Om jou plek vol te staan

Deur Johan Smit

Argieffoto (Foto: Phillip Bruwer)

In die liberale Westerse wêreld waarin ons leef word daar deesdae oorwegend geglo dat die doel van die lewe is om geluk na te jaag. Voorgaande neem die vorm aan van die strewe na erkenning en roem, materiële welvaart en natuurlik plesier!

Dit kan egter baie gou ʼn strik raak wat net mooi die teenoorgestelde uitkoms het. Gebroke verhoudings, eensaamheid, diep ongelukkigheid en depressie vier dus hoogty soos nooit vantevore nie en dit ten spyte van meer roem, welvaart en plesier.

Ons moet twee keer dink voordat ons elke geleentheid vir “geluk” aangryp en eerder wys optree.

In dié verband is Afrikaners egter nie arm nie en het ons ʼn kosbare skat van morele en etiese padkaarte waarvan baie van ons onbewus is en waarop ons kan en moet peil trek. Dit maak ons juis gedug in terme van ons vermoë om uitdagings te hanteer en ook dinge tot stand te bring wat die wêreld inderdaad ʼn beter en meer gelukkige plek maak.

As Christene glo ons byvoorbeeld God het ʼn roeping op ons lewens. Hierdie roeping behels eenvoudig dat jy jou identiteit in God opneem (die “vyand” se aanslag is juis teen jou identiteit) en jou gawes gebruik om te doen wat jy kan doen (as gevolg van wie jy is). Dis natuurlik ʼn proses om jou roeping te vind en dit kan verskillende dinge beteken in verskillende stadiums van jou lewe; soos om ʼn voltydse mamma te wees. Wanneer ons dit egter herken en vervul is die lewe betekenisvol en as ons dit in gehoorsaamheid doen, laat ons ook Sy koninkryk kom.

Ons ken byvoorbeeld almal baie goeie onderwysers wat ʼn geweldige impak maak in kinders, en later volwassenes, se lewens. Voorgaande lei tot ʼn lewe van betekenis en vervulling en dit is ʼn ware bron van gelukkigheid vir die gewer en die ontvanger. Op dieselfde manier is ʼn boer, wat sy lande voorberei, plant en versorg om uiteindelik ʼn oes af te haal, besig om sy roeping te vervul. Wanneer hy laasgenoemde met toewyding en eerbaarheid doen maak hy ʼn belangrike bydrae op vele terreine en laat hy ook God se koninkryk kom.

Dit bring my by die stand van sake in Suid-Afrika met al sy uitdagings wat hoofsaaklik verband hou met die manier waarop die ANC die land wanbestuur.

Dit bring allerlei ellendes mee vir gewone burgers en laat mense hoop verloor en wonder oor of hulle hier “gelukkig” kan wees. Daar is die wat in ʼn meer kwesbare posisie is en die wat in ʼn beter of selfs invloedryke posisie is. Laasgenoemde is juis die mense wat in hierdie tyd hulle roeping moet vervul deur hulle posisies vol te staan en hulle invloed uit te oefen omdat dit ʼn sleutel is vir ʼn betekenisvolle, ryk en gelukkige lewe.

In die verband kan ʼn mens oorweeg wat Albert Einstein het gesê het “The world will not be destroyed by those who do evil, but by those who watch and do nothing”.

 Voorgaande moet beslis waar wees van die bose ANC-regering wat wel die politieke mag en die stemme van omtrent 35% van die meesal swart inwoners van Suid-Afrika beheer (omtrent 40% van stemgeregtiges stem nie). In werklikheid is die ANC egter ʼn patetiese stamelende en mislukkende regering. Kan hulle ons werklik bedreig wanneer ons staan in geloof en in ons roeping?

Die uitdaging is dalk nie soseer die ANC nie, maar ons eie begeertes na wat Westerse lande bied met hulle sterk ekonomieë en negatiewe bevolkingsgroei. Laasgenoemde is opsigself tekenend, maar geleenthede kan sommer baie beter lyk as vooruitsigte plaaslik. Hier moet ʼn mens egter mooi dink en wys wees oor wat jou werklik dryf of trek?

Glo jy nog God het vir jou ʼn roeping al is dit ook onbenullig in die oë van die wêreld? Gaan materiële welvaart of dalk persoonlike erkenning of plesier jou werklik gelukkig maak daar ver van jou mense en jou land wat jou nodig het om jou plek(kie) vol te staan.

Ver van jou mense wat oud raak en versorging nodig het? Te ver en te laat om ʼn begrafnis by te woon. Ver van ouma en oupa wat kan hand bysit en ʼn invloed uitoefen. Ontwortel uit jou kultuur in ʼn ongelowige, liberale en linkse, multikulturele land? Waar Christelike oortuigings verwerp word en mense selfs daaroor vervolg word?

Waar jou kinders deel gaan wees van ʼn opvoedingstelsel wat hulle aktief gaan leer om die Bybel en geloof te verwerp en waar die gees van die dag jou gaan oortuig dat liberale individualisme lei tot ware geluk. Laasgenoemde is tog die ideaal van die liberale Weste. Die vryswerwende individu wat vry is van geloof, kultuur en verbintenisse. Hy kyk na die lewe as ʼn wedloop en is altyd op die uitkyk na beter geleenthede vir homself (nie sy kinders nie). Nieu-Seeland, Kanada of Australië?

The world is my oyster”, hoor ek ʼn rukkie terug ʼn jong pasafgestudeerde mediese student uitroep! Tragies is hy net daarna in ʼn ernstige motorongeluk betrokke wat sy planne lelik omvergooi.

Soos Jordan Peterson ook skryf, is die lewe dikwels swaar en ons maak dit beter deur verantwoordelikheid te neem en ons bydra te maak. Ons moet dus versigtig wees om mislei te word al is ons ook al ouer en het ons ʼn invloedryke posisie. En ons moet mooi hoor voor ons verklaar dit moet ʼn geleentheid wees wat God oor ons pad gestuur het daar in Kanada.

Is dit nie dalk ons (af)god wat ons roep nie? En sal ons luister na God?

Ten slotte. Suid-Afrika bied dalk nie tans dieselfde geleenthede vir roem, eer, materiële welvaart en wêreldse geluk nie (alhoewel dit nog baie van daardie geleenthede bied). Maar dit bied ʼn geleentheid om karakter te bou, jou staal te wys, ʼn bydrae te maak, ʼn verskil te maak en te staan op jou geloof.

Dit kan Kanada nie bied nie. Of jaag jy die hersenskim van geluk?

  • Johan Smit is ‘n besigheidsman, boer, Christen en patriot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vrijburger ·

En net dalk, omdat ons nie werk in SA kry nie, is ons roeping om al hierdie negatiewe en swaarkry in die buiteland te moet trotseer sodat ons die swaarkry in Suid-Afrika kan help verlig. (Om te help om kos op die tafels te sit van gesinne in ons nabye en verlangse familie, te betaal vir die ouers se versorgingsoord, om familielede se kinders deur universiteit te help, ‘n Helpende Hand Studiefonds te stig, voormalige huishulp steeds finansieel te ondersteun, om ‘n paar voorbeelde te noem.)

En net dalk, is ons bevoorreg genoeg om eendag wanneer ons werkslewens oor is, te kan terug kom Suid-Afrika toe.

Net dalk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.