ʼn Ewige voortleef in bome

‘n Kremetartboom. (Foto: Pixabay)

Dit was ʼn aandoenlike seremonie – bo verwagting so. Ons twee broers, twee susters en aangetroudes soek lankal ʼn geleentheid om almal saam op gepaste wyse van onse ma Frikkie afskeid te neem. Bome was haar passie, in die besonder die kremetart. Die plek wat sy die graagste besoek het om haar in bome te verlustig, was die Mapungubwe Nasionale Park in die verre bo-Limpopo – daar waar Suid-Afrika, Botswana en Zimbabwe aan mekaar grensskuur. Dis juis so omdat dit die park is met veelvoudige, voortreflike kremetarte.

As lid van die Kokanje Aftreeoord se boomklub was haar hoogtepunt altyd die uitstappies na verskillende boomstreke. Dit was vir haar ʼn avontuur om, terwyl hulle gestap het, bome uit te ken. Dan kon sy jou in besonderhede vertel wat ʼn spesifieke boom so spesiaal maak. As sy nie die boom geken het nie, het sy ʼn takkie met blare saamgeneem om in haar woonstelletjie te gaan bestudeer en eien. Bome van alle soorte en groottes het haar geïnteresseer.

Ons het toe almal by die Mapungubwe Park bymekaargekom. Bedags het ons die park verken – onder meer om te kyk of daar ʼn geskikte uitkykplek is met ʼn naby blik op ʼn majestueuse kremetart. ʼn Plek waar ons stil kon word in herinnering aan Ma en haar voorliefde vir die kremetart. Maar ons kon nie ʼn geskikte plek kry nie.

Elke kort-kort het ons troppe olifante gesien. Dit het gelyk of daar meer olifante as ander wild is. Olifante het ʼn groot voorliefde vir die bas van die kremetart. Hulle stroop dan lang stroke van die bas af en kou daaraan. Een kremetart wat ons langs een van die grondpaaie gesien het, is só deur die olifante uitgehol dat ʼn mens binne-in met uitgespreide arms kan gaan staan en steeds nie die kante raak nie.

Die probleem waarmee ons te doen gekry het, is dat geen toeris toegelaat word om uit die motor te klim om by ʼn kremetart te gaan staan nie, al is dit net tien treë weg van die pad af. Ons het toe besluit dis nie die moeite werd om die olifante en veldwagters te trotseer in ʼn afgejaagde seremonie nie. Ons sou dit dan maar liewers in die oord waar ons tuisgegaan het, hou.

Dié oord was ʼn oase. Die geboue word bykans heeltemal met hoë, ruwe rots en imposante bome omring, soos ʼn mooi wildevy wat met sy vele wortelvingers aan ʼn groot bruinoranje rots vasklou tot daar bo waar die stam, takke en blare in die oopte deurbreek. Ons sit in ʼn kring onder ʼn plafon van bome.

Onder die aangetroude familie was dit veral Waldie, ons sus Phia se man, wat met groot toewyding deelgeneem het. Hy is so deur sy skoonma se belangstelling vir bome geïnspireer dat hy met die idee na vore gekom het om haar geesdrif vir bome verder te voer tot verryking van almal in die land.

As die oudste het ek begin deur hulde aan onse ma te bring. Sy het te midde van erge swaarkry elk van ons kinders in liefde met ʼn lag daarby grootgemaak.

Sus Phia sê: “Sy was die plek waarteen jy jou rug kon leun, jou kremetart wat so wyd teen die blou kon lê dat jy amper nie geweet het waar dit begin of ophou nie. Frikkie-takke vir soveel oomblikke van wees, waar pyn en moeg en asemskep en altyd, altyd vrolikheid kon nesmaak.”

