ʼn Paasfeesmymering

Argieffoto (Foto: James Chan /Pixabay)

Dis Donderdag op die vooraand van Paasfees.

Tydens Paasfeesviering, kan ek nie anders as om ook aan Kersfees te dink nie – die Christusfees wat deur die wêreld gekaap is om dit ʼn Krismis te maak. Daar wel ʼn ontsteltenis op in my binneste op en met eerbied gesê, voel ek by wyse van spreke soos Jesus toe Hy woedend die tafels in die tempel omgekeer en die hele ou spul uitgejaag het, omdat die tempel onteer is.

Dan voel ek ook om die dorp in te vaar en die Krismistafels om te keer en dit in hulle koppe in te skree dat dít nie is waaroor Kersfees gaan nie, maar oor die Verlosser van die mensdom wat uit liefde en genade gegéé is sodat ons uit die mag van sonde gered kan word!

Toe ek Donderdag voor ons plaaslike Spar, die grootste winkel in ons dorp, parkeer het, het ek iets gesien wat my in die hart gegryp het. Op ʼn groot swartbord het ek gelees: Hierdie winkel sal op Goeie Vrydag gesluit wees. Ons wens u ʼn geseënde Paasfees toe. Die eienaar sê daarmee dat hy onomwonde staan by dit waaroor Paasfees gaan. Hy verstáán waaroor Paasfees gaan.

Paasfees is vir my die betekenisvolste geleentheid op die Christelike feeskalender en die viering van nagmaal gee nog ryker betekenis daaraan. Paasfees herinner ons aan die smartvolle lyding en sterwe van Jesus, maar ook Sy triomfantlike opstanding uit die dood. Die viering van die nagmaal bring die verlede en hede bymekaar en hou dit daar.

My mymering voer my gedagtes terug na my kinderdae. Donderdagaande het ons om die “huisaltaar” vergader en op hartroerende wyse het my Godvresende ouers ons uit die Bybel voorgehou waaroor die Paasfees gaan. Vroegaand het ons gaan slaap want die volgende oggend om sesuur moes ons op en wakker in die kerkbanke sit.

Tant’ Tillie, al diep in die tagtig, het agter die klavier ingeskuifel en begin speel en met bewerige stem, maar klokhelder, begin sing. Daar was daardie jare nog nie voorafsang nie. Dit was wydingstyd. “As ek die kruishout gadeslaan. Jesus, hou my by die kruis. Gekruisig vir my. Eewge Rots, geklief vir my. Siel vol kommer en vol smart, by die kruis is heil. Daar’s ʼn dierb’re ou kruis”, het sy uit haar hart uit gesing.

My kop het teen my ma se skouer gelê en later toe die dominee die boodskap gebring het, het dit gevoel of hy met my ook gepraat het. Toe nagmaal gevier is, het ek grootoog gekyk hoe my pa en ma biddend die stukkie brood geëet het en toe die wyn gedrink het.

Opstandingsondag het ʼn paar dae later gevolg. Op pad kerk toe het ons gesing. Vreugdevol het ons gesing, want in die kerk sou ons juigend sing oor die steen wat weggerol en die graf wat leeg was. “Jesus het verrys, Hy lewe. Laat ons lofsing, laat ons jubel! Triomf, triomf, Immanuel rys uit die graf!

In Engeland, meer as veertig jaar later, was dit ook min of meer dieselfde, maar veral die Sondagoggenddiens is die geleentheid wat my altyd by sal bly. Dit was ʼn jubel en juig byeenkoms. By die deur is ons begroet met ʼn opgehefde hand en ʼn vrolike “Joy to the world! He is RISEN!

