Om twintig jaar later weer te studeer

Deur Marelize Swanepoel

studeer-student-boeke-lees

(Foto: Pixabay/Pexels.com)

Wanneer ʼn mens in jou laat dertigs besluit om weer te gaan studeer, moet jy besin of daar genoeg goeie redes is om dit te doen: Gaan dit onder andere jou tyd en geld werd wees; en/of gaan die ervaring verrykend wees?

Met die besluit dat ek my onderwyssertifikaat moet verwerf, het ek begin rondvra by ander mense wat as ervare onderwysers na universiteite of kolleges teruggekeer het om hul onderwyssertifikaat te onderneem. Die reaksies was nie baie bemoedigend nie: “Baie moeite”, “schlep en drama”, “ʼn astronomiese mors van geld en tyd”. As hulle wel iets geleer het, kon hulle nie onthou wat dit was nie.

Ek het my Nagraadse Gevorderde Onderwyssertifikaat (NGOS) dus nie met groot verwagtinge aangepak nie.

Ek moet dit duidelik maak dat geeneen van bogenoemde reaksies van mense was wat by die APA studeer het nie. Was dit anders, glo ek dat hul ervaring positief sou wees. Soos sake staan, is ek een van baie wat aan die einde van my NGOS kan sê dat ek ʼn positiewe en leersame ervaring gehad het.

Daar is ʼn paar dinge wat vir my uitgestaan het.

Eerstens was ek aangenaam verras deur die hoeveelheid tyd wat aan die teoretiese onderbou van onderwys spandeer is. Ek moet hier byvoeg dat die hoeveelheid teorie aanvanklik na verskriklik baie werk gelyk het. Dit is egter goed ingewerk in die kursusse en daar is genoeg oorvleueling wat dit hanteerbaar gemaak het. ʼn Mens raak ook meer gemaklik met die materiaal soos wat die kursus vorder. Ek het dit geniet om wyd te moes lees. Daar was ook genoeg keuses met betrekking tot take sodat ek kon fokus op spesifieke aspekte wat my geïnteresseer het.

As historikus het ek dit geniet om te leer oor die geskiedenis en ontwikkeling van onderwys. Soos wat ek nuwe inligting raakgelees het, het dit my aan die dink gesit. (Is dit nie wat opvoeding veronderstel is om te doen nie – om jou te laat dink?) Ons is geneig om te dink dat die manier hoe dinge vandag gedoen word, die manier is hoe dit gedoen moet word.

Die prentjie van onderwys dwarsoor die wêreld was nog altyd: kinders in rye klaskamers langs mekaar; gestruktureerde sillabusse; eksamens aan die einde van die jaar. Die prentjie het egter verander en sal weer verander. Ons het nog glad nie die perfekte onderwysstelsel nie. Is dit nie ʼn inspirerende gedagte nie – daar is nog tyd vir verbetering!

Die tweede aspek wat baie waardevol was, is minder verhewe. Om te leer oor die teoretiese onderbou van onderwys is alles goed en wel, maar die implementering daarvan is natuurlik ʼn totaal ander saak. Dit help dus ook dat daar so ʼn groot fokus op die administratiewe kant van skoolhou is. Take wat ʼn mens forseer om die nodige vereiste papierwerk daar te stel – hetsy lesplanne, jaarplanne, of wat ook al – is baie waardevol. Dit is nie altyd stimulerend nie, maar dit gee ʼn voorsmakie van wat om in die onderwysomgewing te verwag.

Om te studeer terwyl jy ook voltyds werk, met ʼn gesin en kinders, is ʼn uitdaging. Dit is ook ʼn uitdaging om skielik, vir die eerste keer ná twintig jaar, weer ʼn toets te moet skryf! Én om as student, hoed in die hand, by ʼn dosent om uitstel te vra. Daardie ervaring kan ʼn mens saamneem na jou klaskamer – daar ís soms goeie redes waarom iets nie betyds voltooi kon word nie!

Ek het geleer om student te wees soos wat ek graag wil hê mý studente moet wees: iemand wat nadink oor dinge; iemand wat kan analiseer in ʼn wyer konteks; iemand wat krities kan redeneer.

  • Marelize Swanepoel is ʼn NGOS-alumni van die APA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Vandag hou jy nooit op studeer nie. Jou kennis is binne vyf jaar verouderd. Deesdae verander jou beroepsrigting elke 10 jaar. Jy moet deurlopend daarvoor voorberei.

Se maar net ·

Ek het op 46 weer begin studeer en vandag is ek 53 en is weer besig met studies vir die beroep waarin ek is. Dit vat baie selfdissipline maar op die einde van die dag leer jy iets nuuts, kwalifiseer jouself en daar is vooruitsigte van salaris aanpassings of selfs nuwe werks geleenthede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.