Om seuns groot te maak

Johan (12). (Foto: Verskaf/ Johnell Prinsloo)

“Bring gou jou handdoek en slaapsak, ek wil dit vinnig was.” My eerste opdrag Sondagmiddag so skuins voor middagete aan Johan (12). Hy het pas vanaf ʼn kamp tuisgekom en is veronderstel om sy sak uit te pak.

Omtrent 15 minute later stap ek by sy kamer in om bogenoemde wasgoed op te eis omdat hy dit nog nie gelewer het nie. Hy skarrel verward rond terwyl hy items uit sy toksak haal. Ek beskou die toneel met geamuseerde belangstelling. Ek sien geen teken van sy bloedrooi badhanddoek tussen die res van die sak se inhoud nie.

“Waar is jou handdoek?” Ek besluit om die onus op hom te plaas en hom geleentheid te gee om my vermoede te bevestig alvorens ek die algemeen aanvaarde aanname uitspreek dat geen handdoek saam gaan kamp het nie.

Hy hou aan soek.

Volgende vraag: “Het jy een ingepak?”

Sonder om op te kyk: “Wel, ek het geweet ons gaan nie eintlik stort nie…”

Ek asem stadig in. Nou moet ek daardie fyn balans vind tussen die (gemaakte) misnoeë dat hy beplan het om nie te stort nie, afkeer dat hy opdragte nie uitvoer nie, tesame met ʼn dreigende impuls om te lag vir die tipiese manlikheid wat homself gewoonlik op ʼn kamp of jagtog uitspeel.

“Maar het ek nie Vrydag pertinent gesê jy moet ʼn handdoek inpak nie?”

Stilte…

“Het enigiemand in jou span gebad of gestort die naweek?”

“Nee, Mamma…”

Ek het hom ʼn skrefies-oog-kyk gegee – net dat hy moet weet ek dink ʼn mens moet elke dag bad of stort, maar sodat hy kan sien ek is nie regtig ongelukkig nie – voordat ek met die slaapsak, laken en kussingsloop daar uit is.

Johan (12) lê en slaap tussen Olaf (L) en Nala (R). (Foto: Verskaf/ Johnell Prinsloo)

Op die stoep waar ons gesellig saam met oupa en die oumas kuier, was dit ʼn vrolike gelag wat menige herinneringe uit die dae toe hulle nog jong ouers was, opgeroep het – natuurlik tot my man, oudste van vier broers, se effense verleentheid oor die skynbare “klanke” waarmee hulle soms ná ʼn naweek op ʼn kamp teruggekom het huis toe.

“Absoluut normaal,” was skoonma se woorde terwyl sy terugdink aan haar kroos en hulle grootwordjare. My ma se ervarings met my boetie het haar ewe hartlik laat saam knik.

Seuns is maar net anders. Bad of stort is nie betreklik hoog op die prioriteitslys nie, en skoolwerk word ook graag afgegradeer om plek te maak vir sport, kattekwaad en ander stokperdjies. Tog kan ek as ma van twee seuns, en as oud-onderwyseres wat met ʼn gemaakte kwaai gesig eintlik hierdie uitbundige pretmakers baie geniet het, nie help om met die grootste warmte aan seunskinders te dink nie.

Ek onthou toe my oudste maar nog in die kleuterskool was (hy is nou amper 21), het ʼn kollega, met beide ʼn seun en dogter, op ʼn dag vir my vertel het hoe sy dit waardeer dat sy ʼn seun in die huis het. Sy het, net so terloops, uitstekende verhoudings met albei haar kinders. Haar vergelyking dié oggend het egter spesifiek oor haar uitrusting gegaan: haar meisiekind is baie meer krities terwyl haar seun elke dag dink sy is die mooiste mens op aarde, vermoedelik selfs al sou sy ʼn streepsak dra!

Ek moet bieg, ou Hanne is ook my kompliment-kind. Ek kry sonder rede sulke hartlike drukkies en ek hoor ook darem elke dag hoe “amazing” ek is. So vol liefde en waardering vir die kosblik, klein bederfies en doodgewone aandete.

Johnell Prinsloo (Foto: Verskaf)

Ek moet egter wel gereeld herinner aan die huiswerk, sakke wat uitgepak moet word, hoe ʼn bed lyk as dit opgemaak is en dat sport nie punte tel vir die rapport nie. Dan worstel ons deur die leerwerk en ons doen ʼn bietjie ekstra wiskunde en ons trek maar saam die bed skoon oor.

Andere kere verkyk ek my aan die vloer vol Lego en dinge wat hy bou, die uitgebreide inligting oor voertuie wat ek nie eers geweet het bestaan nie, hoe die spier(tjies) natuurlik bult wanneer hy iets doen… hoe hy die wêreld om hom inneem en leer en ondersoek en daaruit sin maak.

Ons is so geseën met ons seuns en veral vir die voorbeelde wat gegronde gesinne en betrokke pa’s vir hulle daarstel. Al is stort of bad dalk nie nou vir hulle belangrik nie, kan ek sien hoe die waardes waarmee ons hulle grootmaak reeds die grondslag lê om die groot skoene van die toekoms vol te staan, stofstrepe en al.

Meer oor die skrywer: Johnell Prinsloo

Johnell Prinsloo is 'n onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.