Ons Franse kasteel: ‘Doen jou beste, maar bowenal geniet dit!’

Deur Sunita McDonald

Drie-en-twintig Oktober 2019 was ’n effense bewolkte oggend in Castelnau-Magnoac. Ons het by die notaire se kantoor ingestap gewapen met inkleurboeke om die kinders besig te hou. Ons sou elke fraksie konsentrasie nodig hê om vir ’n laaste keer deur die belangrike dokument te gaan. Die kinders moes dus besig bly. Dit was die dag waarvoor ons weke lank gewag het – die dag wat ons amptelik die châtelain en châtelaine van ons nuwe tuiste sou word.

Ure se vrae, verduidelikings en vertalings later, het my man ’n halfhartige glimlag uit my gekry terwyl ek op die stippellyn geteken het. My hart het in my keel geklop en ek het die pen bewerig neergesit. Nou was ons pens en pootjies in die ding. Daar was geen omdraaikans nie – die kasteel was ons s’n!

Ná vele bedankings en die gebruiklike soene op die wang, het ons uitgestap en die son het sy kop agter die grys wolke uitgesteek. Die inkleurboeke se eens swart en wit prentjies is onder ons neuse gedruk en het intussen in kleurvolle meesterstukke verander. Die warmte van die son en my kinders se kuns het ’n gevoel van genoegsaamheid oor my gebring. Ons het koffie gaan drink by ’n nabygeleë hotel en opgewonde begin gesels oor die planne vir die daaropvolgende weke. Die gevoel van vrees was vergete; daar was dinge om te doen.

In November het ons ’n Facebook-groep geskep vir familie en vriende wat die restourasieproses wou dophou en ek het belowe om gereeld foto’s te plaas van ons vordering. Daar is opgewonde ge-whatsapp met my ouers om hul kuier in 2020 te beplan en my pa was gretig om sy hande te kom vuil maak in ’n Franse kasteel. Vriende in Engeland het uitgesien om ons nuwe huis te kom beloer en daar is beloftes gemaak van hulp, kuier en braai in die Europese son.

Aan die begin van hierdie jaar het ons stuk-stuk ’n paar persoonlike besittings begin aanry, terwyl daar onverpoosd gewerk is om ’n leefbare area vir ons gesin in te rig. Ons het ’n buitegebou van 65 m² in ’n woonstel omskep om as ’n tydelike tuiste te dien, terwyl ons aan die huis werk. Ons plan was om tydens die somer in die hoofhuis in te trek. Die mens wik…

Maart 2020 het aangebreek en skielik was die wêreld vasgevang in die tentakels van Covid-19. Die dag ná ons aankoms in Frankryk is ’n grendeltydperk aangekondig. Binne 24 uur het al die winkels hul deure gesluit. Ons het desperaat probeer om soveel as moontlik benodigdhede te bekom sodat ons kon aangaan met die werk, want daar was geen duidelikheid oor wanneer dinge weer na normaal sou terugkeer nie.

Aanvanklik was ek moedeloos en het gevoel dat die tydsberekening nie slegter kon wees nie! Asof trek nie stresvol genoeg is nie, het ons ’n hengse projek aangepak in ’n vreemde land met ’n vreemde taal. Ons houtstoof was nog nie geïnstalleer nie en die kwik het steeds elke aand drasties gedaal. Ons het op opblaasmatrasse geslaap en ek was bekommerd of ons drie kinders warm genoeg is. Ons moes ’n gasbottel kry vir die stoof sodat ons in die klein kombuisie kon kook. Ons het klere met die hand gewas of by wassery-kiosks buite supermarkte wat in Frankryk genadiglik algemeen beskikbaar is.

Terselfdertyd het ons steeds ’n groot mate van vryheid geniet terwyl mense in ander dele van die wêreld in totale afsondering geleef het. Ons het elke dag gaan stap en ons nuwe dorpie en area verken. Niemand in ons klein dorpie was paniekerig en het rakke leeg gekoop nie – daar was altyd kos beskikbaar in die winkels. Die strate was stil, so dit was maklik om te leer hoe om aan die “verkeerde” kant van die pad te bestuur. Ek het geleer om daagliks na seëninge te soek om te tel.

