My beste Ellispark-herinnering: Ons straatbrak

Kalogo – die brak van onbekende herkoms.

Wanneer aan Ellispark gedink word, het mense verskillende herinneringe. Daar was Joel Stransky se wen-skepskop teen die All Blacks en Tom van Vollenhoven se drie teen die Britse Leeus.

Maar wanneer ek in my geheuebank na Ellispark soek – g’n maklike taak op 33-jarige ouderdom nie – dink ek onmiddellik terug aan Kalogo; die hondjie wat ons ná ’n wedstryd tussen die Lions en die Bulls in die nabygeleë strate gered het.

Ek en my vrou het ’n herdenking met ’n rugbywedstryd gevier en tot my onsteltenis het die Bulls daardie dag vir die Lions ’n rugbyles geleer.

Effens depressief (of altans dit is hoe ek gevoel het) oor die stand van sake op die rugbyveld het ons die pad terug na die motor aangepak.

Ons het sommer daar by die krieketveld oorkant die pad parkeer want die karwagte daar het ’n vasgestelde prys en die perseel is darem omhein – al staan die hek wawyd oop.

Skielik gewaar sy uit die hoek van haar oog hoe ’n spul kinders (seker tussen 12 en 15 jaar oud) ’n klein hondjie skop, slaan en terg.

“Hierdie is leeuwêreld (letterlik) en dit is beter as mens net voor jou kyk en maak asof jy niks gesien het nie,” waarsku ek vanuit my depressiewe gat.

Maar toe die klomp die stomme dier aanhou treiter, ’n band om haar nek bind en haar hardhandig rondruk, is ek beveel om soos ’n politikus te maak en in te meng.

’n Paar streng woorde (in Engels nogal) en R50 later, is ons ’n hondjie ryker!

Maar kort voor lank begin die jong klomp ons agtervolg en dit het soos ’n jaagtog op ’n Amerikaanse nuuskanaal begin lyk.

Die arme hond – wat ons terstond Kalogo gedoop het – was oortrek van die vlooie en ek het haar taamlik ver voor my uitgehou terwyl ons in die woonbuurt se strate gehol het.

Uiteindelik by die motor het die karwagte ook skielik teen ons gedraai en ons moes voet in die hoek sit terwyl ’n hele gevolg ons agterna gejaag het.

By die tweede verkeerslig het ons agtervolgers egter die aftog geblaas. Kalogo het baie vlak asem gehaal en was duidelik vrek bang; ek vermoed my vreemde hardloopstyl het ook baie met haar trauma te make gehad.

Maar na ’n besoek aan die veearts, lekker hondekos, ’n bad, medisyne, ’n warm bed en hope aandag, het Kalogo die buurt op horings geneem.

Sy het saam werk toe gegaan en talle pare skoene (en hakskene) het met haar tande kennis gemaak. Ons het g’n idee gehad watter tipe hond sy is nie – vermoed dat haar ma ’n teef van losse sedes was – maar sy was baie oulik.

Ongelukkig het sy aanhou groei en te groot vir enige meenthuis-erfie geword. Dit was ’n hartseer dag toe ons besef dat ons haar moes weggee.

Maar vandag is Kalogo op haar gelukkigste op ’n weldoener se plot; ons kry gereeld foto’s van waar sy vrolik saam met ander honde hardloop en speel.

Stransky se skepskop of Van Vollenhoven se drie? Aikôna, Kalogo is die beste Ellispark-herinnering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Pandora

Beste leesstof hierdie week! Dankie dat julle Kalogo gered het en soveel goeie herinneringe van die pragtige bastertjie het – hulle is die beste woefe ooit!