Chris Chameleon: Nagedagtenis

Chris Chameleon (Foto: Chris Chameleon/Facebook)

Louwtjie se ouers was soos my eie.

Die dag toe ek sy ma ontmoet het, het sy met ʼn wilde bos hare kaalvoet op die voorkamermat gesit – hiperintelligent, eksentriek en ʼn volwassene soos ek destyds in my jong lewe nog nooit eerder ontmoet het nie.

Sy het in my ʼn diamant gesien wat sy geweet het dalk nooit geslyp sal kan word nie, maar dat ek deur die spoelwaters en die rif van tyd en plek uitgelig is, vanwaar sy my opgeraap en in die lig gehou het, sodat ek nie sou terugsak om verborge deur modder en gruis in die donker van die aarde my onsigbare lig na binne te glim nie.

Gedurende lang aande om die kombuistafel in die laat 1980’s het sy my jong siel by die hand geneem en my met geduld, liefde en toewyding gelei na ʼn plek vanwaar ek myself kon sien, kon glo in my eie lig.

Sy pa het homself eers later aan my voorgestel. ʼn Filosoof, ʼn sielkundige en ʼn man met so ʼn hoë agting vir kuns dat hy geweier het om sy eie uitsonderlike kunstalent ʼn kans te gee. Maar sy grootste talent was ʼn liefde vir kinders en hy het sy lewe toegewy tot die afvlerkies. Een ná die ander het hy en sy vrou hulle ingeneem, heelgemaak, geliefd laat voel en dan laat vlieg. Hy het ʼn kennis van die groot wysgere van vergange tye gehad en hulle bydrae tot die mensdom vir my benadruk. Maar dit is eers later, in my volwassenheid, dat ek nader aan hom sou kom.

My liefde vir hulle beide het met die jare gegroei, en is ongerep gelaat deur die afwesigheid wat ʼn eie, volwasse skema op ʼn mens afdwing. Daar het ook baie water onderdeur die brûe van ons verhoudings gevloei en soms was die brûe nie daar nie, moes ons blootvoets met blinde wit tone oor die gladde klippe deurskuifel om aan mekaar se oewers te kom.

Louwtjie was eers te jonk vir my soort sports, ʼn skoolkind toe ek reeds uit die weermag was. Maar mettertyd het ons mekaar begin raakkuier. Hy het ook ʼn rockorkes gehad en my gunsteling lied van hom was die een waarin hy op sy puberbeste sing: ‘I love my cat, ‘cos girls are just crap…’ en dan ‘girls are disgusting, cat’s are so trusting, and they don’t want a diamond ring’.

Toe hy eers met skool klaargemaak het, kon ons saam kuier. In die 1990’s het ons rof gekuier, die soort kuier wat mens in Hillbrow se aanhoudingselle laat opeindig. Uiteindelik het die kuier te hard geraak en een aand het die swart mantel, wat hom tydig en ontydig vanuit die niet van Louwtjie se gemoed laat opdiep het so donker en so kompleet van agter oor sy skouers en toe sy kop getrek, dat hy homself in die hart geskiet het. Met die genade van bo en die laatnag ongevalle-eenheid opofferings wat net ʼn toegewyde ouer kan optoor, is Louwtjie terug lewe toe getrek en het hy minus ʼn ventrikel verder geleef. Uiteindelik het hy vrou gevat, twee lieflike kinders in die lewe gebring en in die soort lewe wat lyk na normaliteit groef gevind.

En vanaand sit ek hier. Die wit kers flikker voor my. Ek dink aan Dave, ek dink aan Arrie, aan Matt. Ek dink aan my sussie en my ma en ek dink aan hoe ek hulle in die onverbiddelike gang van die lewe gaan verloor, of hulle my. En ek bid.

En ek dink aan Neil en Lize-Mari en Tasche en Huyser en Tsiki en Braam en aan hoe hulle besluit het om te gaan voordat hulle kom haal is.

En ek dink vanaand, by hierdie kers, aan Louwtjie se ma en pa, wat ook my ma en pa geword het en dit pla my dat die snikke so droog moet wees, dit pla my dat ek nie net my bek kan oopmaak en kan huil, weer oop en hard kan huil soos ʼn kind nie. Here, hoekom moet ek selfs in hierdie oomblik inhou en terughou? En Here, wys vir my! Wys vir my betyds die sluier as hy van agter kom. Wanneer sy koue fluweel agter oor my kop trek en die onsigbare donker my oë en die oë binne my oë en die hoop in my en watter son daar ook in my hart wil wees en my ganse alles in swart verswelg, sodat ek nie sal wees waar Louwtjie gisternag was nie. En Here, liewe genadige Here, troos vanaand my surrogaat ouers en Here, liewe genadige God, hou vanaand vir Louwtjie styf by U vas. Hou hom vas Here, soos hy selfs in die lewe nooit vasgehou is nie.

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Engela ·

Wat ‘n mooi uitdrukking … hoe hulle besluit het om te gaan voordat hulle kom haal is.

sus ·

diep diep en so pragtig …

laat my met hartseer terugdink aan van my geliefdes wat voor hul tyd weg is …

Johann cb ·

Ja Chris, die donker paaidjie wat die dood nalaat, is lank, donker en finaal! Twee maande gelede is my ou moeder oorlede en ‘n mooi lewenslange aardse band is gebreek! Dit laat ‘n ou wonder oor só baie dinge van die verlede, hede en toekoms. Die trane wil nie altyd loop om die siel suiwerskoon te was nie! Dankie vir mooi herinneringe wat in jou hart, gemoed en kop agterbly! Dit help…

dries ·

More Chris
moenie dat die donker jou vat nie
jy het te veel om te gee
lekker dag!

Ouvrou ·

Die “swart hond” van depressie draf saam met soveel mense. Hy draai soms terug, knor, wys tande en byt self geliefdes wat wil help. My seun leef ook met bi-polêre gemoedsversteuring. Ek noem dit “cancer of the mind”. Sterkte aan almal wat hiermee saamleef en swaarkry.

Elza Lorenz ·

Dat liefde en hartseer vervleg is, is nie altemit nie. Hoe meer jy liefhet hoe dieper die hartseer by verlies. Dit word al moeiliker om staande te bly in hierdie ongenaakbare wereld. Mag ‘n vertroosting die pad na ons gemoed vind voor ons te vroeg weggaan.

Erich ·

Soos altyd verwoord jy pragtig dit wat baie van ons mee sukkel en mee moet saam lewe.
Dankie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.