Ons Franse kasteel: Joie de vivre

Deur Sunita McDonald

Bonjour á tous !

Augustus is die doodste en terselfdertyd die lewendigste maand in Frankryk. ʼn Haarkapper, tandarts of ander professionele persoon raak so skaars soos hoendertande in die middel van die somer. Jy sal dalk een by die naaste strand teëkom, maar hulle gaan nie onder hul sonsambreel uitkruip om jou tande te bestudeer of jou boskasie te tem nie. Augustus is vakansietyd. C’est août, c’est les vacances ! Dis tyd om te ontspan en die Franse beoefen hierdie ontspanning in alle erns.

Dié tyd van die jaar word ook gekenmerk deur talle feesvieringe. In ons dorpie het dit met ʼn vuurwerkvertoning afgeskop, die eerste naweek na Frankryk se nasionale dag. Ons het die verrigtinge langs die meer vanaf ons tuin dopgehou, aangesien ek en die kinders steeds in kwarantyn was na ons besoek aan Engeland. Die nuwe houtdek het egter aan ons voorry-sitplekke teen die hoogte verleen en ons kon die kleurvolle ontploffings vanaf ʼn veilige afstand geniet.

Die naweek daarna het die Fête Médiévale by ʼn Middeleeuse dorpie, Saint Bertrand de Comminges, naby die château plaasgevind en ons kon uiteindelik meedoen.

Die kinders het dit geniet om te sien hoe hoefysters gesmee word, meer oor medisinale kruie te leer en die akteurs se swaardgevegte gade te slaan. Die opvoerings was baie vermaaklik en die duisend jaar oue dorpie was die perfekte agtergrond vir al die ridders en dames in tradisionele drag.

Vakansietyd lok die toeriste na die Pirenese area. Hulle kom uit Parys, die noorde van Frankryk en selfs ander Europese lande om die warm weer in die suide te geniet. Plekke soos Montréjeau se swemmeer aan die onderkant van die château word dan besig.

As gevolg van Covid-19 geld meer reëls vir plekke waar skares saamdrom en dit was nie lank nie of ʼn banier het by die meer verskyn wat vereis het dat almal wat die strand wil besoek die pass de sanitaire of ʼn onlangse negatiewe PCR-toets moet kan wys. Die plaaslike inwoners was ongelukkig hiermee en het protes aangeteken. Drie dae later het die banier verdwyn en die strand was weer vir almal oop.

Met die strandjie besiger as ander maande het ons egter verkies om eerder op warm dae in die Garonne-rivier te gaan afkoel. Jy kan maklik van al die drama in die wêreld vergeet wanneer jy in die Franse platteland in die son sit en bak. Ons het sommer pieknieks in die middel van niks en nêrens op hooibale in die veld geniet. Ons moes slegs tydens ʼn besoek aan Bramvaque château met ʼn paar toeriste meeding om die pragtige uitsig van bo-af te bewonder.

Ten spyte van die ontspanning was dit nie heeltemal vir ons vakansietyd nie. Werk moes voortgaan. Daar is werk aan die een kaggel gedoen om te verseker dat dit aan die moderne reëls en regulasies voldoen.

Terwyl ons aan die skoorsteen gewerk het, het ons ʼn swaar ysterplaat aan die agterkant van die kaggel ontdek. Deur die dik laag roet kon ek ʼn prentjie daarop uitmaak en na ʼn goeie skrop blyk dit toe ʼn toneel van twee figure en diere te wees. Hierdie was weereens ʼn spesiale vonds en ons doen steeds navorsing om te sien of ons enigiets oor die figure en simboliek daarvan wyser kan word.

