ʼn Ja-gesig uit ʼn ja-hart

Argieffoto (Foto: Sasin Tipchai/Pixabay)

Charles Swindoll vertel in sy boek The Grace Awakening van ʼn keer gedurende Thomas Jefferson se presidentskap, wat hy en ʼn groep op reis was en toe ʼn gevaarlike rivier moes oorsteek wat heeltemal oorspoel het.

Elkeen is op sy perd se rug daar deur, terwyl hy ook maar geveg het vir sy lewe. Daar was nog ʼn man wat nie deel was van hulle groep nie en wat ook nie ʼn perd gehad het nie. Hy het hulle dopgehou terwyl hulle die rivier oorsteek en toe het hy vir president Jefferson gevra om hom asseblief saam met hom oor te vat. Die president het sonder om te huiwer, ingestem.

Die man het agter op die perd geklim en die twee het dit veilig tot die anderkant van die rivier gemaak. Toe hulle aan die anderkant afklim, vra iemand vir die man: “Hoekom het jy die president gevra vir hierdie guns?” Die man was geskok. Hy het regtig nie geweet dit was die president van Amerika nie! “All I know,” het hy gesê, “is that on some of your faces the answer was written – no. His was a YES face.”

Wat ʼn mooi kompliment om vir iemand te gee – “Jy het ʼn ja-gesig, ek het geweet ek kan jou maar vra!”

Wat die hart van vol is, loop die mond van oor (Luk.6:45), maar dit wat in my hart aangaan – my gesindheid en my houding – staan ook oor my hele gesig geskryf sonder dat ek ʼn woord hoef te sê! Spreuke 27:19: “Just as water mirrors your face, so your face mirrors your heart.”

Ons evalueer mekaar eintlik die heeltyd om te weet of ek jou kan vertrou en of ek jou sal kan vra vir ʼn rygeleentheid op jou perd se rug as ons dalk iewers ʼn gevaarlike rivier moet oorsteek. Ons neem waar in ons vergaderings, ontmoetings, gesprekke, sommer so in die verbyloop of sommer langs ons kinders se sportveld. En in daardie toevallige-raakloop-oomblikke hoop ek ek het ʼn ja-gesig wat vir jou sê jy kan maar met my gesels en ek sal graag luister!

Ek lees op die webblad wisdomwalks.org: “A yes face is simply the outward expression of an inward experience.” Met ander woorde, as jy ʼn gesigsverandering nodig het, begin met ʼn hartsverandering… Besluit in jou hart: Ja, ek wíl mense help, ek wíl beskikbaar wees en mense moet weet hulle kan my vertrou en met vrymoedigheid nader…

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.