Ons Franse kasteel – ‘n kommapunt

Deur Sunita McDonald

Sunita McDonald saam met haar man en kinders.

Bonjour !

Een van die dinge wat ek geleer het oor die geskrewe taal in Frans is dat ’n spasie geplaas word aan die einde van ’n sin tussen die laaste woord en ’n uitroepteken of vraagteken. Ek het hierdie taalreël nog nie in ander tale teëgekom nie, so ek vind dit interessant. Dit geld nie vir die punt aan die einde van ’n sin nie, maar wel ook vir ander leestekens soos dubbelpunte, kommapunte en die persentasie simbool waar dié leestekens voorkom.

In Frankryk het die lente ook ’n kommapunt beleef; die aarde het vir ’n oomblik stilgestaan en asem geskep vir die volgende deel. Die warm, vriendelike seisoen het ’n identiteitskrisis beleef met koue temperature wat heeltemal uit karakter was. Om alles te kroon, het die winter se droogte voortgeduur in die Occitanie-gebied waar ons woon. Almal het ongeduldig op die lentereën gewag. Die boere het gekla oor die ongewone weer vir dié tyd van die jaar en gemor dat die natuur saam met die wêreld sukkel om na normaal terug te keer.

Ná ’n kortstondige droogte het die April-reëns uiteindelik die dorre aarde kom deurdrenk en saaityd ingelei. Ons het kort daarna saad en jong plante in die bewerkte grond van ons potager (groentetuin) geplant. As jy werklik wil integreer met die plattelandse lewe in Frankryk, moet jy seker maak dat jy in die somer ’n verskeidenheid groente in jou tuin het. Wanneer Madame Bertrand of Monsieur Larmont vir jou courgettes uit hul tuine bring (almal het altyd ’n kleinhuisie vol courgettes) moet jy ten minste ’n paar tamaties of uie op jou beurt kan aanbied. Dis natuurlik die belangrikste bestanddele vir ratatouille!

Hier word alles organies gekweek en die vriendelike man by wie ek plante gaan aankoop het, het vir my baie raad gegee. Ten spyte van hordes slakke wat so graag die teer, jong plantjies opvreet, spuit niemand gif nie. Eierdoppe, koffie en gesnyde gras rondom die plantjies word aanbeveel en blyk tot dusver suksesvol te wees.

Aan gras is daar nooit ’n tekort nie. Ons het vir ’n lang ruk die gras wild laat groei, want ons het nog nie ’n grassnyer aangeskaf nie. Ons het uiteindelik hulp ingeroep toe ons nie meer die kinders in die lang gras kon vind nie. Nie ’n soekgeselskap nie, maar ’n vriend met ’n trekker. Die trekker het een oggend brullend opgedaag en korte mette van die lang gras gemaak. Alles groei egter teen die spoed van wit lig in die somer, so ons neuse is op die oomblik gedurig in katalogusse en brosjures om ’n geskikte grassnyer-trekker uit te snuffel.

Die vloer wat ons verlede maand weens die houtvretergoggas moes uithaal, is met nuwe vloerbalke en vloerborde vervang. Ek het vir die eerste keer in my lewe ’n saagmeule besoek om nuwe houtplanke te bestel. Die reuk van hout het swaar in die lug gehang en dit was ’n miernes van bedrywighede. Groot boomstompe is deur ’n klamphyser na ’n area vervoer waar ’n groot elektriese saag deur die stompe gly. Van daar af het werkers dit kom optel en verder met die hand gemeet en gesaag. Ons wag nou vir die nuwe eikehoutplanke om te arriveer alvorens ons die vloer kan klaarmaak.

Die vloere was nie die enigste slopingswerk in die kasteel hierdie maand nie. Ons werk op die oomblik aan die kinders se badkamer in die hoofdeel van die château. Die ou plafon is verwyder wat ’n stowwerige, vuil taak was en daarna is die nuwe plafon ingesit. Om met my hande bokant my kop op ’n hoë boustellasie te werk het vir my duiselingwekkend geklink. My man en ’n werker het dus dié taak aangepak en ek het ’n skopgraaf gegryp en eerder die puin op die vloer opgeruim.

