Mishandeling van bejaardes kommerwekkend

(Foto verskaf)

Deur Gert Erasmus

Wêreldbewustheidsdag oor bejaardemishandeling word vanjaar op 15 Junie gehou om meer bewusmaking oor dié euwel in ons samelewing te skep.

Solidariteit Helpende Hand ontvang weekliks, uit verskillende oorde, versoeke vir hulp aan ouer persone. Dikwels behels hierdie versoeke gemeenskappe wat die mishandeling van ouer persone uitwys.

Baie van hierdie mishandeling gebeur ongelukkig in stilte en agter toe deure. Die feit dat ons mense, in ons gemeenskappe, seergemaak en mishandel word moet eintlik hoofnuus wees. Baie van hierdie mense het nie die vrymoedigheid om iets te sê nie, of in sommige gevalle kan hulle nie iets sê nie, daarom word hierdie emosionele en fisiese mishandeling nie opgetel nie.

Vir Helpende Hand is die mishandeling van ons bejaardes kommerwekkend, juis omdat dit daagliks plaasvind. Dit is ʼn groot kopseer op plaaslike vlak, en ʼn groot stuk onkruid wat met wortel en tak uitgeroei moet word.

Verder het Helpende Hand se nasionale navorsing oor ouer persone in 2020/2021 getoon dat eensaamheid onder ons bejaardes ʼn wesenlike probleem is. Hierdie kwessie kan deur elkeen van ons aangespreek word, deur bloot na ons ouer persone se emosionele welstand om te sien. By Helpende Hand word daar juis op volhoubare projekte gefokus, soos die Seniors-in-aksie-program wat deur ons maatskaplike werkers in die onderskeie streke aangebied word, om eensaamheid onder ouer persone die hoof te bied. Ons moet besef dat ons elkeen ʼn verantwoordelikheid, ʼn roeping en taak het om waarlik na die bejaardes in ons gemeenskappe om te sien.

Daar is ʼn Chinese gesegde wat lui: “As jy ʼn bejaarde in jou huis het, het jy ʼn juweel in die huis”. Dieselfde geld in ons gemeenskappe, ons moet ons “juwele” soos goud oppas. ʼn Bejaarde is nie afgeleef en niks werd nie, inteendeel. ʼn Bejaarde is deel van die boustene van ons samelewing, elkeen van hulle is iemand se oupa of ouma, pa of ma, broer of suster en vriend, maar die belangrikste van alles, hulle is ʼn stukkie kroonskepping van God (Genesis 1:26-27).

Natuurlik is ons bejaardes kwesbaar. Dink maar aan jou eie lewe en hóé kwesbaar jy as kind was, soveel te meer ons bejaardes wat baie keer nie meer vir hulself kan sorg nie. Daarom moet óns hulle, as die kroonskepping van God, beskerm.

Bejaardes het steeds in hulle gevorderde ouderdom ʼn belangrike roeping, maar dít word soms misgekyk. Hulle roeping is om ons, oud en jonk, met raad en advies op verskillende maniere by te staan (Titus 2:1-10). Bejaardes het soveel ervaring en ondervinding wat die jonger geslagte in ons gemeenskappe, in die uitleef van hulle roeping, kan gebruik.

Hoe sal jy, as bejaarde, hanteer wil word? Dit laat ons dink aan die woorde van ons Here Jesus Christus as Hý sê: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en grootste gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Matteus 22:37-40). Ek herhaal weer dié vraag: Hoe sal jy, as bejaarde, hanteer wil word? “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen.” (Matteus 7:12).

Kom ons vat hande en sien weer die waarde van ons bejaardes in ons gemeenskappe raak. Kom ons bewys aan húlle die respek, eer en liefde wat hulle verdien, sodat God daardeur geëer kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Mmm… As jy oud word en jy het nie geld om uit te deel nie is jou naam badprop. Maar dit is ook so dat daar van die ouer generasie is wat juis geld misbruik om jonges soos slawe te beheer met die oog op ‘n erfporsie. In Japan en Europa bestaan daar organisasies wat bejaardes wat eensaam sterf en daar is duisende se woonplekkies gaan opruim namens staat, verassings te reël vir sonder-blomme-sonder-trane-sonder-enige gemis-dumping van nog ‘n no-body.

koos ·

Van die welvarende mense in ons dorp is huisvriende met die dokters. Skielik het ouma ‘n hoesie ontwikkel, so die dokter laat haar opneem vir observasie. Maar eintlik wil ouboet en sy gesin na die Alpe vertrek vir hulle ski-vakansie, en hulle wil nie met ouma belas word nie. Dus moet die hospitaal nou vir ouma “baby sit”. Is dit nie maar ook mishandeling nie?

Celia ·

Dankie vir die skryfstuk. Koester ons oues van dae. Dis n Bybelse opdrag om ons ouers te eer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.