ʼn Credo teen middelmatigheid

Johan Schoeman

Argieffoto.

Argieffoto.

Uitnemendheid, as ons die situasie in Suid-Afrika eerlik bekyk, het in sekere kringe ʼn nuwe vloekwoord geword en middelmatigheid die nuwe modewoord. Die sosialiste het veel hiermee te doen, maar gewone mense dalk ook, omdat dit soms gerieflik is om liewer konflik te probeer vermy. Maar dit het ʼn prys. Sommige Franse intellektuele voel, na die mees onlangse aanvalle in Frankryk, iets van hierdie intellektuele luiheid aan. Jean-Pierre le Goff het dit soos volg in opgesom:

“Ons moet afskeid neem van ons illusies, want dit het ons ontwapen”.

In groter Europa, sowel as die VSA, neem bewuswording van hierdie illusies daagliks toe, wat dalk daarop dui dit is amper onmoontlik om bloot uit dekades se geskiedenis te stap, maar omstandighede, soos die onlangse terreur daar, werk soms verhelderend op mens se begrip in. Die sprekenste voorbeeld is waarskynlik die feit dat die bloed en ideale van die Parys van 1789 nou kort-kort om lewe veg buite nagklubs en in die noodafdelings van Paryse hospitale.  Enkele meer onlangse voorbeelde van hierdie kentering, al is dit hoe klein, mag help om verder perspektief te gee.

Die bekende denker Roger Scruton lewer in September 2014 ʼn lesing getiteld In Defense of Elitism by die Universiteit van Baltimore oor die kwessie van elitisme in die moderne samelewing. Dit is ʼn veelseggende titel en een wat in ander sfere waarskynlik sou uitloop op Scruton se onmiddellike en vinnige verwydering uit die ernstige openbare debat, maar hy is ʼn denker van formaat, wat dit moeilik maak.

Gelukkig, al is dit dalk tydelik, is daar nog in die Westerse wêreld enkele plekke van uitnemendheid en oop debat. Scruton het in sy lesing veral gefokus op die tirannie van die meerderheid en die aanslag op uitnemendheid.

Dit is opmerklik dat hierdie lesing gelewer word in, as mens sommige kommentators moet glo sonder om te frons, die bastion van Westerse bestaan – Amerika. Dit is egter nie ʼn verassing nie. Die Westerse staats-en samelewingsfilosofie wat oor eeue heen ontwikkel het en die heilstaat moes aanbring, is nou immers aan die uitrafel en aan die stuur van die omgekeerde toestand. Ek sou dink ons behoort hier ook kennis te neem van wat Scruton te sê het. Trouens, dit is waarskynlik ons laaste kans hiervoor as mens die plaaslike sosio-politieke terrein bekyk.

In ʼn verdere illustrasie fokus Stephen Turley op die verval van die universiteitswese, veral in die VSA. Turley bespreek as deel hiervan aspekte soos multikulturalisme, die postkoloniale aanslag en bevrydingspolitiek en die effek van ekstreme selfgelding en sekularisme en kom tot die gevolgtrekking dat die moderne universiteit juis ten gronde gaan aan die hand van sy eie, selfvoldane argumente en die morele vakuum waarbinne dit toenemend funksioneer. Klink dit bekend?

Hoe ontsnap mens aan hierdie illusies wat uitskieters gou kop afsny, konflik tot elke prys probeer vermy, waar verbruik en die bedinging van die beste prys (ook wat sosiale verhoudings betref) en die wil van die meerderheid geld? ʼn Onlangse artikel deur Matthew Kruger oor die moontlike grense van die Grondwet en wat dit vir optrede binne persoonlike, individuele ruimtes sowel as burgerlike instellings beteken, dui een roete na ʼn oplossing aan, weliswaar hier as deel van ʼn regsfilosofiese betoog. Hy dui aan daar is ruimtes waar die regsorde en Grondwet waarskynlik geen invloed het (of behoort te hê) in mense se bestaan nie.

Kyk mens na bogenoemde interne kritiese kommentaar, om maar enkeles te noem, oor wat in die Westerse wêreld aan die gebeur is, wil dit voorkom asof daar wel een gemene deler is, alhoewel dit nie direk by die naam genoem word nie.  Dit is die kwessie van keuse en standpuntneming, by tye selfs sterk standpuntname en aksie, gestroop van die remskoene waarop hierbo gesinspeel word.

Die antwoord op middelmatigheid, as die credo van ons tyd, lyk asof dit ten minste die volgende elemente moet insluit: ʼn afswering van dikwels goed bedoelde maar vernietigende illusies deur kritiese denke, sterk standpuntstelling, moeilike keuses en optrede, veral ook binne institusionele ruimtes van opleiding en denkskoling – plekke wat hul eie geskiedenis en die relevante kontekste verstaan en nie bloot konflik probeer vermy of punte in ʼn skelm spel wil behaal nie.

Verder sluit dit ook die soeke na ruimtes in waar ons self kan besluit oor wat en hoe om dinge te doen, deur ten minste betrokke te wees sodat ons nie uit ons eie, persoonlike geskiedenis en realiteit stap en so onsself uit ons eie bestaan ontruim nie.