Jongste sus Marguerite het die kremetarttema verder gevoer met TT Cloete se gedig, Kremetartboom:

die kremetartboom is ʼn boom

hy laat nie sommer mense in hom klim nie

hy laat jou in hom óp kyk hy laat jou om hom loop

die olifante het hom bygekom sy bas gestroop

dit laat hom ongeroer

die kremetartboom is ʼn boom

 

die ape mag maar in hom klouter

baljaar en hom beskyt dit laat hom ongeroer

hy laat die slang en vlermuis in hom boer

die leeus mag aan sy basis pis

hy bly maar wat hy is

die kremetartboom is ʼn boom

 

diep in sy sagte bruin ou bas

het harteloses hulle éie harte uitgesny

dit laat hom ongeroer sy holtes is deur bye

vol van hulle blommesoet gemaak

die spinnekoppe span in hom hul sterrerak en radar

die kremetartboom is ʼn allerboomste boom

 

hy is meer kaal meer stam as tak en blaar min vrug

meer aarde toe terug en ín as in die lug

mens sien hom as hy oud is raker raak

vol rimpels sag vol vog en sap

geen ander boom lyk naasteby

so enig bomelik soos hy

alleen die GrootVoet kan hom trap

sy swaar liggaam totaal toemaak

die kremetartboom is my boom

 

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Swaer Waldie vertel toe dat hy al begin onderhandel het oor wat hy noem “Die Frikkie Robinson-projek”. Die departement van landbou, bosbou en vissery het reeds ʼn Kampioenboomprojek (Champion Trees) wat van stapel gestuur is en die Dendrologiese Vereniging van Suid-Afrika het ‘n Grootboomlys. Enkele weke gelede het ʼn span opnuut in Magoebaskloof, Limpopo na die hoogste boom in Suid-Afrika gaan soek. Hulle het op ʼn bloekomboom afgekom van 83,7 meter. Daarmee is twee rekords opgestel: dis die hoogste boom wat nog in Afrika gemeet is, én die hoogste aangeplante boom op aarde.

Dis swaer Waldie se idee dat die skatkis van sulke boomkennis aangevul moet word met ʼn behoorlike lys van uitstaande bome oral in al die nasionale parke. So ʼn lys sal dan al die besonderhede bevat, in teks en foto’s, van unieke bome in parke. Soos dit vir besoekers ʼn uitdaging is om die Groot Vyf van die diereryk in die natuur te siene te kry, kan dit ook nou ʼn nuwe uitdaging wees om, sê nou maar, die tien hoogste bome in Suid-Afrika se parke te besigtig. Daar kan verskillende kategorieë wees, byvoorbeeld ouderdom of vreemde vorms of strukture. Die groot voordeel is natuurlik dat bome nie soos diere rondbeweeg nie – as die koördinate daar in die boek staan, dan staan die boom daar vas om in rustigheid bekyk te word.

Waldie is bereid om na sy aftrede aanstaande jaar self deel van so ʼn span te wees wat parke sal deurkruis om al die nodige boominligting te versamel – gedryf deur die geesdrif waarmee Frikkie Robinson hom vervul het. Ons almal by die seremonie het ʼn groter vrede beleef wetende dat Ma se liefde vir bome ver verby haar dood nog ʼn invloed kan hê.

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Cloete was eintlik maar ‘n vrotsige digter maar hier vergewe mens hom vir sy waarheid. En jou Ma kry volpunte. Boom-mense is van ‘n spesiale kaliber. So ‘n grote is ‘n monument wat nie mense se aansien nodig het nie. Moenie die mooi blomme vergeet nie. Gebruik ons dan nie kremetart as ons koekbak nie?

OW ·

Interessante skrywe Freek.Jy praat van die bloekomboom wat 83,7 meter hoog is,en dit is besonders hoog vir ‘n bloekomboom.Die bloekom wat ek gesien het op Jansenville wat langs die gevangenis op die dorp staan moet seker een van die grootste stamomtrekke in die land besit.Ek skat so 10 mense saam sal om die stam kan hande vat.Die boom is ook hoog,maar moeilik om hoogte te skat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.