ʼn Oupa se droom

(Foto verskaf deur Johan Oosthuizen)

Oupa Dürr Bezuidenhout is ʼn man met ʼn liefde wat hom toe laat begin droom het. Hy het ʼn diepgewortelde liefde vir veteraantrekkers en masjiene en toe kom daar ʼn nuwe liefde in sy lewe toe hy sy kleinseuns Ruben en Vincent Oosthuizen, wat voor hom groot word, ryker geword het. Uit hierdie liefdes het sy droom begin groei en toe jaag hy sy droom.

Vir oupa Dürr se hande staan niks verkeerd nie en hy is op sy gelukkigste as hy ou goed weer nuut kan maak. Onder al sy baie goed was daar ʼn Gutbrod-trekkertjie wat opgeroes en in ʼn gehawende toestand was. Dekades terug het die buksie van ʼn trekker, wat op sy dag vir gʼn trekker van sy grootte en selfs groter, gestuit het nie, sy man gestaan. Om een of ander rede het die buksie in die onbruikpad vasgeval. Dis daar waar oupa Dürr hom gaan uithaal het.

Dié trekkertjie is toe met sorg uitmekaargehaal en die lang pad na restourasie en herbou het aangebreek. Hieroor gaan ek nie uitwei nie, want dis nie waaroor die storie gaan nie. Die resultaat, ná moeisame arbeid en volharding, was ʼn Gutbrod-trekkertjie wat gestaan en pronk het soos die dag toe hy in die verkooplokaal sy staan gemaak het. Mens kon sy nuutheid aan hom ruik.

Oupa Dürr het die trekkertjie só staan en kyk en toe begin droom hy om te sien hoe sy kleinseuns die trekkertjie uitmekaar haal en dan weer aanmekaar sit. Hy het sy saak gestel. Eintlik vir hulle vertel wat sy droom vir hulle is. Hulle het ingewillig en gou vlamgevat, op voorwaarde dat hulle hulle boesemvriend Dewald ook kon betrek. Hy is groot en sterk en hulle het spierkrag nodig gehad.

ʼn Baie steil leerkurwe het vir hulle voorgelê en hoewel hulle as ’t ware met kolwe, rakette en balle gebore is, het hulle van moersleutels, boute en moere, skroewe, hefbome, koppelings en die soort van goeters net mooi niks geweet nie – nie eens watter kant toe los- en vasdraai is nie.

Die oupa se geduld en entoesiasme het die mannetjies stelselmatig aangevuur en laat vlamvat. Aanvanklik het dit weke geduur om dit reg te kry, maar die weke het dae geword en die dae, ure. Die vreugde was groot toe die ure minute geword het. Toe Oupa van trots geswel het, was Vincent se woorde: “Oupa se droom het waar geword.” En so was dit.

Dit het Oupa verder laat droom en toe skryf hy hulle in om tydens die Wes-Kaapse Veteraan Trekkers en Masjiene-skou op Villiersdorp hulle vernuf te toon. Die wag was lank, maar die dag het aangebreek toe, tussen honderde veteraantrekkers en masjiene, die blou Gutbrod-trekkertjie sy staanplek gekry het. Niemand wis egter waarom die trekkertjie in sy allenigheid daar gestaan het nie. Dit was ʼn spoggerige, blou Gutbrod-buksie tussen honderde reuse, stoere veteraantrekkers en masjiene van alle soorte. Nie dat die trekkertjie nie óók veteraanstatus het nie!

Op die Saterdagoggend is die trekkertjie op ʼn sleepwa die arena ingetrek. Die seuns het ʼn groot seil oopgesprei en al hulle gereedskap en toebehore netjies uitgepak. Ten aanskoue van nuuskierige toeskouers is die trekkertjie afgelaai en in die middel van die seil staangemaak. Ewe spoggerig het die seuns ʼn buiging gemaak en duidelik planmatig aan die werk gespring.

Stuk vir stuk is die trekkertjie uitmekaar gehaal en elke onderdeel is op die seil neergesit, of aan ʼn dwarsbalk opgehang. Oupa Dürr het ʼn spesiale hefboomapparaat gebou waarmee die enjin gelig en toe weggetrek kon word. Ná ʼn rapsie meer as twintig minute, was al die onderdele netjies op die seil uitgepak of opgehang en daar was nie meer sprake van ʼn trekkertjie nie. Net dele wat (netjies, georden) rondgelê het.

Hulle het dadelik weer begin om die trekkertjie aanmekaar te sit. Sonder om in mekaar se pad te wees, het elkeen presies geweet wat om te doen. Tot almal se verbasing het dit vir hulle ʼn rapsie meer as twintig minute geneem om die trekkertjie weer op te bou. Ná nog ʼn buiging was daar luide applous van verbaasde, en waarderende toeskouers.

Soos dit nou maar is, kom daar soms ʼn foutjie. So was dit ook, toe die enjin aan die brand getrek moes word. Die trektou het gebreek en daar was nie tyd om dit te vervang nie. As die trekkertjie sy brulletjie gebrul het, sou dit ʼn welkome bonus gewees het, maar dit was die spannetjie nie beskore nie.

Dié besondere prestasie het ʼn interessante nadraai gehad toe een van die toeskouers vir die seuns ʼn Gutbrod-enjin uit sy versameling geskenk het op voorwaarde dat hulle self, met Oupa se hulp, die enjin vir die volgende skou moet restoureer. Oupa Dürr se kennis en hulp gaan hulle weer laat slaag, want daar is ʼn saadjie gesaai en die saadjie het reeds ontkiem

Die seuns is ook beloon vir hulle prestasie toe die wisseltrofee vir die Mees Uitsonderlike Inskrywing tydens die skou aan hulle toegeken is.

Vir ʼn liefdevolle, omgee-oupa was dit nie maar net om ʼn droom te bewaarheid nie. Dit het om die seuns en verhoudingbou gegaan en dit was en is sy begeerte om lewensvaardighede vas te lê. Vir hom gaan dit oor ʼn uitdaging om waagmoed en selfvertroue aan te wakker. Hulle moet glo hulle kán, om dan deur beplanning en met volharding ʼn ding aan te pak en klaar te maak. Die vreugde van kameraadskap was baie kosbaar.

Ten slotte het dit gegaan oor ʼn hegte verbondenheid deur kameraadskap tussen ʼn oupa en sy kleinseuns. ʼn Kosbare belewenis wat in harte gedy. Iets wat tot die dood toe gekoester sal word en ʼn erfenis wat nie in geld bereken kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

anneke ·

Ek hoop die lotte weet hoe geweldig groot voorreg dit is waarmee hulle besig is. Dankie Oupa dat jy soveel tyd en liefde bestee aan die klompie. En julle kinders, sê elke dag dankie vir die groot geleentheid!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.