Dis is darem nie net heeltyd harde werk nie, ons maak ook tyd vir blaaskanse. Ons het ons eerste braai aan die onderkant van die kasteel se tuin gehad. Tussen die reuse-eike het die reuk van saucisse de Toulouse (die naaste wat ek aan boerewors kan vind) ons honger aangewakker. Dit was ’n lekker aandete in die lang skaduwees wat die sakkende son vir oulaas kom optower het en agterna het ons malvalekkers op die oorblywende kole gebraai. Sonsondergang is tans so teen nege-uur in die aand en dit is ’n betowerende tyd van die dag. Die kasteel se woud eggo met die voëls wat mekaar nagsê, voordat ’n stilte uiteindelik oor die ou château en tuin daal. Dan kom die sterre te voorskyn wat stil bokant die toring kom skitter. Dis altyd ’n magiese oomblik ná die geraas en gewoel van ’n dag se werk.

Mei is die maand vir verjaarsdae in ons huis – ons vier al drie ons kinders se spesiale dae hierdie maand. Daar is dus heel moontlik ’n kommapunt vir restourasiewerk oor die volgende paar weke. Vir my dogtertjie se vierde verjaarsdag het ons die strand by Saint Jean de Luz en twee ander nabygeleë strande besoek. Die Atlantiese Oseaan en die berge het beelde van ons eie Weskus in Suid-Afrika opgeroep. Dit was ’n heerlike dag met son, sand en see en ek was dankbaar vir die gevoel van normaliteit ná die grendeltyd-verjaarsdag verlede jaar.

In Frankryk begin alle besighede om weer stelselmatig oop te maak. Alhoewel daar tans geen beperking is op die afstand wat jy van die huis af mag reis nie, is daar steeds ’n aandklokreël en jy moet teen seweuur tuis wees. Vanaf 19 Mei sal dit moontlik wees om weer in restaurante bymekaar te kom en my seuntjie wil graag gaan uiteet vir sy verjaarsdag. Hierdie jaar sal dit ekstra spesiaal wees om ’n verjaarsdag in ’n restaurant te kan vier.

My pa verjaar ook hierdie maand en ek gaan nie sy 70 ste verjaarsdagvieringe in Suid-Afrika kan bywoon nie. Destyds, toe ek vir die eerste keer op die vliegtuig geklim het, het my pa vir my ’n gedig geskryf en gegee. Die gedig se naam is “Sterretjie” en is een van die kosbaarste geskenke wat my pa my ooit gegee het. Hierdie jaar gaan sy “sterretjie” skitter in haar afwesigheid en my hart voel swaar. Wanneer ek na die helder sterre in die château se tuin kyk, dink ek aan sy gedig en dit troos my om te weet dat ons wel onder dieselfde hemelruim slaap. Daar sal ’n tyd wees wanneer ons weer bymekaar sal kan wees. Ek glo dit met my hele hart.

Intussen blom die Wisterias en die tuimelende bloeisels lok die bye en skoenlappers. Die besige gezoem van die bye, die warm son op my gesig, die soet reuk van bloeisels en die vooruitsig van beperkings wat binnekort afgeskaf word, bring ’n gevoel van afwagting vir die toekoms. Miskien kan ons uiteindelik die brug oorsteek na die ander kant, miskien kan ons die volgende stansa van die lewe aanpak ná ’n kommapunt. Miskien kan ons binnekort weer reis en tyd saam met geliefdes spandeer om verjaarsdae te vier, saam te kuier, saam te lag en saam te droom.

Hierdie hoofstuk van ons storie word opgedra aan die man wat baie mense al beskryf het as ’n dromer: my pa. My pa het my geleer dat dit goed is om te droom, dat dit harde werk verg om drome waar te maak. Alles begin met ’n droom – so droom groot!

Que tous tes rêves deviennent réalité ! Mag al jou drome waar word.

Lees alle vorige rubrieke hier. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ysgodin ·

Ek verslind altyd elke woord van jou vertelling, en sien altyd uit na die volgende artikel!

chateaudecapelle ·

Baie dankie, ek waardeer die lees en saam kuier so van ver af x

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.