ʼn Afspraakaand en ongevalle

Johnell Prinsloo (Foto: Verskaf)

Ons was onlangs op ʼn “dadel”. Ek gee agtergrond:

As onderwyser vir Afrikaans Eerste Addisionele Taal moes ek natuurlik gereeld opstelle nasien. Een bly my veral by. Die tema was “liefde”. Een van die dogters het met die pragtigste byvoeglike naamwoorde en bywoorde beskryf hoe sy van ʼn seun gehou het, maar hy geweier het om haar vir ʼn “dadel” te vra.

Ek was verbyster, moes die opstel ʼn paar maal lees en het selfs begin wonder of dit nie ʼn kultuurding is nie. Tot ek tot die besef gekom het – Google vertaal “date” as dadel!

Van daardie dag af noem ek ʼn romantiese afspraak ewe simpel ʼn “dadel”.

En toe my dogter gisteraand Voortrekkers toe is vir die weeklikse spanbyeenkoms, is ek en my man toe so op ons dadel. Ek kan dit werklik nie ʼn tradisionele afspraakaand noem nie. Dit was net so ʼn vinnige dadel so tussen die aflaai- en oplaaityd, presies ʼn uur.

Enige huweliksberader of verhoudingskenner sal vir jou sê dat kwaliteit belangriker is as kwantiteit, en ek kan self daarvan getuig. Ons het lekker ontspan, gelag, mekaar geterg en mekaar net in die oomblik geniet.

Terug by die huis was aandete sommer net goeie ou vis en tjips, toegedraai in koerantpapier (sonder die ink). Die hele gesin was ontspanne en het saam gelag en gesels.

En skielik, sonder waarskuwing, sak my man inmekaar op die teëlvloer tussen die kombuiskas se toonbank, waar ons lekker informeel eet, en die eetkamertafel wat teenoor die kombuis in die groot oopplanvertrek staan.

Alle grappies op ʼn stokkie! Lam arm, seer bors, ʼn stywe nek en koors.

Dinge het toe so vinnig gebeur maar elkeen het kopgehou. Ek en skoonma het beursies, fone en sleutels gegryp om na die naaste hospitaal te ry. Die jongste het sy sak gaan pak vir die volgende dag se atletiek. Die middelste het begin afdek en daarna haar huiswerk gaan klaarmaak. Die oudste het gehelp afdek en gaan seker maak dat die ander twee rustig is en dat als by die huis verder vlot verloop.

Ek moet bieg – dit is nie die maklikste ding op aarde om kalm te bly wanneer jou man, wat aansienlik groter is as jy, kort-kort aan die slaap raak en jy hoor hoe die asemhaling hier langs jou vlak word nie. Veral as die masjiene aanhou skree oor lae suurstofvlakke en jy skaars aan hom kan raak omdat sy hele liggaam pyn. En dan die wag… vir uitslae van bloedtoetse, vir verligting van pyn… vir die dokter wat die nuus moet bring.

Die sekondes het sonder aankondiging die nuwe dag by die oue gevoeg.

En toe die nuus – alles is 100%, die bloedtoetse, die EKG… dit lyk na ʼn spinnekopbyt (al weer – ons was in 2023 deur ʼn soortgelyke ervaring)… en daar begin die pynmedikasie werk, die koors breek en my man begin grappies maak; nie sy gebruiklike pappie-grappies wat ons oë permanent laat rol nie, maar snaakse grappies!

Ons het eers vroeg vanmôre by die huis gekom en selfs ná agt ure se slaap voel hy nog ʼn bietjie pap, maar gelukkig is hy wel op die herstelpad.

Ek is so dankbaar dat ons op mekaar kan steun, dat die kinders sulke staatmakers is, vir ouers wat besorg is en broers en susters wat dadelik beskikbaar is as ʼn mens op hulle knoppie druk. En ek is dankbaar vir die Liewe Vader wat ons deurentyd beskerm.

Dit was vir seker die langste, emosiebelaaide afspraakaand van my lewe. Die klein dingetjies gee soms aanleiding tot die groot dinge: Kosbare tyd wat ons optimaal benut en waaruit ons die beste put. Bystand, deur dik en dun, ʼn dadel en ʼn spinnekopbyt. Ons hande wat mekaar vashou wanneer ons skaterlag of wanneer ons bekommerd langs ʼn hospitaalbed staan.

So bly die lewe en die liefde een groot avontuur wat ons soms ook maar net-net oorleef tussen afspraakaande en ongevalle!

Meer oor die skrywer: Johnell Prinsloo

Johnell Prinsloo is 'n onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.