ʼn Besoek aan Litoue

Vilnius-hoofplein met katedraal

Ek en ʼn vriend het Litoue drie dae lank besoek. Dit is ʼn klein land met slegs 2,8 miljoen inwoners en ʼn grootte van 65 000 km², omtrent die helfte van die Vrystaat se oppervlak, geleë in die Baltiese streek in Noordoos-Europa. Ons het vanaf Berlyn in slegs een en ʼn half uur na die hoofstad Vilnius gevlieg.

Vilnius (sowat 600 000 inwoners) is in terme van Europa ʼn betreklik nuwe stad wat “eers” in 1316 as die hoofdorp gestig is van die destyds nog heidense volk van die Litouers, een van die laaste volke in Europa wat gekersten is.

Die stad het gou ontwikkel, en om die bedreiging deur die Duitse Ridderorde vry te spring – wat die stad gereeld aangeval het in hulle poging om die Baltiese streek te onderwerp en te kersten – het die Litouers ʼn unie met Pole aangegaan, bevestig met ʼn huwelik tussen die koningshuise, en hulleself tot die Christendom bekeer.

Dominikaner-kerk in Vilnius

Vilnius het selfs die hoofstad van die nuwe dubbelstaat geword wat vir sowat 300 jaar ʼn gerekende mag in Europa was. Dit verklaar die magdom aan kerke en ander praggeboue, asook een van die oudste universiteite in Europa. Omdat die stad in godsdienstige opsig verdraagsaam was, is hier talle denominasies se kerke te vinde, alhoewel die katolieke kerk oorheers danksy die langdurige bande met die Katolieke Pole. Die ander Baltiese state, Letland en Estland, is daarteenoor tradisioneel eerder Protestants. Ook die Joodse teenwoordigheid was baie sterk in Vilnius, genoem die Jerusalem van die noorde, maar is deur die kortstondige Duitse besetting in 1941 en 1942 feitlik uitgewis.

Die voormalige Joodse ghetto

Die voormalige Joodse ghetto met sy nou straatjies is nou ʼn gewilde toeristegebied met vele restaurante en winkeltjies.

Die atmosfeer van die stad is rustig en vriendelik. Dit is Westers op ʼn aangename manier: skoon en netjies, rustend in homself, betreklik homogeen en met ooglopend min interne politieke spanning. Tussen die partye is daar geringe wêreldbeskoulike verskille en daar is geen noemenswaardige ekstremisme nie. ʼn Mens kan amper nie dink dat kommunisme hier skaars 30 jaar terug lê nie. Die Russiese minderheid in Litoue is ook betreklik klein, net sowat 5%. Hulle het hulle eie ortodokse kerke, maar die Russiese taal hoor jy selde. Engels het deesdae die de facto tweede taal geword, veral by mense onder 40. Aangesien Rusland in Litoue se geskiedenis altyd die onderdrukker was, is dit te verstane dat die land so gou as moontlik van die Russiese invloed wou wegbeweeg en hom vierkantig by die Weste geskaar het.

Die oorlog in Oekraïne is oral die groot onderwerp. Litoue grens immers aan sowel Rusland (die enklave Kaliningrad) as Rusland se bondgenoot Wit-Rusland en kan, anders as die veel groter Oekraïne, binne dae verower word. Daar is geen twyfel waar die simpatie lê nie: Oekraïne se blou en geel vlag is nog meer volop as Litoue se eie geel, groen en rooi landsvlag. Oral is solidariteitslagspreuke en oproepe tot donasies vir die land wat tans ʼn oorlog veg wat vir Litoue na aan die hart lê. Die vrees hier is sterk teenwoordig dat, indien Rusland met die verowering van Oekraïne sou slaag, die Baltiese state wat eens deel van die Sowjetunie was en nou deel van sowel Navo asook van die Europese Unie, volgende aan die beurt kan kom.

Die KGB museum

ʼn Aangrypende en gruwelike plek wat ons besoek het, is die KGB-museum (amptelik die museum vir die slagoffers van volksmoord) in die gebou waar sowel die voormalige Gestapo-sentrale, asook – vir ʼn baie lang tyd – die Litouse hoofkantoor van die Russiese Geheimediens was. Dit was die instansie wat met alle middels die mag van die Kommunistiese Party verseker het. Behalwe vir uitstallings oor die meer onlangse geskiedenis van Litoue en hulle stryd teen kommunistiese onderdrukking, die deportasies van burgerlikes na Siberiese werkskampe asook oor die werking van die KGB, kan ʼn mens die verhoor-, martel- en aanhoudingselle vir die politieke gevangenes asook die teregstellingsgrot besigtig en jou met koue rillings verbeel wat mense hier moes deurmaak omdat hulle nie met die kommunistiese ideologie saamgestem het nie.

Ons het Kaunas, die tweede grootste stad met sowat 315 000 inwoners, per trein besoek. Jy ry deur die eenvormige, plat, groen landskap met berke- en denneboomwoude. Klein dorpies met deels die kenmerkende houthuisies is langs die spoor te sien. Kaunas lê digby die samevloeiing van twee riviere. Van die stasie loop jy die baie lang voetgangerlaan langs en kom dan aan die einde, naby die samevloeiing, by ʼn groot plein met die meeste argitektoniese en geskiedkundige plekke: pragtige barokkerke, die stadsaal en voormalige kasteel is alles net ʼn klipgooi van mekaar af. Die sonnige weer na die lang Europese winter het die reis besonder aangenaam gemaak.

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ONTPS ·

Dit lyk pragtig. Sal self eendag (indien moontlik) dié land wil besoek

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.