ʼn Paar gedagtes oor Mike Schüssler

Mike Schüssler (Foto: economists.co.za)

Deur Andries Brink

Een Vrydagmiddag laat daag ek by Mike se kantoor op. Harde rockmusiek lei my na waar ʼn gefokusde Mike eindelose syfers in sy provinsiale modelle inlees.

Sy interpretasie en insig tot formele syfers van buro’s is welbekend, maar min het geweet van sy eie netwerk van bronne wat strek van ouens by die dokke in PE en Durban, vragmotorbestuurders en manne op die vloer van pakhuise. Mike was nie net ʼn man van syfers en slim afleidings nie, hy was betrokke by die hart agter daardie nommers. Met sy vinger sterk op die pols van die Suid-Afrikaanse ekonomie, het hy die voller beeld agter die syfers ingekleur.

Mike was inklusief in sy liefde vir mense. Sonder grense wat onderskei. Ek onthou hoe die diversiteit van sy vriendekring my bygeval het by sy 50ste verjaarsdag (dit was so 10 jaar gelede); daar was uitvoerende hoofde, gesiene leiers in ons ekonomie, senior politici en unieleiers, tot kunstenaars en entrepreneurs. Hy het homself nie in ʼn boks laat druk nie. By die partytjie was ʼn Japanse poppekas met lanternlampe; die volksvreemde kleure en stories het onverwags tot ons almal deurgedring, nes Mike.

In die tyd wat ons saam gedien het op die direksie van die groter Johannesburgse sakekamer, het ek en Mike maandeliks ons lede se belange by die Joburg Business Forum gaan verteenwoordig. Hier kon ek sien net hoe wyd gerespekteer hy werklik was. Almal het na hom geluister, van die Randburg informele handelaars tot die Goudstad se uitvoerende burgemeester.

Maar Mike was nie gedryf deur erkenning en status nie, hy het heel voor geveg teen vergrype en verhogings en nooit ʼn sent hiervoor verdien nie. “Hoekom al vir 10 jaar Mike?,” wou ek eendag weet, terwyl ons by ʼn Portugese restaurant naby sy kantoor eet. “Want dis my trade − dis waar die ekonomie gebeur,” was sy eenvoudige antwoord.

Mike het sy gemeenskap gedien met ʼn sagte aanslag tot klipharde feite en sy vermoë om met mense van alle stasies, op sy gemaklike, outentieke manier ʼn band te skep, was werklik besonders. Sy werk en lewe was gedryf deur eerlike toewyding, met eerbare motiewe.

Ek gaan hom mis.

  • Andries Brink is die uitvoerende hoof van die 42Markets-groep en ʼn direkteur van Sakeliga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.