Ons Franse kasteel: Die belofte van ontwaking en groei

Deur Sunita McDonald

Bonjour! Goudgeel affodille en pragtige pers krokuskelkies kondig die nuwe seisoen in Château de Capelle se tuin aan. Lente bring altyd ‘n gevoel van verligting en dankbaarheid wat in my binneste kom bot. Wanneer oënskynlike lewelose bome nuwe lote begin spruit, skep dit afwagting in my hart met die belofte van ontwaking en groei. In die noordelike halfrond word Paasfees ook gedurende lente gevier en die simboliek van lewe ná die dood word selfs dieper in ‘n mens se psige vasgesement.

Elke jaar vas ek van sosiale media gedurende die Lydenstyd en gebruik dit as ‘n tyd van hertoewyding. In die veertig dae voor Paasfees besoek ek nie Facebook, Instagram of ander sosiale netwerke nie en het dus nie onlangs restourasie-nuus op Château de Capelle se blad gepos nie. My man deel egter intussen die château se daaglikse storie in my afwesigheid en ek vertrou dat hy hom goed van sy taak kwyt.

Sondae is ‘n dag van rus in ons huis en ons gebruik dikwels die geleentheid om te vergeet van restourasiewerk en ons omgewing te verken. Op Valentynsdag het ons ‘n nabygeleë dorpie met die naam Valentine gaan besoek. Die besoek kon nie op ‘n meer gepaste dag plaasvind nie en ek het die straatjies hand aan hand saam met my eie Valentyn verken. Dit was ook ons hondjie, Belle, se eerste wandeling aan ‘n leiband en dit het heel goed verloop.

Belle se tweede uitstappie in ons eie dorpie ‘n week later was ietwat meer gebeurtenisvol. Aangesien Belle nog baie jonk is, was ek op my hoede vir ander honde. Ek was dus lugtig toe ek in die verte ‘n ‘hond’ sonder ‘n eienaar of halsband in die pad sien hardloop. As jy menigte vakansies in die wildtuin deurgebring het, ontwikkel jy ‘n oog wat ‘n dier op ‘n lang afstand kan identifiseer en hierdie KNP-sintuie het nou na vore getree. Ek het besef dáárdie is nie ‘n hond nie, maar dat ons moontlik met ‘n verlangse familielid van die vlakvark te doen het.

Belle het nie geweet wat sy veronderstel was om te doen nie. Haar borderkollie-bloed het reeds instinkte begin ontwikkel vir skape aanjaag. Die neurone was egter nie seker watter boodskap om na haar brein te stuur oor ‘wilde’ varke nie. Sy het stertswaaiend nader gedraf en versigtig die lug rondom die varkie besnuif. Die vark het luidkeels begin skree en soos ‘n vetgesmeerde blits verby gehardloop asof ‘n spekliefhebber met ‘n vurk in die hand agter hom aan was. Die skape langs die pad het die petalje aangestaar en seker hul koppe geskud oor die spul buitelanders wat die vark jaag.

Die skril geskreeu moes enige Fransman in die nabye omgewing uit sy Sondagmiddagslapie gewek het. Ek het mompelend aan ‘n man wat by sy hek gestaan het verduidelik: “Il ya un cochon sur la chemin” (daar is ‘n vark in die straat) en heimlik gehoop dit is nie ‘n Franse spreekwoord met een of ander duistere betekenis nie. Die Afrikaanse spreekwoord ‘hy kan nie vark vang nie’ beteken dat iemand krom bene het, maar ek het nuwe respek vir enige iemand wat wél ‘n vark kan vang.

Ek was bekommerd oor die oulike dingetjie in die middel van die pad, maar het uiteindelik die aftog geblaas. Met so ‘n hengse kabaal wat hy opskop, het ek besluit dat hy maar sy eie heil moes uitwerk. Dit blyk uit die Fransman se ongestoordheid dat ‘padvarke’ nie ongewoon is in hierdie geweste nie. Dalk is ‘n boeremeisie wat die vark probeer vang en na veiligheid bring meer van ‘n seldsame gebeurtenis.