Waar dit duidelik is dat instansies, persone en groepe se aktiwiteite hierdie benadering probeer volg, moet ons dalk betrokke raak of ten minste probeer om sinvol aan die debat deel te neem en in die proses illusies eerlik in die oë kyk.  Die Nederlandse denker Marnix Verplancke is onversetlik om nie konflik ten alle koste te probeer vermy in die hoop dat dit sal verdwyn nie: “We zouden ons best wat moediger mogen opstellen”. Hierdie taak rus dringend op alle verantwoordelike persone, en die tyd ter plaatse is min.

Bronne: 

Scruton, R: In Defense of Elitism.

Turley, S: Virtue Matters: The Decline of the Secular University.

Kruger, M: In defence of constitution-free zones: distinguishing between freedom under law from freedom from law.

Verplancke, M: ‘Spaar de minderheden niet’.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Tom Theron ·

Ek is verbaas dat hierdie meningstuk geen kommentaar lok nie. Volgens my een van die mees kritieke waarnemings nog en met gevolge wat reeds wereldwyd te bespeur is. Die verval van die Weste is nie ‘n toekomsgebeurtenis nie. Dit is nou. En die rol van middelmatigheidsdenke in hierdie verval word totaal misgelyk.

Ek woon in Australie, waar middelmatigheid beslis die woord van die dag is. Behalwe onder Asiers, wie se wortels nie in Westerse dekadensie gegrond is nie. Ruim 70% van akademici in Australie is Asiers – die res stel eenvoudig nie belang nie, of anders gestel, die sosiale stelsel waar almal “gelyk” is, hou geen insentief om hoër akademiese standaarde te jaag nie. “Tradies” verdien meer as akademici, so hoekom die moeite doen?

Miskien is Suid Afrika uit sy Afrika konteks effe verskans of is die debat rondom muddelmatigheid misplaas gesien teen die agtergrond van openlike aanvaarding van die laagste gemene deler.

Johan Verdoes ·

Tom. Ek hier gaan nou ‘n sinvolle debat plaasvind. Die feit dat dit nie plaasvind nie is die bewys van middelmatigheid. Nou hoekom vind reaksie nie plaas nie? Of anders gevra: hoekom is daar middelmatigheid by die Westerling? Die Westerling het ophou dink vir homself. Die rede is tweeledig. Die TV wat kreatiewe denke kom konfronteer het: denkers gebruik logiese struktuur wat hyself in beeldvorm eers vir homself moet visualiseer en dan met goeie woorde keuse vir iemand anders moet laat visualiseer. Dit vat tyd. Van daar die uitdrukking: a picture paint a thousand words. TV is so vinnig en oorweldigend, dat die denkers die vermoeë en ook moeite ontsien om verder self te dink. Die tweede probleem is die verlies aan identiteit. Om die vermoeë te verloor om regtig diep te dink, verloor jy die vermoeë om jouself te beskryf. Om jouself te kan beskryf moet jy jou hart kan visualiseer vir wie jy ten diepste is. Om op te hou dink is om jouself te verloor en in ‘n identiteitskrisis te val. Gevolglik kan ander vir jou sê wie jy is en jy sal nie geestelik weerstand kan bied nie. Al voel jy verkleineer, omdat jou hart nie met die ander se opinie saam stem nie, sal eie twyfel en skuldgevoel jou na middelmatigheid dwing.

Johannes Meintjes ·

Met 31 jaar se uitreikondervinding in sub-Sahara Afrika deel ek die vraag en opmerking van Tom Theron hierbo. Middelmatigheid en passiewe onderprestasie is egter ‘n norm in Afrika, maar ook onder blankes in SA omrede ons hele kerk en politieke struktuur vir jare op baas en klaas, en bly stil behalwe as met jou gepraat word filosofie of menatliteit gebou is. Om te ontkom van die bindende denke-geskiedenis seder 1652, en die eeue in Afrika voor dit, gaan nog jare neem mits ‘n paar verskilmakers genoeg insigte en doelgerigde herbesinning kan suurdeeg.

Therese van Schalkwyk ·

Dalk is ek nou heel van die punt af, maar wil ‘n mening waag:
Die Weste stort in duie en die hoofoorsaak is hul ruggraatlose self. Die oordadige en nimmereindigende skuldige gewetes oor kolonialisme, slawerny, apartheid, holocaust ens. sorg daarvoor. Dis uiters frustrerend om te aanskou, want die individu is magteloos daarteen. Natuurlik moet foute van die verlede erken en reggestel word, maar boetedoening het tog sekerlik perke. Geen fokus meer op uitnemendheid, want alle fokus is op ras.

‘n “Uitskieter” wie se “kop afgesny word”, is bv. Donald Trump. Ja, toegegee hy is dikwels kru en heeltemal te reguit vir die polities gedienstige samelewing, maar die omstandighede smeek amper dat iemand tog net balans gee. So nie, “ontruim Westerlinge hulself sonder twyfel uit hul eie bestaan”. As die Weste nie beter leiers as Trump kan oplewer nie, dan moet hul maar stilbly terwyl hy sy ding doen.

Daar heers ‘n “tirannie van die meerderheid” en die meerderheid voel heeltyd iemand anders skuld hulle iets.

Pieter.v ·

Ek steun Trump se styl , dit is wat ons hier nodig het se n ding soos dit nodig is en los om te probeer om politiek korrek te wees ,deur politiek korrek te probeer wees is eintlik maar ek stem saam met met albei menings. en is te lafhartig om uitnemendheid na te streef

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.