’n Misdaad-ekonomie

misdaadgeld

Argieffoto.

In die vroeë negentigerjare van die vorige eeu is Kodesa gehou. Kodesa was ’n veelpartykonferensie om die oorgangsmeganismes na ’n demokratiese Suid-Afrika daar te stel.

Tydens die eerste sitting (20 Desember 1991) lui mnr. FW de Klerk dit soos volg in: “Die oë van die ganse Suid-Afrika is gerig op ons wat hier vergader. Die toekoms van man, vrou en kind, van ryk en arm, van geleerd en ongeleerd, gaan wesenlik geraak word deur ons sukses of mislukking.”

As hoërskoolseuns in ’n koshuis op ’n plattelandse dorpie het ons nou nie juis veel gehad aan al die agendas, doelwitte, mislukkings of suksesse nie. Met Kodesa wel elke dag in die koerante en in die nuus het ons baie deeglik daarvan kennis geneem. Soos hoërskoolseuns nou maar is, het ons eerder ’n grap daarvan gemaak. Die spottery sou lui:  Waarvoor staan Kodesa? Die antwoord was dan komies: Kom ons deel en steel alles. Ons het eintlik maar die grappie by die grootmense gehoor. Ek onthou baie goed op die kerkstoepe sou van die ooms die grappie bietjie verder voer. In daardie stadium was daar in die GKSA (Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika) nogal ’n gegons en gegrom oor van ons teoloë deelgeneem het aan die openinge van Kodesa vooraf. Die ooms sou dan spottenderwys opmerk: Hulle bid vir ’n geseënde gesteel en gedeel.

Min het ons hoërskoolseuns in daardie stadium besef hoe profeties daardie gespot oor Kodesa in Suid-Afrika sou word. Nou, 20 jaar later, leef ons omtrent in ’n tyd van deel en steel. ’n Misdaadekonomie, noem my polisiemanvriend dit. Rondom ons word alles gedeel en gesteel, letterlik. Ek lees die joernaliste begin plek-plek skryf oor ’n misdaadekonomie. Ek lees die ekonome begin somme maak oor hoeveel ons verloor met misdaad en hoeveel ons ekonomie ook baat by die algehele stelery.

Ná ’n onlangse inbraak by ons eie huis begin ek self somme maak hoeveel mense deur hierdie enkele inbraak geraak word. Die antwoord is skrikwekkend. Van die mense wat die alarm moet verander, die hekslotte, die sekuriteitsdiens in die omgewing, die vervanging van goedere (nie eens gepraat van waar my ou nr. 14-draftekkies verkoop is nie), telefoonoproepe – onbeskryflik astronomies die impak van elke liewe inbraak. Feit bly,  elke enkele diefstal is besig om ons samelewing te vernietig. Ons is bekommerd oor ’n korrupte regering, maar ons moet maar eerlik wees. Elke voertuig, elke selfoon, elke bankkaart wat gekloon word, elke maand se betaling aan alarms, sekuriteitswagte, verhoogde heinings, vervanging van deurslotte, wat ook al, het ’n enorme impak op die ekonomie rondom ons.

Ek werk elke dag met jong kinders en die hartseer vir my is hoe hulle van jongs af gekondisioneer is om alles te moet oppas. Goed oppas. Hulle moet. Anders raak dit weg. Niks is inderdaad nêrens veilig nie. Vra bietjie rondom jou van wie is iets al gesteel. En moenie skrik as jy besef omtrent almal het op die een of ander wyse iewers al deurgeloop onder misdaad nie. Ek besef daar is mooi verhale van mense wat ander se besittings optel en terugvat, ander mense se besittings oppas asof dit hul eie is.

Laat ons tog ook erken, dit is goor om voortdurend oor jou skouer te moet loer as jy in die verkeer sit, om te moet hoor: Moenie op jou selfoon praat terwyl jy in die straat loop nie, pas tog jou kaart en jou kodes goed op. Hoe min van ons is daar wat nog nie ’n heining voor ons huis het nie? Gaan doen bietjie in jou straat ’n opname en kyk hoeveel van daardie heinings is in die afgelope 20 jaar gebou. Dit is tragies. Werklik tragies. Gehoorsaam aan die agtste gebod behoort ons mekaar se besittings op te pas asof dit ons eie is.

