ʼn Nuwe besef oor Geloftedag

Argieffoto (Foto: Noelia Demaria/Pixabay)

Mense weet te vertelle dat ek so ietsie weet van die geskiedenis. Boonop probeer ek ook om predikant te wees. Dis albei maar moeilike goeters want mens werk mos met die onsienlike en gebeure van lank gelede. Maar so word ek weer gevra om te spreek by die geleentheid in die Karoo.

Ek het al dikwels gepreek by Geloftedagvieringe en later seker ook by “Versoeningsdag”-geleenthede. Die eerste keer was lank gelede doer in Zoeloeland. So kom ek saam met die afgelope paar dekades se omwentelinge. Van Geloftedag-vieringe waar ons gate in die lug geskiet het en “ons sal lewe en ons sal sterwe” gesweer het met styf gebalde vuiste tot by “geestelike” geleenthede waar ons stilswyend bepreek is oor die liefde van God en vergiffenis en dan vroom die kerkgeboue verlaat het om in stille gerustheid ons versoening te gaan vier.

So sit worstel ek vir dae aaneen. Sommer al hier vroeg in Desember begin ek worstel want dis ver wat ek moet ry en ek wil nou nie loop twak praat en domhede aanvang nie.

Soos dit ʼn ordentlike mens betaam, is ek lank voor die tyd daar by die saamtrek-plek en sit ek rustig in die koelte en bekyk die mense wat so stuk-stuk opdaag. Boeremense. Oud en afgeleefde omies en tannies wat mekaar se hande vasklou en voetjie vir voetjie aansukkel. Sterk jongmanne met vol-baarde, bruin gebrande boere met voorvat vroutjies en ʼn kleinspan wat stof uitspeel met ʼn afgeleefde tennisbal. Van oral oor en uit alle kerke kom hulle. Later kom groet ʼn gryskop pastoor my ook en ons praat ʼn paar ongemaklike woorde uit ordentlikheid.

Ek hou van potjiekos en dit vat sommer my lewe saam; ek roer graag goed bymekaar. Geestelikheid en geskiedenis en die praktiese realiteit van vandag lewe in Afrika sommer so in ʼn mengelmoes wat saam sit stowe. Terwyl ek praat, dink ek aan die moedeloosheid van jare se droogte, aan dorpies wat inmekaar tuimel, aan geliefdes wat landuit getrek het, aan damme wat nie gebou word nie en ligte wat nie brand nie. Ek dink aan mense wat beswaarlik liggaam en gees aanmekaar kan hou en andere wat met duur horlosies en Duitse motorkarre rondjae en dreig en bedrieg. En ek kyk vir die starre skare voor my. Dis asof die radeloosheid van die nag van 15 Desember 1838 opnuut in my afspeel. Asof ek die vrees kan voel van mense wat die donker nag sit instaar en luister na die dreunsang van onheil. Wat bid vir mis om te lig en die son om te skyn.

Toe ek klaar is, vat die plaaslike pastoor ons so entjie weg. Daar om ʼn hoop klippers vra hy dat elkeen wat vandag homself of haarself opnuut aan God wil toewy of opnuut voor Hom wil kom bakhand pleit vir genade, ʼn klip moet optel en kom stapel om ʼn kruis. En toe bid hy ernstig en eenvoudig en pleit sonder aanstellerigheid en bravade om genade. Hy bid vir uitkoms en om wysheid en bo alles om gehoorsaamheid om Sy paaie te loop.

Ek ry daarna verder met ʼn diepe dankbaarheid en ʼn vaste tevredenheid want my God leef en kan uitkoms gee ook vandag.

Maar nou besef ek opnuut die grootsheid van Geloftedag. Dis nie ʼn politieke aangeleentheid nie. Die Suid-Afrika en politieke partye van vandag was nog nie eers skimme nie. Dit is ook nie ʼn kerklike aangeleentheid nie. Die kerke soos ons hulle ken het ook nog nie bestaan nie. Dit was doodeenvoudig ʼn klompie gelowige trekboere wat in radeloosheid die God van die hemel en die aarde aangeroep het. Niemand van ons het die reg om daaraan te kom timmer of daardie waarheid te kom skeeftrek vir ons eie gewin nie. Ons het geen reg om met die geskiedenis te peuter en dit te wil herskryf nie. As ons afstammelinge en meelopers van daardie trekboere is, het ons net een keuse: om die erns van hul gelofte te herken en om die God van daai genade dag ook ons God te maak. Dis al.

Die Here help ons.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.