’n Parkie van hoop

Die nuwe parkie in Orania (Foto: Verskaf/ Helpende Hand)

In ʼn tyd waarin daar baie onrus is, is dit soms nodig om ook nuuskommentaar te lewer op goeie nuus. In wêreldnuus is in dieselfde week waarin Rusland en Oekraïne steeds vol in oorlog is, Israel en Gasa geweldig onstabiel is en Amerika sekere basisse aanval in Sirië meer onsekerheid as sekerheid en nog onluste wat Europa vol dreig.

Binnelands gebeur dit dat die regering dit regkry om die Bela-onderwyswet ingestem te kry en die regering leen ʼn ekstra een miljard dollar vir kragvolhoubaarheid en die gemiddelde Suid-Afrikaanse burger wonder oor hoe baie daarvan gesteel gaan word en hoeveel deur tenderkorrupsie net gaan wegraak.

In-huis bekommer die salaristrekker oor sy maandelikse salaris, tien rentekoerstygings na mekaar maak mense moeg en die brandstofprys lyk of Elon Musk dit maan toe lanseer. In ʼn tyd van al hierdie dinge gebeur daar in die klein dorpie Orania verlede week iets wat nie noodwendig hoofnuus sal haal nie, maar tog ʼn geweldige sterk en positiewe boodskap uitdra. Dit is ʼn stukkie goeie nuus in ʼn wêreld vol uitdagings.

Kinders is reeds tuis in die nuwe parkie (Foto: Verskaf/ Helpende Hand)

ʼn Parkie word geopen te danke aan Solidariteit, die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM) en Solidariteit Helpende Hand. Ja, ʼn gewone speelparkie. Wat maak dit so spesiaal? Absoluut alles.

Die opening van ʼn speelparkie in ʼn vreedsame klein dorpie wat bou na ʼn stad is spesiaal. Dit getuig van vrede, van hoop, van ʼn toekoms. Wat kan meer die boodskap van vrede uitdra as bejaardes wat in ʼn parkie kan sit en kinders wat speel asof al die lelike dinge in die wêreld nie gebeur nie. Vir baie van die ouer mense sal daar waarskynlik nog die nostalgie wees van vreedsaam leef en piekniek in ʼn gemeenskapsparkie. In die meeste dorpe het daardie vreedsame parkie-tyd verbygegaan.

(Foto: Verskaf/ Helpende Hand)

Tans spook ons gemeenskappe en gemeenskapsinstellings om parkies wat daar is skoon, leefbaar en netjies te hou.

Hulle doen reusewerk en stry ʼn stryd teen ʼn tydsgees wat vernietig en verwoes. Van nuwe parkies aanlê is daar min sprake. Daarom is dit wat die afgelope week in Orania gebeur het groot nuus en verdien dit om groot nuus te wees. ʼn Nuwe parkie.

ʼn Lint wat geknip word tussen twee ontwikkelings, Soetdoring en Gannabos. Kinders wat vreedsaam speel.

Ons kinders is hier welkom. Ons kinders moet sterk groot word, vry van die malheid van ʼn vreemde wêreld.

Daarom is die opening van hierdie nuwe parkie meer as net die knip van ʼn lint – dit getuig van vertroue in ʼn toekoms, van hoop.

Kreatiwiteit leef reeds in die nuwe parkie (Foto: Verskaf/ Helpende Hand)

Die woorde van ʼn jong klein dogtertjie met die opening van die nuutgeskepte parkie is kosbaar en hoopgewend: “Ons speel hier, ons mag en ons kan. Ons speel hier. Dit is lekker en dit is vry.” Mag ons in hierdie land nog baie parkies bou. Nuwe parkies. Simbole van hoop en vrede en vryheid. Mag ons bejaardes onder die bome sit en ons kinders baie speel.

Mag hulle hardloop en spring, swaai en bal skop. Mag die parkies getuienis wees van ʼn toekoms en mag daar so vir elke kind die warmte van ʼn nes geskep word. Die opening van ʼn nuwe parkie is groot nuus. Groter as wat ons dink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

kaplyn ·

Baie dankie en geluk aan Solidariteit Helpende hand. Met julle weet ons waarheen gaan ons geld. Mag die kinders van Orania dit baie geniet en heerlik speel. Dit laat my dink toe ek nog ‘n kind was en al die kinders in die buurt het almal by ‘n parkie gespeel. Toe was dit nog veilig om selfs’n kilometer na die parkie te stap en veilig daar te speel. Die winkel was oorkant die parkie en daar het ons toffies gaan koop en dit met mekaar gedeel. Sorglose tye!!

Blikke ·

Darem sal die parkie oorleef en nie stuk-stuk weggedra of afgebrand word nie!!!

Karoo ·

Soos wat ‘n mens die lang pad af Kaap toe aan pak sien jy plek plek parkies wat so verwaarloos en stukkend is. Dan wonder ek, die mense het reeds so min, hoekom dit wat mooi is en vir jou gegee word stukke slaan, waarvoor is jy kwaad en hoekom gun jy niemand niks.

Karoo ·

Daar behoort vir ALLE kinders parkies te wees waar hulle kan hardloop en spring, swaai en bal skop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.