Nooit weer nie

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Mariska Nanni)

Elke jaar op 21 Maart, menseregtedag, skryf ek oor die Life Esidimeni-tragedie. Elke jaar probeer ek verstaan wat in hierdie tydlyn sedert Junie 2015 tot nou gebeur het. Waarom dit gebeur het. Elke jaar sien ek op 21 Maart die slagoffers se gesigte voor my. Elke jaar op 21 Maart… maar ook elke dag tussenin.

Nooit weer nie

Die slagspreuk “Never Again” sit vas in my gedagtes. Nooit weer nie, nooit weer moet hierdie gebeur nie. Nooit weer kan ons weerlose mense se mense regte so geskend word nie.

Die geregtelike doodsondersoek in die Life Esidimeni-tragedie is aan die einde van Oktober 2023 in die Pretoriase hooggeregshof afgehandel. Die ondersoek is op 19 Julie 2021 begin met die doel om te bepaal of iemand strafregtelik aanspreeklik gehou kan word vir die dood van die meer as 140 geestesgesondheidpasiënte weens, onder meer, wanvoeding en longontsteking.

Hulle is tussen Maart en Desember 2016 in Gauteng dood toe meer as 1 500 geestesgesondheidpasiënte na ongelisensieerde instellings oorgeplaas is waar hulle nie behoorlike sorg ontvang het nie. Die Gautengse regering het reeds R405 miljoen aan slagoffers uitbetaal.

Dit word nou aan die hof oorgelaat om sy bevindings en aanbevelings te maak. ʼn Datum daarvoor is nog nie gespesifiseer nie.

Solidariteit Helpende Hand en AfriForum se privaat vervolgingseenheid, wat van die families van die slagoffers verteenwoordig, wil hê regter Mmonoa Teffo moet aanbeveel dat geregtigheid geskied sodat verantwoordelikheid geneem word vir die oorhaastige en onbeplande skuiwe bloot om geld te bespaar. Solidariteit Helpende Hand bestempel dit as een van die grootste menseregteskendings ooit aan die hand van die staat in Suid-Afrika.

esidimeni-tragedie-2017-08-10-02

Destyds tydens ‘n mediakonferensie ter ondersteuning van familielede wat deur die Esidimeni-tragedie geraak is. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.)

Verder tussen al die geraas maak ʼn mens se ore die fluitgeluid, en tussendeur hierdie fluitgeluid bevind jy jouself langs die bed van een van die slagoffers van hierdie tragedie en dit voel of tyd stil staan… Ek noem nie die slagoffer se naam nie, maar nie omdat die slagoffer net ʼn nommer was nie. Nee, hierdie was iemand se kind, iemand se boetie. Hierdie persoon wat geskep is deur ons Hemelse Vader was definitief nie net ʼn nommer nie.

Langs hierdie bed, in hierdie koue kamer, voel en ruik jy die hartseer. Jy sien wat ander probeer wegsteek, jy kan nie hoor hoe die slagoffer voel nie, want hy kan dit nie vir jou sê nie. Want hierdie kind het alleen gesterf onder die hand van dié wat hom moes oppas. Onder die hand van dié wat sy menseregte moes beskerm. Hierdie kind is ook nooit gevind nie. Daar is nie ʼn graf vir mamma en pappa om heen te gaan nie. Hierdie kind is weg, weggeneem. Nooit weer nie.

Waar was die regte tóé?

Volgens die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie is die Grondwet die hoogste wet van Suid-Afrika. Die Handves van Regte in die Grondwet hou spesifiek rekord van al die regte waarop die mense in Suid-Afrika geregtig is. Hierdie regte kan nie maklik deur wette verander word nie, aangesien hulle spesiaal in die Grondwet beskerm word. Dié regte word dikwels deur die howe gebruik saam met wette oor die regte om gevalle oor menseregte te beslis.

Menseregte is basiese regte wat almal het, bloot eenvoudig omdat hulle mense is. Hulle hoef dit nie te verdien het nie, en dit is nie voorregte wat deur ʼn persoon of regering gegee word nie. Jy het hulle die oomblik wat jy gebore word, en hulle kan nie weggeneem word nie.

Familie van die Life Esidimeni-slagoffers tydens die arbitrasieverhoor in 2017. (Foto: Brenda Masilela/ANA)

Ek wil graag stil staan by die volgende 4 artikels:

  • Artikel 10: Hierdie artikel verklaar dat almal inherente waardigheid het en die reg het om hul waardigheid gerespekteer en beskerm te hê. Dit beteken dat almal geregtig is op gelyke respek. Die reg op waardigheid is nouliks verbind aan ander basiese regte, en waar ander regte soos die reg op toegang tot water en sanitasie geskend word, word die reg op waardigheid ook dikwels geskend.
  • Artikel 11: Hierdie artikel maak voorsiening daarvoor dat almal die reg op lewe het. Niemand mag die lewe van ʼn ander mens beëindig nie. Die reg op lewe vereis die hoogste moontlike beskerming deur die staat en al die mense in die land. Die hof kan byvoorbeeld nie meer mense ter dood veroordeel nie, want die Grondwethof het die doodsvonnis ongrondwetlik verklaar.
  • Artikel 24: Almal het die reg op ʼn omgewing wat nie skadelik vir hulle gesondheid of welsyn is nie. Regte op ʼn veilige omgewing raak toenemend belangrik om te monitor, aangesien besighede en ander belanghebbers werk soos mynbou uitvoer wat kan bydra tot besoedeling en die vernietiging van natuurlike hulpbronne. Besoedeling van die omgewing kan ernstige gesondheidstoestande in gemeenskappe wat aan hierdie besoedeling blootgestel is, veroorsaak. Dus skep hierdie reg ʼn verpligting op die staat om te verseker dat die omgewing behoorlik bestuur word.
  • Artikel 27: Almal het die reg om toegang te hê tot gesondheidsorgdienste, insluitend voortplantingsgesondheidsorg; voldoende voedsel en water; en maatskaplike sekuriteit wat insluit, as hulle nie in staat is om hulleself en hulle afhanklikes te onderhou nie, toepaslike maatskaplike bystand. Niemand mag nood-mediese behandeling geweier word nie

Nou vra ek myself af – waarom, as dit so geskryf word, word dit nie so geleef nie. Waar is hierdie slagoffers se menseregte ooit in ag geneem, waar is hulle lewe en bestaan ooit in ag geneem?

René Roux (Foto: Verskaf deur SHH)

Vandag op 21 Maart, soos elke jaar, raak ek weer stil in gebed vir die families wat iemand verloor het vir wie hulle bitter lief was, vir elke mamma wat ʼn kind verloor het, vir elke gesinslid wat leeg is as gevolg van blatante nalatigheid van die staat en die tekort aan liefde en versorging van mense wat veronderstel was om juis opgelei te wees in hierdie gebiede van waardes.

Ek word stil en ek bid, maar ek bid ook dat geregtigheid uiteindelik mag geskied, dat die verantwoordelike persone verantwoordelik gehou sal word.

En laaste bid ek vir ʼn gemeenskap wat waardes kan uitleef en nie net spreek nie, waardes is vir ons hier by Solidariteit Helpende Hand ʼn werkwoord en dit is tyd dat alle staatsinstellings dit ook opneem.

Nooit weer nie.

Meer oor die skrywer: René Roux

René Roux is adjunk-uitvoerende hoof en woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.