Nuuskommentaar: Doodstraf as vrou regte opeis?

Argieffoto

Argieffoto

Verskeie hofsake vind nou in Suid-Afrika plaas waarin mans aangekla word dat hulle hul vroue laat vermoor het toe die huweliksbootjie op die stormsee beland en die vroue skynbaar op hul regte aangedring het.

Dié vroue het bepaald nie hiervoor die dood verdien nie.

Tog is daar talle maniere waarop baie vroue in Suid-Afrika deur ’n vorm van “boendoegeregtigheid” met hul lewe boet of in vrees en bewing leef.

Ook die Oscar Pistorius-saak raak aan die kwessie.

En ’n mens hoef maar net na nuusopskrifte te kyk om te weet dat dit nie ’n kwessie is wat tot Vrouedag kan wag en dan oornag reggetoor word nie.

Vroueregte, in die sin dat dit verstaan word as gelyke regte vir mans en vroue, is dikwels nie so vanselfsprekend nie, selfs in lande wat beskou sou word as op die voorpunt te wees daarmee.

Switserland, byvoorbeeld, het eers in 1971 stemreg aan vroue toegestaan nadat die mans ’n referendum daaroor gehou het. ’n Grondwetlike tradisie tussen militêre diens (wat vir mans gereserveer was) en stemreg was diep gesetel eerder as ’n gevoel dat vroue minderwaardig is.

Drie uiteenlopende sake in twee van die belangrikste lande ter wêreld toon dat daar steeds gebreke is in die verkryging van gelyke regte vir vroue.

In die eerste geval het die Kanadese laerhuis pas gestem dat die Engelse teks van die land se volkslied aangepas word om geslags-neutraal te wees.

Die woorde wat verander gaan word as die hoërhuis dit ook goedkeur is: “in all thy sons command”. Die nuwe woorde is “in all of us command”.

Die volkslied was oorspronklik net in Frans, maar het later Engelse woorde gekry wat dieselfde strekking het maar nie ʼn vertaling is nie.

Die ironie is dat die vernaamste oorspronklike teks van die volkslied wel geslagsneutraal was:“True patriot love thou dost in us command.” Dit is tydens die Eerste Wêreldoorlog verander omdat die soldate effektief almal mans was en bedoel was om patriotisme aan te help.

Hoewel verskeie veranderings oor die jare aan die volkslied aangebring is, het die enkelgeslagverwysing bly sit. Trouens, sedert “O Canada” in 1980 die amptelike volkslied (met verskeie wysigings) geword het, was daar ten minste tien pogings om die gewraakte sinsnede te verander.

Ook die vorige konserwatiewe regering het in 2010 die woorde probeer verander, maar moes ná net twee dae die handdoek ingooi weens sterk weerstand binne die party self.

Die helfte van Justin Trudeau, die nuwe liberale premier, se kabinet van 30 lede bestaan uit vroue.

Die vreemde is dat die Kanadese grondwet nie bloot aangewend is om die saak reg te stel nie. Die grondwet, en sy handves van menseregte waarin vroueregte ter sprake kom, is egter baie kompleks en leen hom tot uiteenlopende interpretasies.

Vroueregte kom in minstens drie artikels ter sprake, maar hang nie mooi saam om ’n eenvoudige uitleg moontlik te maak nie. Dit lyk of feministe hul vingers maklik met die grondwet kan verbrand.

In die VSA het vroueregte pas ’n nuwe dimensie gekry. Tot dusver kon net mans volgens ’n lotingstelsel vir militêre diens opgeroep word. Ingevolge die nuwe voorgestelde wetgewing wat pas deur die senaat goedgekeur is, moet alle Amerikaanse vroue wanneer hulle in 2018 en daarna 18 word, ook registreer sodat hulle geloot kan word. (Loting beteken ’n persentasie van die geregistreerdes word opgeroep, terwyl die ander militêre diens heeltemal kan vryspring.)

Die afgelope aantal jare was daar groot vordering om vroue in militêre hoedanighede aan te wend, insluitend gevegsrolle wat tradisioneel vir mans gereserveer is.

Dit val weer saam met die jongste peilings wat nou skynbaar dui op die onafwendbare verkiesing van Hillary Clinton as eerste Amerikaanse vrouepresident. Dit volg op enkele jare ná ’n eeu nadat Amerikaanse vroue stemreg gekry het.