Is ek pessimisties? Negatief? Nee glad nie, inteendeel, maar dit is die harde werklikheid van Suid-Afrika vandag. Iewers sal ons doodgewoon net weer met mekaar moet begin eerlik wees. Ons sal moet begin vra wat die impak van leuens in ons samelewing is. Die ou mense het die wyse sêding gehad: Wie kan lieg, kan steel en wie kan steel, kan moor.

In hierdie stadium voel dit vir my in Suid-Afrika word te veel gelieg, te veel gesteel en te veel gemoor. Ons raak te gewoond aan hierdie dinge. Hoe ons die patroon gaan breek, weet ek nie, maar iewers sal ons moet begin. Intussen dra ons misdaadsyfer ruim by tot ons ekonomie.

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Hy is ook die skrywer van die boek Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann Marx

Ek is al vir jare besig (met min sukses) om die mense van SA aan te spoor om die regering te motiveer om sy immorele en onkonstitusionele BTW inkomste as ‘n direkte gevolg van misdaad prys te gee. Selfs Dawie Roodt, wat onlangs in die nuus was nadat hy aangeval is, het my vraag geantwoord: Die regering het R60 000,00 se BTW uit daardie voorval ontvang. Solank as wat misdaad vir die regering fondse genereer….so lank sal hulle NIKS daaraan doen om dit enigsens onder beheer te bring nie.

Johann Marx

As die regering misdaad onder beheer het, kon elke baksteen in elke 3m hoë tuinmuur eerder gebruik gewees het om vir mense huise te bou. Gaan stap deur jou woonbuurt, en kyk hoeveel bakstene (wat huise kon gewees het) is vermors in tuinmure in ‘n poging om kriminele uit ons eiendom te hou. DIT verstaan ons regering nie…

Johann Marx

Misdaad ekonomie is op ons almal van toepassing, al word jy nie beroof of aangeval nie. Die grootste kettingwinkel groep in SA het erken dat hulle miljoene Rande per jaar “verloor” aan winkeldiefstal. Die koste en moeite om dit te probeer bekamp is enorm, daarom laai hulle net hulle pryse om daarvoor te vergoed. As items gesteel word, het hulle voorsiening gemaak, en as dit NIE gesteel word nie, maak hulle net meer wins. Dus….ek en jy betaal vir misdaad, of dit nou plaasvind of nie.

Johann Marx

Goeie vriend van my is onlangs voor sy hek “verlos” van sy Toyota Fortuner. Die voertuig was betaal. Sy versekering betaal uit, en hy kry R300 000,00 terug. Die “vervaningsvoertuig” is amper R100 000,00 duurder. Die bank is tog te gretig om daai tekort te finansier. Die dief is gevang, en het erken dat hy ongeveer R15 000,00 gekry het vir sy “job”. Sy kliënt het die voertuig na Mosambiek gesmokkel en ongeveer R25 000,00 “wins” gemaak. My vriend is R100 00,00 slegter daaraan toe (wat hy nou moet afbetaal), Toyota maak ‘n “sale”, die bank kry finansieringskostes en rente….en… Lees meer »

Winston

Ja Johann. Jy moet in gedagte hou dat jou siening en somme n bepaalde dimensie verg. Waar bespeur jy dit in SA? Ons voorouers het daardie dimensie gehad en het verbetering na n kontinent gebring net n paar honderd jaar gelede. 1652 om presies te wees. Toe was daar nog nie so n infrastruktuur soos vandag nie. Dit sou ook nooit gekom het as ons voorouers dit nie saamgebring het nie. Ek vra op n dag vir n gids of hy bly is Jan van Riebeeck het Kaap toe gekom? Hy vra “hoekom?” Ek vra toe wat sou jy vir… Lees meer »