Ek het ook weer ter voorbereiding vir gaste ʼn slaapkamer geverf. Ons het in Augustus twee Suid-Afrikaanse families (wat in Engeland woon) hier verwelkom. Ek het hul vooraf gewaarsku dat dit vêr van vyfsterverblyf is en dat hulle met die stof sal moet meeding. Ons het saam gebraai, die kinders het lekker met die maatjies gespeel en daar is in Afrikaans gekuier. ʼn Geskenk van ProNutro en beskuit was ook ʼn hoogtepunt van hierdie kuier vir die kinders wat hul gunsteling- Suid-Afrikaanse eetgoed mis.

Gepraat van die kinders … My engeltjies het dit goedgedink om ʼn mini-oorlog te hou nadat hulle ʼn ontdekking onder die trappe in ʼn versteekte kas gemaak het. Terwyl ek besig was om die slaapkamer vir die gaste voor te berei, kon ek hulle hoor rondhardloop, gil en giggel. Ek het geglimlag en gedink wat ʼn wonderlike lewe die drietjies lei.

My glimlag het egter vir ʼn donderweeruitdrukking plek gemaak toe ek die bron van die pret ontdek! Stukke steenkool het in die gange en op die trappe gelê en die kinders het gelyk of hulle uit die kaggel se ou skoorsteen gekruip het! Elke kind is met ʼn skoppie toegerus (ons Franse werksmense ken ook teen hierdie tyd die woord “skoppie”) en hulle is aangesê om hul slagveld skoon te maak. Ek het hul goed geroskam oor die rondgooi van steenkool in die château, maar heimlik was die glimlag steeds in my hart terwyl ek in hul vuil, boetvaardige gesiggies gekyk het.

Ons eerste bestelling houtplanke het uiteindelik na maande se wag gearriveer. Die tweede bestelling is steeds nie beskikbaar nie. Siende dat daar steeds twee vertrekke sonder vloere is, vereis dit soms akrobatiese manewales om werk daar gedoen te kry. Om op die vloerbalke te balanseer wat sowat drie en ʼn half meter van die grond af is, is nie my gunstelingtydverdryf nie.

Dit was egter ʼn paar keer nodig om die balke aan te durf om posisies van nuwe muurproppe en ligte uit te wys. Ons het wonder bo wonder, siende dat dit Augustus is, ʼn elektrisiën gekry wat vir twee weke aan die ligte en muurproppe kon werk. Die château het nou elektrisiteit op die grondvloer en eerste verdieping. Die tweede verdieping en buiteligte moet nog gedoen word, maar die elektrisiën het nou eers sy welverdiende vakansie geneem terwyl ons die mure pleister waar nuwe kabels gelê is.

Verlede jaar het ons terracottateëls uit die soldervertrekke verwyder omdat die vloer in die solder reggemaak moes word. Ons het besluit om die teëls te stoor en later iets met hulle te doen. Die “iets” het toe in die vorm van die formele eetkamer se vloer gekom. Ons het honderde teëls skoongemaak om hier te lê; eers ou sement en gom weggebeitel en daarna die oppervlakte van die teëls geskrop. Dit was ʼn familieprojek, want die kinders het die eerste paar dae gretig ingespring om te help. Dit het egter nie as ʼn familieprojek geëindig nie …

Andrew moes weer Engeland toe gaan vir werk, so ek het die kort lootjie getrek en moes die laaste teëls (ongeveer tweehonderd) op my eie skoonmaak en indra. Die teëls is handgemaak, heel waarskynlik honderde jare oud en elke teël is uniek. Ten spyte daarvan dat dit ʼn taak is wat na die soveelste skropsessie erg vervelig kan word, het die afwagting om te sien hoe die volgende een gaan lyk my aan die gang gehou.

Die hoop het nie beskaam nie. Ons het twee baie spesiale teëls in die massas ontdek. Een blyk of dit ʼn kwart van ʼn sonwyser of die afdruk van ʼn skulp op het. Die skulp is ʼn simbool van die Camino de Santiago-roete. Blykbaar het Middeleeuse pelgrims so ʼn skulp aan hul mantels of hoede gedra wanneer hul die pelgrimstog na die katedraal van Santiago de Compostela in Spanje onderneem het. Een van hierdie roetes gaan net 8 km van Château de Capelle af verby, so dit is moontlik dat die persoon of persone wat die teëls gemaak het, dit as ʼn gepaste simbool gesien het.