Vroue as staatshoofde en regeringsleiers is lank nie meer ’n nuutjie nie en selfs lande wat moeilik ’n vrou as regeringsleier sou duld, soos Moslemstate, het al sulke leiers opgelewer. Ook nie almal het in hierdie leeuwêreld lank gehou nie, en dit lyk of dit net eintlike ystervroue van die statuur van Golda Meïr, Margaret Thatcher en Angela Merkel is wat lank kan hou.

In Suid-Afrika is sekere vroue onaantasbaar op die soustrein, waaronder skynbaar die minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini. Verskeie vroue word genoem as potensiële opvolgers wanneer pres. Jacob Zuma die tuig neerlê. In die kabinet dien ’n paar vroue (en mans) wat werklik nie daar hoort nie.

Tog is probeer om wetgewing ter wille van die Huis van Tradisionele Leiers deur te voer wat ’n afsonderlike regstelsel vir landelike vroue sou skep. Vroue sou hulself nie kon verteenwoordig nie.

By verskeie universiteite is daar ’n kleitrappery met ondersoeke na ’n beweerde verkragtingskultuur omdat die hantering daarvan politiek inkorrekte gevolge kan hê.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Theuns ·

Herman weer uitstekende kommentaar. Dit lyk vir my waar daar “minagting en ‘n beheptheid met seks” is in ‘n verhouding gebeur die soort van brutaliteit en moord. Wat is dit wat die afwykings veroorsaak? Is dit dalk dat die riglyne in die Bybel vir ‘n goeie lewe nie meer nagevolg word nie. (Die Tien Gebooie is n goeie begin vir die riglyne wat ek van praat)

Theuns ·

Andre seker baie min. Selfs ons GODDIENS is onder aanslag.Dink aan die oganisasie wat Godsdiens iuit ons skole wil verban! Gaan ons ouers en onderwysers dit toelaat?

MissDemeanor ·

Theuns, ja jul kan nie meer jul dogma op almal afdwing nie, raak gewoond daaraan, jul godsdiens is maar net nog een van baie, niks spesiaals nie.

MissDemeanor ·

Ja Theuns, raak gewoond daaraan. Jul godsdiens is maar net een van baie, en nie een van die baie is spesiaal nie.

Pieta ·

Miss Demeanor, wie het jou so seergemaak dat jy mense se geloof probeer verkleineer? Ek kan nog verstaan as jy nie saamstem nie, maar om neerhalend te wees op ons wat glo, is nie reg nie. Gelukkig sê die Woord vir ons dat ons vervolg en ook deur sommige verag sal word. Ek hoop jy kan ook ware vrede vind.

Cobus ·

Versiigtig Miss oor wat jy sê. Dink liewers ernstig voor jy sulke kommentaar op skrif sit. Dit maak beslis saak oor wat jy oor die Skepper kwytraak. Ek voel jammer vir jou, probeer met iemant praat wat jou kan bystaan

Mannin ·

Beheptheid met gelykheid van ongelyke wesens lei tot rolvermening en chaos. Min jong mans weet vandag of hulle vis of vlees is, want rolvermenging verwar hulle. Mans moet vaders en voorsieners wees, en lei deur te dien en te beskerm. Vrouens moet moeders en versorgers wees, en volg deur te dien en te vertroetel. Dít is die voorbeeld wat kinders moet kry om hulle identiteit te vestig. Kom by mense, mans en vrouens is nie gelyk geskape nie, en kan nie mekaar se rolle vertolk nie. Dit is ‘n groot onreg wat ‘n jong kind aangedoen kan word om ‘n ma te hê wat by die werk is wanneer die kind haar nodig het.

John ·

Die ANC-vroueliga wil 50% verteenwoording he in die parlement ook as vir burgermeesters. Elke naweek is politieke byeenkomste en talle begrafnisse. Wanneer is swart ma’s tuis? President Zuma kla bietjie oor die misbruik van verdowingsmiddels maar waag dit nie om die moeders/ouers tot orde te roep nie. Wie help die kinders met hul huiswerk. Laerskooldogters raak swanger en baie aborsies vind plaas. Mentorskap vir die jeug is ‘n groot probleem en groot uitdagings wag vir hulle in die toekoms waarvan werkloosheid seker die grootste is. Wit ma’s sit ook met die dilemma dat hulle dikwels verplig is om te werk, selfs met kleuters in die huis, weens afleggings, die gepaardgaande onsekere toekoms en swak bevorderingsmoontlikhede vir witmans.

Charles Skeen ·

Dit is dieselfde Kanadese parlement wat onlangs besluit het bestialiteit is wettig!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.