Die aanbreek van lente beteken dat ons planne vir die potager (groentetuin) ook ‘n aanvang geneem het. Ná my suksesvolle oes verlede jaar van tamaties, komkommers, seldery en soetrissies, is ek vuur en vlam om hierdie jaar groot te gaan. Ons het ‘n stuk grond aan die westekant van die kasteel se tuin laat ploeg en begin bewerk. Die grond is donker en vol erdwurms so ek koester hoë verwagtinge oor die toekomstige opbrengs.

Met die restourasie gaan dit goed en tekens van nuwe dinge is ook duidelik in die hoofdeel van die château. Ek het verlede week die badkamer in die oostelike vleuel klaar geverf. Die ou muur is vol merke en duikies en die eerste laag wit verf het dit duidelik uitgewys. Tog dink ek ‘n perfekte gladde muur sou eenvoudig nie by die ouderdom van die huis pas nie. Die merke verleen karakter en vertel ‘n storie van honderde jare se doen en late.

Ek het wel ‘n neutrale kleur bo-oor die wit verf aangewend om die merke sagter op die oog te maak. ‘n Paar rakkies, ‘n antieke spieël en skilderye teen die mure sal in die komende week die finale afronding doen. Ek het tog te lekker in die brocantes (tweedehandse winkels) gesnuffel vir mooi goedjies en een van my beste vondse tydens ‘n onlangse besoek was ‘n 1874-woordeboek. Die boek is pragtig gebind en die reuk van vergange dae kleef aan die ou bladsye. Dit is ‘n besondere toevoeging tot die kasteel se biblioteek.

Met die aanbreek van die warmer weer is ons minder bekommerd oor die verhittingsplan, maar tog is dit ‘n taak wat aandag vereis voor ons die plafonne in sekere vertrekke herstel. Die ingenieurs wat ons die afgelope paar weke besoek het, het met verskeie idees vorendag gekom om so ‘n groot oppervlakte ekonomies te verhit. Ons herkou steeds aan die inligting en verskeie opsies, maar hoop om binnekort ‘n besluit te maak.

Die kombuis in die oostelike vleuel begin vorm aanneem en die jongspan het gretig hulp verleen om kaste te bou. Dit was ‘n gemeet en gepas en die seuns het aanvanklik allerhande stukke gereedskap vir die taak benut. Die ou houtvloer sak effe laer vanaf die deur na die venster – dit is enige waterpas se nagmerrie. Dit het herhaaldelike verstellings aan kaste se pote geverg om die werksoppervlakte gelyk te kry. Heel moontlik die verveligste, maar tog noodsaaklike taak.

‘n Waterpas het nie dieselfde status as ‘n hamer of skroewedraaier vir twee seuntjies nie en hulle belangstelling het tydens die verstellingproses getaan.

Die lenteson het hulle na die tuin gelok en hulle ou ketties van Suid-Afrika en ‘n paar katkosblikkies het verskyn. ‘n Intense kettieskiettoernooi het by die château plaasgevind en selfs kleinsus het gretig deelgeneem. Ek vermoed daar was moontlik skermtoernooie of iets dergeliks in die kasteel se verlede, maar ‘n kettieskiettoernooi is dalk iets nuuts vir die château se geskiedenisboeke.

Dit is 17 maande sedert ons die château gekoop het en 14 Maart is ‘n jaar sedert ons permanent ingetrek het. Ons eerste lente in die château was so ongewoon. Ek onthou my verdwaasdheid toe president Emmanuel Macron op 16 Maart 2020 Frankryk se eerste grendeltyd aangekondig het. Ons het 24 uur gehad om inkopies te doen en noodsaaklikhede aan te skaf voordat die winkels sou sluit. Skielik was ons alleen in ‘n vreemde huis, in ‘n vreemde land en in baie vreemde omstandighede.

Hierdie lente is egter anders en ons hou vas aan die belofte van Jesaja 43: “Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur… “. Die atmosfeer is swanger met die verwagting van iets nuuts, van nuwe lewe en nuwe geleenthede. Mag ons die lewe versier met liefde en hoop wat in ons siele blom. Mag elkeen van ons blom waar van ons geplant is en vrug dra in elke seisoen van die lewe.

Ek stuur vir jou armsvol bloeisels uit Château de Capelle se tuin en groet tot volgende keer.

Lees alle vorige rubrieke hier. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.