Die ander teël het ʼn afdruk van twee sleutels wat kruis. Dit is ʼn simbool wat na Petrus, die dissipel van Jesus, verwys. In die Evangelie volgens Mattheus sê Jesus aan Petrus: “En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.” Oor die eeue het die twee sleutels wat kruis die simbool van Petrus en die sleutels van die hemel geword. Dit kan ook in die skild van die Vatikaanse stad gesien word. Ons het talle ou Katolieke traktaatjies, boeke en simboliek sedert ons intrek in die kasteel ontdek. Ons vermoed dus dat Baron de Sauvan en sy familie prominente lede van die Rooms Katolieke Kerk was.

In die kasteel se tuin is daar subtiele tekens dat somer einde se kant toe begin staan, ten spyte van die goeie weer wat ons tot nou toe geniet het. Die groentetuin het nie hierdie jaar soveel aandag ontvang as wat ek beplan het nie, maar ons het steeds ʼn weeklikse opbrengs van tamaties, soetrissies, eiervrug, murgpampoentjies en ʼn paar ander groentes en kruie.

Hierdie somer het ons meer by ons gemeenskap betrokke geraak. Ons het saam met plaaslike mense die tennisbane oorkant die château se rylaan skoongemaak en die burgemeester het ingestem om dit te restoureer. Ons hoop dit kan tot voordeel van ons en die dorp se kinders wees om die eens verwaarloosde tennisbane weer te kan benut. Die dorp se inwoners is baie opgewonde oor die restourasie wat ons hier begin het en dit blyk dat entoesiasme aansteeklik is.

Tydens die onlangse Journée des Associations het ons ʼn klomp mense in die dorp ontmoet, onder andere lede van die Historiese Vereniging. Een man het ʼn passie vir die château en wou dit self ʼn paar jaar gelede gekoop het. Ons het hom genooi om te kom kuier en sien uit om meer van die château se geskiedenis te ontsluit.

Ten spyte van die uitdagings, harde werk en stompgewerkte vingers ervaar ons joie de vivre (die vreugde van die lewe) in ons hoekie van Frankryk. Dis ʼn restourasiereis, dis ʼn ontdekkingstog, maar meeste van alles is dit ʼn leerskool. Ek bid dat ons nooit ons passie vir hierdie plek en sy mense verloor nie en dat elke dag ons nader aan die verwesenliking van die drome wat ons vir Château de Capelle het sal bring.

Tot volgende keer, met liefde uit Frankryk.

Lees alle vorige rubrieke hier. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

FM ·

Heerlik verby.

Ek geniet jou briewe en stukkies inligting. Net miskien, wie weet, mag ek eendag jul kasteel besoek.

Suid-Afrika sal nooit uit my boerebloed kan skeur nie, ongeag ons minder lekker omstandighede is ek boorling van Afrika.

Net soms droom ek.

Ek kyk uit na jou briewe.

FM ·

Baie dankie vir die heerlike, langverwagte, interessante brief.

Ek kuier in gedagte daar by julle en geniet al die ontdekkings.

Sien soos altyd uit na jou volgende brief.

Mooi bly en geniet daardie harde werk.

chateaudecapelle ·

Baie dankie en ek hoop jy kan eendag regtig kom kuier. Tot dan kuier ons maar so oor die Internet. Groete uit Frankryk :)

Filistyn ·

Wow. Ek gee my beste voortand in ruil vir julle ervaring.

Baie dankie vir die deel daarvan, ek sien werklik uit na jou volgende skrywe.

Beste wense vir jou en jou gesin.

chateaudecapelle ·

Baie dankie. En hou daardie voortande – jy sal hulle nodig hê om croissants hier te eet eendag :) Groete.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.