Ons herdenk volgende week een jaar sedert daardie oggend wat ons Château de Capelle se sleutels ontvang het. By nabetragting was daar rede vir die skoenlappers wat daardie dag in my maag rondgefladder het. Ek kan nie my kop in die sand druk en maak asof Covid-19 ons nie beïnvloed het nie – ons planne was alles na die maan en ons het weke se produktiwiteit verloor. Twaalf maande later kan ek egter die verskil sien wat ons aan hierdie hoekie van die wêreld gemaak het, ten spyte van die terugslae, grendeltyd en ander beperkings. Soos hulle in Engels sê: Life is what happens when we are making other plans.

Wat het ons geleer? Baie Frans. Baie geduld. Dankbaarheid. Dat dinge nie altyd volgens plan verloop nie en dat ’n mens aanpasbaar moet wees. Om een dag op ’n slag te lewe en die beste daarvan te maak. Om te doen wat ons hande kon vind om te doen.

Ons het ’n ou kasteel gekoop net voordat ’n wêreldwye pandemie die mensdom sou skud. Ons Facebook-groepie vir familie en vriende het skielik duisende mense gelok wat ontsnapping wou vind in ons daaglikse werk en wandel. Vreemdelinge het by ons lang rylaan opgestap of ingery en vriende geword. Ek het lieflike vriendinne ontmoet wat my bederf het met beskuit in my posbus – ’n tikkie Suid-Afrika in ’n Franse hoekie van die wêreld. Ek sluk daardie krummelende snye liefde saam die knop in my keel wanneer ek my ouers mis wat ons nooit dié jaar kon sien nie.

Ons planne het nie uitgewerk soos wat ons gedink het dit sou nie. Ons het ’n keuse gehad om op ’n hopie te gaan sit of aan te gaan met dit wat binne ons vermoë was. Aan die einde van die eerste jaar is ons nie waar ons beplan het om te wees nie, maar ons is steeds verder as wat ons was en dis al wat tel.

My agtjarige seuntjie het verlede maand begin rugby speel. Die oggend voor sy eerste wedstryd was hy effens bang. Is ons almal nie maar bang vir die onbekende nie? Gert Muller se vrou, Dandre, het my boodskap op Facebook gesien en daardie middag het die gesoute rugbyspeler ons ’n luitjie gegee om my seuntjie moed in te praat. Sy woorde het by my gebly: “Doen jou beste, maar bowenal geniet dit!” Dit het daardie aand gestortreën en my kind het ná sy eerste wedstryd van die veld afgestap sonder om ’n drie te druk (sy droom), maar met ’n breë glimlag op ’n vuil gesiggie. Ek het geweet hy het die raad gevolg – hy het dit ten volle geniet.

Daardie raad geld vir alles – vir ’n rugbywedstryd, vir ’n restourasiereis, vir die lewe! Doen wat moontlik is, maar die belangrikste is om elke oomblik van jou reis te geniet. Kleur die bladsye van jou lewe se inkleurboek in, laat die son deurbreek en jou vrese wegbrand. Die toekoms is onseker – dit kan goed of kwaad inhou, maar omstandighede verander vinnig. Dit wat jou vandag moedeloos het, word dalk net môre jou getuienis. Oor ’n jaar sal jy terugkyk en dalk jou vrese onthou, maar werk elke dag hard en jy sal ook terugkyk op die vrug van jou ywer.

Die spel van die lewe is moeilik, maar elke dag het jy ’n geleentheid om punte aan te teken. Mag die penalties altyd in jou guns wees en mag die pad na die doellyn oop lê voor jou. Ons beur voort en die ondersteuning van almal wat ons dophou van die kantlyn af, eggo in ons ore!

Baie dankie vir die gebede en motivering. Ons sien uit om die tweede jaar af te skop by Château de Capelle. Mag dit sekuur deur die pale wees.

Lees alle vorige rubrieke hier. 

 

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

saggiespraat ·

Shoe dit was so mooi die stukkie nuus, ek will sommer ook nou trek en oor begin
sterkte julle en alles sal uit werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.