds van die groot Krokodil wat grynslaggend op my afpyl. Ek skrik natgesweet wakker en slaan wild om my rond. “Pasop, jy sal jou koffie raakslaan!” roep my vrou verbaas langs my bed uit.

Ek gaan sit regop en probeer tot verhaal kom terwyl ek dorstig na die koffie gryp. Dán tref die werklikheid my. Vandag is die dag, my eie persoonlike D-dag. Ek val agteroor teen die kussing. “Ek dink volgende week sal beter wees,” probeer ek floutjies ʼn uitstelplan maak.

“Nee, vandág is die dag,” sê Vroulief sag maar ferm. “Jy kan dit nie weer uitstel nie.” Ek sug en wonder of die Krokodil my nie maar liewer maar eerste moes … “Hier’s Pa se oefenklere,” sê my jongste wat onverwags ingekom het. “Maar Pa mag vanoggend net ontspanningsoefeninge doen, glad nie kragoefeninge nie. Netnou gebeur daar ʼn lelike ding.” Ek sug weer. Ek het nie eens krag om op te kom nie, wat nog van oefen.

Ek maak uiteindelik klaar en strompel aan kombuis toe. “Maak seker jy het al jou papiere,” sê my vrou vir die soveelste keer. Net toe lui die telefoon. “Dis oom Piet, Pa, hy wil net totsiens sê voor pa moet gaan.” Sy spreek die “gaan” uit asof ek nie weer gaan terugkom nie.

“Dis weer neef Piet Politiek met sy doemprofesieë,” sê my vrou ergerlik. “Sê vir hom Pa kan nie nou praat nie.” Maar neef Piet laat hom nie sommer afskud nie. “Hy sê Pa moet onthou ons voorouers het die Drakensberg kaalvoet geklim,” kom die boodskap van die foon af. “Dis nonsens,” sê my vrou. “Dit was die vrouens, die mans het gerieflik op hul perde gery.” Ek het nie nou lus om oor die geskiedenis te redekawel nie. Ek moet eers hierdie dag se lydensweg stap.

Maar my jongste is ʼn kampioenboodskapper. “Oom Piet sê Pa moet onthou hoe dapper het Koki teen Raka geveg,” hoor ek dofweg deur my kloppende hoofpyn. “Gmff,” sê my vrou parmantig. “Koki het gesneuwel.” “Presies,” sê ek. “En nou wil jy my ook nog hier uitstuur in die Leeukuil in.”

Die uur is nou daar

Ek maak die motorhuis se deur oop. Al my bure staan voor die deur en kyk my swyend aan. Die stilte hang swaar in die lug. ʼn Blaar rol lui oor die pad. Die mans skud om die beurt my hand, spreek ʼn bemoedigende woord of twee, klop my op die skouer. Dan neem ʼn oud-weermagman die leiding. “In Angola het ons voor ʼn operasie …” begin hy en skuif ʼn paar klippies rond met die voet. Die mans kom staan belangstellend in ʼn kringetjie nader om te kyk, die koppe skeef van belangstelling. “Flip gaan nie oorlog maak nie,” breek Vroulief die gevegsplan op. “Hy moet nóú ry.” Sy gee my karsleutels aan. Ek vat dit swaar. Die uur is nou daar. Ek kyk smekend na die mans, maar hulle kyk af toe hul vrouens kwaai vir hulle kyk.

“Wat gaan nou hier aan?” vra ʼn vreemdeling in Jerusalem wat nou net uitasem by ons groepie aangesluit het. “Flip moet sy karlisensie gaan hernu – by die poskantoor!” fluister iemand. ʼn Geskokte stilte daal neer. In die verte huil ʼn kind treurig. ʼn Dikkoppie krys hartseer. Almal is sprakeloos. “Die arme man,” sê die nuweling. “’n Staatskantoor! Weet hy wat op hom wag?”

“Sjuut,” sê iemand. “Moet dit nie nóg erger maak nie.” “Aggenee,” sê die dokter simpatiek. “Ek dog hy moet net vir ʼn operasie gaan.” “Sal ons nie vinnig ʼn paar kinders kan reël om vir hom ietsie bemoedigends te sing nie?” vra ʼn gesoute onderwysman. “Moenie verspot wees nie,” raas sy vrou. “Jy hoor sy vrou sê hy moet nou gaan.” “Pak gou vir hom ʼn padkosmandjie,” sê die rekenmeester met ʼn hik toe sy vrou hom elmboog.

