Nuwe reguleringsraad vir advertensieklagtes

advertensie-borde-buitelug-advertensiebord

Foto: Paweł Czerwiński/Unsplash.com

Nadat die Gesagsowerheid vir Reklamestandaarde onlangs gelikwideer is, het rolspelers in die bedryf besluit om ’n nuwe instelling te stig wat selfregulering van reklame in Suid-Afrika kan reguleer. Dit is belangrik om te sorg dat verbruikers nie mislei word deur reklame nie en daarom is dit belangrik om advertensies te reguleer. Ina Opperman vertel meer.

Die stigters

Die Suid-Afrikaanse Bemarkingsvereniging (MASA), Vereniging vir Kommunikasie en Reklame (ACA) en die Buro vir Internetreklame (IAB) het die nuwe Reguleringsraad vir Reklame (ARB) gestig, wat die Gedragskode vir Reklamepraktyk (wat die inhoud van advertensies reguleer) sal toepas. Die reguleringsraad belowe ’n vars en nuwe aanslag en verbruikersbeskerming deur middel van verantwoordelike reklame.

Wie kan kla en hoeveel kos dit?

Die raad sal klagtes van verbruikers sowel as ondernemings aanvaar, maar ondernemings wat oor ander ondernemings kla, sal ’n paar duisend rand moet opdok om ’n klagte in te dien. Verbruikers kla gratis.

Waaroor kan jy kla?

Alle klagtes oor die inhoud van advertensies sal aanvaar word, maar jy kan nie by die raad kla oor diens, inligting van verkoopsmense en ander inligting wat nie uit advertensies kom nie. Advertensies is enigiets wat daarop gerig is om die gebruik van goedere en dienste of die ondersteuning van ’n saak te bevorder en wat in enige vorm verskyn waarvoor betaal word, soos advertensies op televisie, oor die radio, in gedrukte media, direkte bemarking en webwerwe.

Oor die algemeen kan jy kla oor:

  • Advertensies wat die redelike mens aanstoot gee gegrond op geslag, godsdiens, ras en politiek, soos advertensies wat met God spot.
  • Advertensies wat op mense se vrese staatmaak, inhoud bevat wat aanleiding kan gee tot geweld of onwettige optrede, wat diskrimineer teen mense van sekere groepe of wat stereotipes van geslagte bevat of ’n geslag as negatief uitbeeld, soos dat net vroue wasgoed was en waspoeier koop.
  • Advertensies wat mense kan mislei deur middel van ’n uitspraak of uitbeelding wat direk of deur implikasie, weglating, dubbelsinnigheid of oordrywing, soos om te adverteer dat ’n produk teen ’n sekere laer prys verkoop word, terwyl mense nie hierdie prys betaal wanneer hulle dit koop nie.
  • Advertensies wat kinders aanmoedig om gevaarlike dinge te doen, wat hul onskuld uitbuit, hulle aanmoedig om aan te hou kerm of hulle seksueel uitbuit, soos advertensies vir speelgoed of wat kinders aanmoedig om ongesonde kos te eet.
  • Advertensies wat ander soortgelyke produkte se naam sleg maak.

Hoe kla jy?

Volgens die Gedragskode moet klagtes op skrif wees en jy mag nie anoniem kla nie. Klagtes moet jou kontakbesonderhede insluit, asook jou identiteitsnommer en jy moet verduidelik presies waarom jy kla. Hierdie verduideliking vorm die grondslag vir die ondersoek na die advertensie. Jy moet ook aandui wanneer die advertensie gebruik is en waar. Indien moontlik, stuur ’n foto of afskrif van gedrukte advertensies en die kontakbesonderhede van die adverteerder.

Wat gebeur met oortreders?

Indien jou klagte suksesvol is, sal die raad se medialede versoek word om nie meer dié bepaalde advertensie toe te laat nie.  Volgens die raad se webwerf kan die raad egter nie sorg dat jy die geadverteerde prys vir goedere waaroor jy gekla het, betaal nie en die raad kan ook nie sorg dat jy jou geld terugkry nie.

Kla hier:

Besoek die raad se webwerf by www.arb.org.za en kliek op “Complaints” om ’n klagte in te dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eddie ·

Nog nuttelose burokrasie waarvoor die gebruiker gaan betaal.

Net soos die tandelose ASA, gaan hierdie ‘waghond’ ook deur die reklame-industrie self gefinansier word, en daarom uiteraard na sy pype dans. En sy bedryfskoste word van van sy korporatiewe kliënte verhaal, wat dit op hulle beurt weer van hulle klante (ek en jy) gaan verhaal.

Wanneer gaan ons deur hierdie teater begin sien?

Judge Dredd ·

Motorvoertuig advertensies op TV.
Wys gewoonlik hul beste voertuig maar adverteer hul goodkoopste voertuig prys.
Maandelikse afbetaling word groot gewys maar deposito/residuele waarde en ander terme word piepklein gewys en slegs vir 1 sekonde – onmoontlik om te lees

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.