Ons Franse kasteel: Geloof maak dit moontlik, vriendskap en liefde maak dit maklik

Deur Sunita McDonald

Bonjour á tous!

My ma het jare gelede ’n botteltjie parfuum gehad met die Franse naam Joie de Vivre. Ek het dit destyds woord vir woord gaan opsoek in ‘n verweerde blou Frans na Engels-woordeboekie wat op ’n boekrak gelê en stof vergader het. Ek het dit vertaal as die “vreugde van leef”.

Die afgelope tyd het ons die vreugde van die lewe met vriende ervaar. Ons geniet elke tweede Sondag middagete saam met ons Franse vriende wat nie ’n woord Engels praat nie. Die gereelde rendezvous leer ons egter meer Frans as wat enige boek of app sover vermag het. Die koronavirus en geslote grense het ons hierdie jaar verhoed om familie en geliefdes in Suid-Afrika en Australië te besoek. Die grense tussen Europese lande is egter oop en ons is geseënd om ook nuwe vriende by Château de Capelle te kan verwelkom.

Ons sê altyd ’n vreemdeling is net ’n vriend wat jy nog nie ontmoet het nie. Dit was meestal Suid-Afrikaners wat verlede week oor ons drumpel gestap het. Daar is iets so spesiaals daaraan om jou eie mense in die vreemde teë te kom en in hierdie ongewone jaar is dit selfs meer kosbaar. Mense wat jou taal praat, word sommer tweede familie!

Oom Jan en tannie Marie was die eerste Suid-Afrikaners wat ons in maande gesien het. Hulle het een Dinsdagoggend hier kom koffie drink. Ek vermoed ek het hul ore van hul koppe afgepraat – dit was so lekker om in my hartstaal met iemand te kon gesels wat elke woord verstaan. Hulle woon ongeveer 140 km van ons af in Frankryk, dus hoop ek om hulle sommer gou weer te sien vir nog ’n lekker kuier.

Die week daarna het die Tolmay-gesin by ons kom oornag in hul karavaan. Ek het die bestuursvernuf bewonder om ’n groot karavaan in trurat op ons 100 m-rylaan uit te ry – sonder om een keer te stop! Die drie kinders is min of meer dieselfde ouderdomme as ons kroos en daar is heerlik gebaljaar. Ek dink nie die kasteel het soveel joie de vivre in dekades gesien nie! Hierdie ou gebou lééf weer met kinders wat uitbundig rondhardloop, speel en skaterlag in die tuin.

’n Paar maande gelede het ek ’n e-pos van Maroela Media se redakteur ontvang. ’n Suid-Afrikaner wat in Nederland woon, het een van my rubrieke op Maroela Media gelees en wou graag kontak maak. Ons het ’n paar keer op WhatsApp gesels en verlede week het ons die Meintjes-gesin ook uiteindelik by die kasteel verwelkom.

Ek het gewoond geraak aan die gebruiklike Madame wat tieners in Frankryk gebruik as aanspreekvorm, dus het die woord “tannie” weer as ’n effense skok gekom! Ons het heerlik gesels voor hulle die laaste deel van hul reis terug Nederland toe aangepak het.

Die Franse sangeres Françoise Hardy, het jare gelede ’n treffer gehad met haar lied “L’heure bleue. Dit verwys na daardie tyd van die dag wanneer die son net genoeg agter die horison gesak het om die lug blou te kleur, oftewel “die blou uur”. Dit is een van my gunstelingtye van die dag in ons tuin wanneer die geure van laventel en peperment ook soos ’n Franse parfuum in die lug hang.

Ons het die blou uur met ’n paar Britte, Franse en ’n ander Suid-Afrikaner een aand op die oewers van die Garonne-rivier gedeel. Ek het foto’s geneem van die son wat die mengsel van kobaltblou en smaraggroen water van die rivier met ’n ligte aanraking nag gesê het. Die kleure van die water daardie tyd van die dag kan eenvoudig nie op ’n foto vasgevang word nie. Dit was egter die perfekte agtergrond vir ’n gesellige aand.

Die kuier is op ’n hoë noot afgesluit met ’n spontane uitvoering deur die pianis Jan Hugo en sy Franse vrou, ’n operasangeres. Gaan loer gerus na ons YouTube-kanaal om die talentvolle duo se vernuf en ons eie Suid-Afrikaanse talent hier in die vreemde te bewonder.

’n Italiaanse fluitspeler, Raffaele Bifulco, het my vroeër vanjaar gevra of hy en sy vrou ’n konsert kan aanbied by ons château. Ek moes dit ongelukkig toe van die hand wys, want ek het geweet die kasteel sou nie gereed wees daarvoor nie. Raffaele het egter nie van ons vergeet nie en het weer verlede week met my gesels. Ons het nou ’n datum neergepen in die dagboek vir volgende somer. Die klanke van barok, opera en klassieke musiek sal die soel naglug vul en ek dink die eeue oue mure gaan sommer saamsing.

Intussen duur die werk voort ten spyte van ’n paar snikhete dae. Ons het lafenis gaan soek in die koel woud een middag en nog mirabelle-pluime gepluk vir ’n tweede kooksel konfyt.

Die koel water van die meer het ons gelok op die dae waar die kwik tot 39 °C gestyg het. Die warm weer en die besoekers het ons aandag so bietjie afgelei van die werk, maar dit was welkome blaaskanse en sielverkwikkend.

Op die oomblik sing harde werk en ontspanning saam in perfekte harmonie en ons voel weer geesdriftig oor die take wat voorlê. Dis wonderlik wanneer besoekers verby die skade aan die kasteel kan kyk en dieselfde potensiaal en moontlikhede daarin kan raaksien as ons.

Die beste deel van hierdie ou plek is dat sy mense wêreldwyd bymekaar gebring het om haar restourasie dop te hou. Die morele ondersteuning en motivering kom uit verskillende lande en ons glo dit dra ons deur die dae wanneer die energievlakke begin taan.

Geloof maak dinge moontlik, maar vriendskap en liefde maak dinge maklik. Ons bou stadig na daardie crescendo wanneer mense haar nuutgevonde prag en praal sal toejuig. So baie mense speel ’n stuk in die simfonie wat die lied van haar toekoms besing: dié van ons wat hier woon, werk en kuier asook dié wat haar metamorfose van veraf aanmoedig.

Ek droom van daardie dag wat die note sal wegsterf in ’n diminuendo en ons juweel in stilte en vrede sal skitter onder die Franse son en in die skadu van die Pyrenees-berge.

Tot volgende keer! Salut!

Lees alle vorige rubrieke hier. 

  • Die rubriek het oorspronklik in die tydskrif rooirose en op hul webwerf verskyn en word nou op Maroela Media voortgesit. – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Hierdie mense se welverdiende geluk maak my hartseer vir die gemors wat in my eie land ontwikkel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.