Ek verstaan skielik die vrouens se kaalvoet oor die berge beter. Ek klim waardig in my kar en trek stadig weg. ʼn Paar manne klap onseker hande.

Staatskantoor

By die poskantoor sien ek die ellelange ry van ver af kronkel. Maar hulle beskut hul kliënte teen hul eie ondoeltreffendheid. ʼn Lang afdakkie is gebou sodat die voorstes in die koelte kan staan. ʼn Paar tree voor my sien ek hoe ʼn jong man en meisie vir die eerste keer ontmoet en skaam groet. Die ry skuifel skilpad-stadig vorentoe. Ek begin met die mense voor en agter my gesels. Dit raak gesellig. “Dis sedert ‘hulle’ oorgeneem het wat dinge so lank vat,” sê die ou voor my. “Kyk oor jou skouer,” sê ek vir hom. Hy kyk om en sien die KFC. “Wat moet ek kyk?” vra hy. Gelukkig baklei niemand vandag daar nie. “Kyk hoe vinnig beweeg die rye daar,” sê ek. “Daar is nie eens ʼn afdakkie vir rye nodig nie.” “Dis dieselfde mense wat hier én daar werk,” sê ek. “Die verskil is hierdie is ʼn staatskantoor, en daardie is privaat.”

Die ry staan nou al lank stil. Voor my hou die jong man en meisie van nou-nou al handjies. As dinge so aangaan, raak hulle nog in die ry verloof, dink ek. Uiteindelik is ek voor in die tou. Daar is vyf doodstil toonbanke, en net een wat besig is, naamlik die lisensietou. “Ek kom net my lisensie hernu,” sê ek senuagtig, self verbaas dat dit my beurt is. “Jy moet kontant betaal,” sê die vrou agter die toonbank. “Ons vat nie kaarte nie.” En dan: “Next!” Ek voel of ek wil flou word. Alles weer van nuuts af oor! Gelukkig is daar nie ʼn ry by die kitsbank nie, dis mos privaat. Ek trek die geld en gaan staan weer agter in die ry. My bene pyn en my rug is seer, en my kop voel ook nie baie lekker nie. Toe ek uiteindelik betraand met die lisensie in die hand staan, lyk hy vir my pragtig. Dit voel soos toe ek ná jare se werk graad gekry het.

Ek ry huis toe, oortuig dat almal langs die pad my nuwe lisensie bewonder. Net toe ek by die straat indraai, sien ek my vrou en jongste op die sypaadjie staan. Oortuig hulle is die voorhoede van die verwelkomingskomitee, ry ek trots in. Ek hop flink uit die kar, en wil net triomfantelik die lisensie wys, toe sê my vrou: “Jy moet asseblief ons jongste môre na Binnelandse Sake toe vat, dis tyd vir ʼn ID-kaart.” My bene swik swak onder my.

Daardie aand jaag die Krokodil my heelnag rond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Susan

Nee wat Flip, glad nie meer so erg nie! Inteendeel, alles is nou weer deeskedae gestreamline! Maar, ek het nou lekker gelag! Dankie, goeie begin vir ‘n Maandag môre!

Jacques

Susan, as jy nie omgee nie, deel asb met my waar jy woonagtig is. Ek is bereid om n duisend myl te ry vir “gestreamline de” binnnelandse sake en lisensie kantoor… ek moet juis n besoek aan buide die instansies maak.

Henry 59

Rustenburg by die mall het my lisensie so 10 minute gevat. Het voor die tyd die vorm van die internet afgelaai ingevul en geteken, gebel en uitgevind of hulle kaart vat en toe eers poskantoor toe gegaan. Binnelandse sake was n groot riller………………………………..

Disselboom

Die stuk is oulik geskryf, maar tog ‘n teleurstelling: en die opskrif “Martelmars…” is nie in goeie smaak gegewe die plaasaanvalle,en ander aanvalle nie, en hoe juis ook weer in die afgelope week met boere en ander mense deurgeloop het met warm strykysters, geslaan is en wat nog.

Leonard van der Dussen

Stem saam met Disselboom – mens kan die artikel op sy eie geniet as iets eie aan ons samelewing, maar op die oomblik is daar ernstiger en groter probleme as ons burokratiese frustrasies. Dis in slegte smaak om na “marteling” te verwys vir so iets, terwyl daar wreedhede in ons land gebeur, insluitende met weerlose oumense.