Ons doodkry is min

René Roux, Helpende Hand se woordvoerder, en Hannes Noëth, uitvoerende direkteur, tydens die bekendstelling van hul jaartema vir 2024.

Ek kyk weer na die onlangse ondersoek deur OUTA na korrupsie binne die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) wat duisende studente sonder studiehulp gelaat het. Hierdie ondersoek het onder meer aangedui dat hoë profiel lede en selfs die minister van hoër onderwys asook die voorsitter van die NSFAS-raad onder die “begunstigdes” van die studiehulp was.

Wie staan en steel nou by studente, by die toekoms van ons land… Jy vat mos dan eintlik by jouself, nie waar nie?

In kontras kyk ek weer na al die studente wat Solidariteit Helpende Hand Studietrust in die gemeenskap geplaas het – mense wat nou in beroepe staan, mense wat jou ons kinders se dokters is, ons kleuters se onderwysers, ons ouers se tuisversorgers, ons nuwe geboue se argitekte, ons land se prokureurs.

Dan word ek warm van die woede en sug ek ook in ongeloof dat daar mense aan die stuur van die land, wat nie net ons studente hiervan ontneem nie, maar ook ons land.

NSFAS het vir die 2024-studiejaar ʼn totaal van 1 745 266 aansoeke ontvang waarvan 604 675 studente nog nie hulp ontvang het nie. Korrupsie by hierdie instelling veroorsaak nie net ʼn negatiewe konnotasie en geen vertroue nie, maar ontneem ook talle studente van die geleentheid om tersiêre opleiding te kry. Sonder hierdie opleiding stel dit die studente in gevaar om te sukkel om ʼn goeie werk te bekom en sodoende die werkloosheidsprobleem in Suid-Afrika aan te spreek. Verder blameer NSFAS universiteite vir laat toekenning van fondse waar universiteite studies vir weke moet staak, omdat NSFAS-studente nog nie volledig kon registreer en registrasiefooie kon betaal nie.

Gemeenskap gee terug

So ʼn rukkie terug sit ons en gesels by Solidariteit Helpende Hand se jaarlikse uitvoerende komitee-beraad oor die verskil tussen NSFAS en Solidariteit Helpende Hand se Studietrust.

Hier by die Solidariteit Helpende Hand se Studietrust roem ons onsself op deeglike, deursigtige en eerlike prosesse wat al van 2009 af ʼn verskil in studente se lewens maak. Prosesse soos terugvoer en uitbetalings wat soos ʼn goed geoliede masjien beweeg, teenoor NSFAS waar studente min of selfs geen terugvoer ontvang nie asook bedrog en korrupsie.

Waar studente ʼn lening van die Studietrust het, weet hulle presies waar hul in die proses trek en hoef hulle geen angs te ervaar nie. NSFAS-studente weet gewoonlik nie eers of hulle wel hul studies sal kan voortsit en klas kan draf nie.

Die Helpende Hand Studietrust se deursigtigheid en eerlikheid in elke stap van ʼn student se aansoekproses verseker geloofwaardigheid.

Daarom weet ons dat die studente wat deur Solidariteit Helpende Hand se Studietrust gehelp word veilig is – dat hulle doen wat hul moet doen sodat hulle trots kan staan as pilare van hoop in hul gemeenskap. Ons weet hulle bring vooruitgang, ons weet dat hulle besig is met hul roeping.

Ons het die afgelope 15 jaar reeds meer as 7 000 studente met ʼn totale bedrag van R300 miljoen se rentevrye studielenings gehelp. 5 011 van hierdie studente het reeds afgestudeer en werk al. Daar is 307 skenkers betrokke by hierdie inisiatief om Afrikaanse studente in Suid-Afrika se drome te help bewaarheid en so ook om ʼn beter Suid-Afrika te skep, een waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan leef en werk.

Ons doodkry is min

Die omgewing en die staat is vir die Studietrust bevestiging van die onmiskenbare rol wat elkeen in die toekoms van studente en die land speel. ʼn Mens kan nie altyd die oes beleef nie, maar ʼn mens moet saai om die siklus te verbreek en gemeenskappe en die land te help onwikkel.

By dieselfde onlangse beraad kom ons ook ooreen dat ons soos die besembos van die digter Totius sal wees:

Maar al slaan om my stam die woedende vlam
wat knett’rende vonke saai;
al kom al die winde, die kwalik gesinde,
om my as uit die wêreld te waai;
al kom ook die dier om sy eetlus te vier; al word ek gekap en gekloof;
al word ek gestowe deur die son daarbowe
wat my laaste sappe wil roof;
nogtans sien ek my hoogte in die vreeslikste droogte
met my altyd groenende top;
en my wortels verduur én droogte én vuur,
ja ek staan uit my as weer op.
Laat dan mense en diere, droogte en viere,
met al wat hul kwaad wil versin,
maar kom om te kap, te brand en te trap –
ek leef en sal lewe; my dood kry is min!

Ek dink dit is vanselfsprekend dat ons nie sal toelaat dat die staat ons onder kry nie, dat ons sal aanhou bou, dat ons doodkry – soos die besembos van Toitus – min is.

Die druk wat hierdie tipe organisasies plaas op ʼn trust soos ons s’n, is wel nie min nie. Maar ons kyk nie vas teen die druk nie – ons sien dit eerder as ʼn geleentheid om verder te bou, om skenkers te help om ʼn studiefonds in hulle name te stig en om ʼn legende agter te laat. ʼn Legende van ʼn besembos wat deur wind, reën en vuur steeds weer opstaan en steeds aanhou groei.

Ons nooi die gemeenskap uit om deel te word van die besembos-mentaliteit wat ons het by Helpende Hand Studietrust en nie toe te laat dat ander ons moed breek nie, om steeds te help saai en te bou.

Besoek https://hh-studietrust.co.za/.

Meer oor die skrywer: René Roux

René Roux is adjunk-uitvoerende hoof en woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.