Noem my sommer Mignon du Preez

dames-krieket-2

Toe ek op hoërskool begin krieket speel, het my ma my krieketbroeke met alle mag probeer wit hou, my broers het my geleer om die kolf en bal reg vas te hou, en my pa het vir ure sy lyf bouler gehou sodat my kolfwerk kon verbeter. Ek was nie vreeslik goed nie, maar ek was doodgelukkig.

As kind het ek gereeld krieket in die straat gespeel – met twee ouer broers het ek nie veel van ʼn keuse gehad nie. As ek saam met hulle wou speel moes ek maar gaan staan en veldwerk doen. Ek het vir ʼn rukkie klavier gespeel, maar het nie kans gesien om alleen in die huis met toonlere te sukkel terwyl die buurt se kinders buite speel nie. My ma het haar droom laat vaar toe sy besef haar dogter hou eintlik van boomklim en krieketspeel.

Ek is gelukkig om ʼn familie te hê wat my aanvaar soos ek is. Toe ek op hoërskool begin krieket speel, het my ma my krieketbroeke met alle mag probeer wit hou, my broers het my geleer om die kolf en bal reg vas te hou, en my pa het vir ure sy lyf bouler gehou sodat my kolfwerk kon verbeter. Ek was nie vreeslik goed nie, maar ek was doodgelukkig.

Ek onthou nog toe ʼn tannie op ʼn dag vir my vra hoekom ek nie eerder netbal speel nie. “Krieket is mos vir seuntjies, my skat?”

Ek was seergemaak deur haar kommentaar want ek kon nie verstaan hoekom ek nie mag krieket speel nie. Wie het besluit krieket is net vir seuns?

Die mensdom het soveel dinge al bereik, maar as dit kom by aanvaarding en liefde vir mekaar, het ons nog baie om te leer. Ons stel gereeld vir mekaar, en onsself, baie beperkings. Meisies mag nie krieket of rugby speel nie, seuns mag nie ʼn bestaan voer uit bak of kook nie. Beperk, beperk, beperk.

ʼn Kollega vertel my van ʼn pa wat sy seun betaal om rugby te speel. Hoekom sal ons onsself en ons kinders dwing om iets te doen wat hulle duidelik nie gelukkig maak nie?

Om in die boksie te pas wat ander gebou het? Nee wat, die lewe is te kort, ons weet dit mos.

Ek lees gister ʼn berig oor Mignon du Preez, ʼn vrou wat vir die Protea vrouekrieketspan speel. Haar veldwerk is so goed, sy word die “vroue- Jonty Rhodes” genoem. Mignon het haar duidelik nie aan tannies met venynige kommentaar gesteur nie. Ek juig elke keer wanneer mense deur beperkings breek – wat suksesvol en gelukkig is ten spyte van die samelewing se voorskrifte.

Toe ek en my broers krieket gespeel het, het ons onsself verbeel ons is een van die Proteas: My oudste broer was gewoonlik Jacques Kallis – hy het soveel balle weggeslaan, die naam het hom goed gepas. My jonger broer was Shaun Pollock – gepas want sy naam is ook Shaun én hy kan boul. Ek was gewoonlik Hansie Cronjé, of Shane Warne, net om op hul senuwees te werk.

Speel krieket, rugby of sokker as jy wil. Bak, brei of maak rokke as dit jou gelukkig maak. Wees wie jy wil wees.

Wanneer ek weer krieket saam met my broers speel, gaan ek sommer Mignon du Preez wees…

[Die video is nie meer beskikbaar nie]
https://youtu.be/Dgtpv-7vI9M

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karin Bbotha ·

Stem saam Adele elke mens is uniek en moet toegelaat word om sy uniekheid uit te leef.Dit was lekker krieketdae!!

LaRochelle Marx ·

Jy is vir my dogter Eliz-Mari ‘n groot inspirasie. Jy is haar groot rolmodel en sy volg in jou voetspore. Sy speel self krieket en ja die skerp tonge is soms swaar om af te weer,maar jy het gewys dat krieket ook vroulik kan wees. Hou aan om so mooi ambasadeur vir vroue krieket te wees. Sterkte met die res van jou loopbaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.