Ons Franse Kasteel: Hou bene hou

Deur Sunita McDonald

ʼn Fietsrit om die wêreld begin met ʼn enkele trapslag op die pedaal, volgens die avonturier, Scott Stoll, wat op twee wiele befaamd geword het. Die verwesenliking van ʼn ideaal begin ook met die eerste paar stappe wat jy moet neem. Dit verg uithouvermoë om die eindbestemming van ʼn lang reis te bereik. Dié gedagtes het by my opgekom toe ons verlede naweek Tour de France gaan kyk het.

La Grande Boucle is ʼn bynaam vir die welbekende fietsresies en dit beteken “die groot lus”. Dit verwys wel na die lus in ʼn knoop, maar ek dink jy moet goed lus wees om fiets te ry as jy die bergpasse naby Château de Capelle met ʼn fiets wil aanpak. Ons het die oggend ʼn piekniekmandjie gepak en ons plek net buite die dorpie Aspet gaan inneem om die manne se geesdrif vir pedaaltrap in die Pireneë te aanskou.

Die atmosfeer was fantasties en dit was duidelik dat Tour de France een van die jaarlikse hoogtepunte in Frankryk is. Die vlotoptog het eerste verby gekom met musiek, geskenke en lekkers vir die kinders. Daarna het die beamptes, die media, fotograwe en filmspanne verby gekom en uiteindelik, die fietsryers. Die geluid van helikopters het soos reusehommelbye bokant ons koppe gedreun, maar kon nie die skare se gejuig uitdoof nie. Die fietsryers het sommer weer spoed opgetel met al die bemoedigende uitroepe van hul ondersteuners.

Met helms, sonbrille en die spoed waarmee hierdie manne beweeg het, was dit moeilik om ons eie Suid-Afrikaanse fietsryers uit te ken. Ek het darem ʼn paar foto’s van die span, NTT Pro Cycling, gekry en in my hart hulle aangemoedig: “Hou bene, hou!”. Oor ʼn paar dae kom Tour de France 2020 tot ʼn einde, maar hierdie manne het my herinner dat ʼn mens slegs met baie deursettingsvermoë die eindpunt kan behaal. Die ondersteuning van ander gee ʼn mens ook dikwels krag om aan te gaan en ons ervaar dit verseker in ons restourasiereis.

Die werk aan die kasteel het die afgelope paar weke op die oostelike vleuel van die gebou, naby die toring, gefokus. Ons aanvanklike plan in die deel was ʼn groot, gemaklike gastesuite vir familie en vriende om te kom kuier wanneer grense weer oopmaak.

Die deuropening na een van hierdie vertrekke was nouer as die ander en ons het by nadere inspeksie gevind dat die deuropening en ʼn ingeboude kas latere jare aangebring is. In die kas kon ons die deel van ʼn ou steenboog sien. Dit het gelyk asof die boog van die kas bokant die deur tot by die oorkantste muur strek. Ons het toe besluit om ʼn kans te waag en die dun muur af te breek om ʼn beter idee van die oorspronklike uitleg te kry. Dit was gou duidelik dat daar eens ʼn pragtige, wye steenboog as ingang na die vertrek was. Ons het besluit om dit te oop te maak en die eertydse ingang in sy volle glorie te herstel.

Enige taak wat slopings insluit, is bo-aan die lys van opwinding vir my seuns. Hulle geniet elke oomblik wat hulle saam met my man en die bouers aan die huis mag werk. Hulle was dolgelukkig om die puin bymekaar te skraap en in emmers by die trappe af te dra. Ek verwonder my aan hierdie bereidwilligheid, terwyl ek sukkel dat hulle net vuil kouse na die wasgoedmandjie toe moet dra.

Die sloop van die ou muur het ons aanvanklike planne vir ʼn private suite ietwat omvergewerp. Die lig het nou die gang binnegestroom en sou ons deure aanbring, sal dit beteken dat ons weer die nuutgevonde lig verloor. Na ʼn gewik en geweeg was ons steeds besluiteloos en het die lede van ons Facebook-groep geraadpleeg.

Hulle het met wonderlike idees vorendag gekom en op die ou end het ons besluit om die vertrek in die biblioteek te omskep. Die boog kan dan oopgelos word, want deure is nie nodig vir ʼn gemeenskaplike area nie. Die kasteel se oorspronklike biblioteek was in die toringkamer op die heel boonste verdieping. Ons het ʼn paar maande gelede die rakke in daardie vertrek verwyder en die ou pleister gestroop om die klipmure te onthul. In plaas van twee vertrekke aan die suidekant, gaan ons nou vertrekke aan weerskante van die gang in die gastevleuel omskep en die toringkamer op die middelvloer as badkamer. Oor die boonste toringkamer se toekomstige gebruik word steeds bespiegel, maar ons glo met tyd, kom raad.

Ek wonder egter nie meer oor geskikte meubels vir die kasteel nie. Ek beplan om alles tweedehands aan te skaf en my hande jeuk om te begin meubileer. Verlede week het ek ʼn mede-Suid-Afrikaner in Saint Gaudens ontmoet vir middagete en sy het my agterna ʼn winkel met die mooiste tweedehandse, antieke meubels gaan wys. Die feit dat hierdie winkel net 12 kilometer van ons voordeur af is, maak my projekbestuurder-man bekommerd dat die restourasie se begroting in gevaar is. Hy stres ook dat ek te veel tyd in die winkel sal verwyl om winskopies te probeer uitsnuffel.

Verlede Sondag het ons gesin wel die ure in ʼn ander spesiale plek verwyl. Gorges de la Save is ʼn pragtige kloof naby Château de Capelle en ons het gaan stap en in die koel rivier geswem. Soms moet ons ook briek aandraai en tyd vind om te rus. Ons sit Sondae opsy om te vergeet van die werk aan die kasteel en verkies om aan die restourasie van ons siele te werk. God se natuur is die beste plek om rus en vrede te vind en ons voel baie geseënd met soveel natuurskoon op ons drumpel.

Soms raak ek ongeduldig en moet myself herinner dat hierdie projek ʼn reis is en nie ʼn resies nie. Selfs een van die grootste fietswedrenne in die wêreld word oor 21 dae gery, voordat hulle die Champs-Élysées in Parys bereik en ʼn glas sjampanje op hul harde werk kan klink.

Ons bou aan die kasteel en ons bou aan herinneringe. Ons skuur mure en houtvloere. Ons verwyder, ons vervang, ons herstel en ons maak skoon. Soos die omwenteling wat elke trap op ʼn fietspedaal bring, so bring elke voltooide taak ʼn omwenteling in ons tuiste.

Hier word gewerk en gelewe. Hier beleef ons ʼn reis wat ervaringe daagliks op die bladsye van ons geheues skryf. Dankie aan elkeen wat deel is van die span wat ons toejuig. Eendag klink ons ʼn glasie sjampanje saam met julle op die einde van ʼn reis wat die deursettingsvermoë van ʼn resies nodig gehad het. Hou hande, hou!

Les meilleurs voeux de France. Met beste wense uit Frankryk.

Ps. Die rubriek sal voortaan slegs een maal per maand verskyn om my tyd te gun om, onder andere, in daardie winkel te gaan rondsnuffel.

Lees alle vorige rubrieke hier. 

  • Die rubriek het oorspronklik in die tydskrif rooirose en op hul webwerf verskyn en word nou op Maroela Media voortgesit. – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Kaptein67

Ek kan nie meer wag vir die eind produk nie. Ek volg julle restorasie van die begin af. Sterkte en bou so voort!!