Binne in die groot kerkgebou was ʼn feestelike atmosfeer. Vreemdes het bladgeskud en vriende het omhels en vreugdevol gejuig want “He is Risen!” Die hoogtepunt het gevolg met die lofsang. Die verse met klavierbegeleiding is sag en gedemp gesing:

Low in the grave He lay – Jesus my Saviour
Waiting the coming day – Jesus my Lord

Tussen die verse het ʼn gejubel gevolg. Die orrelis en die trompetspelers het voor gespeel, gevolg deur ʼn tromboon, fluite, viole, tjello’s en ander kleiner instrumente en die gemeente het lustig die refrein saamgesing:

Up from the grave He arose with a mighty triumph o’er His foes!
He arose a Victor from the dark domain
And He lives forever with His saints to reign!
He arose! He arose! Halleluja, Christ arose!

Baie jare se Paasfeesbelewenisse het tot ʼn klimaks gelei toe ons dit in Israel beleef het. Daar het dit begin toe ons in Jerusalem op die Via Dolorosa – weg van smart en pyn – gestap het. Van die stadspoort af is ons na die tuin van Getsemane. In doodse stilte het ons tussen eeueoue olyfbome peinsend gestap en plek-plek net in gedagtes versonke gestaan en kyk. Dit was waar angssweet soos bloeddruppels gedrup het.

Daarvandaan het die gids ons deur ʼn lowerryke tuin gelei tot by ʼn uitkykpunt waar ons op Jerusalem kon afkyk. Ná sy praatjie het hy vir ons gevra om om te draai sonder om ʼn woord verder te sê. ʼn Hele ent van ons af was ʼn heuwel te sien: Onmiskenbaar Golgota. Party het hande gevat en ander het mekaar omarm terwyl ons woordeloos en bewoë nie kon glo wat ons oë gesien het nie.

Ons is verder deur die tuin gelei na ʼn rotsagtige gebied. Toe ons om ʼn reusevyeboom geloop het, het ons dit gesien: ʼn Sirkelvormige steen wat weggerol is en toegang bied tot grafte wat in rots in uitgekap is. Om half gebukkend in te stap en dan op ʼn soortgelyke rotslêplek af te kyk waarop Jesus se liggaam moontlik neergelê kon wees, was ʼn onbeskryflike belewenis. En dan die kennisgewing. “He is not here. He is risen!

Daarna het ons buite onder die groot vyeboom nagmaal gevier. Minder as ʼn kilometer van Golgota en omtrent vyftien meter van die leë graf af. Daar is min gepraat. Slegs die woorde wat Jesus self geuiter het, is herhaal. As ek dit so mag stel: Jesus was nog nooit so naby nie. Dit was asof Hy daar was – die Verlosser wat uit die graf opgestaan het, opgevaar het na die hemel en van waar af Hy weer sal kom.

Nog amper twintig jaar later sit ons vanoggend hier in Ou Meule en peins oor ʼn dagstuk vir vandag, Goeie Vrydag. Die skrywer verwys na Pilatus se vraag aan die skare: “Wat moet ek dan doen met Jesus wat Christus genoem word?” En die skare het uitgeroep: “Kruisig Hom!”

Die skrywer swaai toe die vraag, deur te vra wat ons, ek en jy, sal doen as die vraag aan ons gevra sou word. Wat gaan jy ten opsigte van Jesus doen as Hy voor ons sou staan? Tomas se antwoord was: “My Here en My God!” Jesus se antwoord was: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tóg glo.”

My laaste stuk mymering: Iemand uit Engeland wens ons ʼn geseënde Paasfees, met stof tot diepe dankbaarheid, toe. Die vraag word gevra wat sou gebeur het as Jesus halfpad omgedraai het. (Hy het trouens vir Sy Vader gevra of die beker nie maar by hom verby kon gaan nie.) Hy kon dus omdraai, maar Hy wou nie en Hy hét nie.

En ás Hy omgedraai het? Dan was daar geen redding, geen hoop, geen liefde, geen genade en geen vergifnis nie… Ja, só lief het God die wêreld gehad. Dis die wonder en vreugde van Paasfees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris

Dankie Johan vir die deel van ‘n besonderse boodskap. Ons aanbid ‘n groot God wat Sy eie seun laat sterf het, om ons van ons sonde te red. Amen!

Oudste

Halleluja, die graf is leeg, Hy is nie dood nie, Hy het opgestaan.